Monday, August 24, 2015

Aigina. Afskeid.



24 Augustus 2015. Maandag.

My seun Gerrit verjaar vandag. Baie geluk Gerrit. Dankie, dat jy ons huis so mooi oppas terwyl ons weg is.

Vandag is dit die groot koebaai. Chris en Zane verlaat ons vandag. Hulle drink kapteinskoffie en saal op vir die stap na die hawe waar hulle die veerboot kry. Ons groet en 08:00 vertrek hulle met die Vlieënde  Dolfyn na Athene, waar hulle vandag en môre die antieke stad gaan verken.

Saal op
Op pad na veerboot
Waar's die veerboot
Gaan aan boord
Daar trek hulle


Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. En daar gaan hulle en los vir my en Archie alleen agter.

Ons gaan koop toe maar pistachio neute, want Aigina is bekend vir sy neute. Die hele eiland is vol pistachio neute wat in drag is.


Pistachio neute aan die boom


Terug by Maja is daar geen vervelige oomblik nie. ’n Man probeer by ’n “no anchor”plek inkom. Hy wil-wil sy anker dwarsoor ons anker gooi. Archie skree saggies op hom en hy gooi ons anker mis. Dis ’n benoude spasie waar hy ook skerp moet draai en Gus waai sy boot skeef., Hy begin vorentoe ry met sy anker wat in die water is. Ons hoor en voel hoe sy ankerketting oor ons s’n trek en ons anker ruk en pluk. Archie skree harder op hom en ek skree die hardste. Hy luister na ons en vaar agteruit. Ons anker lyk nog veilig.

Hy probeer sy anker optrek, maar o wee! Hy sukkel! Sy anker het vasgehaak aan dieselfde vasmeerketting  waaraan ons verlede jaar vasgehaak het. Hulle praat Frans en hulle sukkel. Archie verduidelik vir hulle en demonstreer met ’n tou wat hulle moet doen om los te kom. Na nog ’n gesukkel is hulle los en kies die hasepad uit die hawe.

Sukkel met anker
Gee leiding

Later die middag sien ons Maja waai teen die kaai. Die Franse het seker ons anker versteur en noudat Gus van voor af waai, waai ons teen die kaai. Archie trek die anker in. Eers op 15m byt dit weer. Het, het 10m ketting ingetrek. Dis maar min ketting wat ons op die bodem het. Ons hoop maar vir die beste.


No comments:

Post a Comment