25 Augustus 2015. Dinsdag.
![]() |
Aigina tot Dorousa |
Alleen leen leen. Zane en Chris is weg en ons is alleen leen leen. Maja is leeg. Die kajuite is leeg. Maar die lewe gaan aan en ons trek die anker op en weg is ons na Dorousa, 37°40.774 N, 23°19.519 O, 8.2 myl.
Ons seil eers in vlak water na
Megalochori, maar daar is nie plek vir ’n muis nie en ons seil verder. Waar is
Chris nou, want Gus waai te lekker en die genoa bol in die wind. Ons seil tot
by Dorousa Baai waar ons gaan anker met ’n lang landlyn. Dis mos nou die tipe
anker waarvan ek nie hou nie.
Op pad na Dorousa |
Archie kry die plek en tru in
terwyl ek die anker gooi. Toe ons naby genoeg aan die land is, neem ek my plek
agter die helm in en Archie swem die toue land toe om Maja aan die rotse vas te
maak. Dit is eintlik so maklik vandag. So met die duikslag val Archie se
swembroek amper af en ek en die twee manlike toeskouers van die motorboot
langsaan lag te lekker vir die glims van die twee wiitte boudjies.
Die water in die baai is besonder
turkoois en ons swem heerlik. Waar is ou Zane nou! Sy sou so lekker hier geswem
het.
Boomryke landskap |
Nog ’n dag is verby op Maja in
die Saroniese See en die skemer daal met die vol wordende maan wat aan die hemel
hang en genoeg lig gee dat die landskap sag en vriendelik lyk.
No comments:
Post a Comment