Sunday, August 16, 2015

Kythnos Eiland. St. Stefano.

16 Augustus 2015. Sondag.

Foinikas tot St Stefano

Weer ’n dag van 21 myl. Ons gaan na Kythnos Eiland, na Foinikas, 37°23.751 N, 24°27.492 O. Die see is ’n spieël en Gus lê êrens en slaap. Maja prrr weer ritmies en ons kom myl vir myl stadig maar seker nader aan Kythnos. Dis deinserig en die eiland kruip weg in die mistigheid. 

Foinikas vroegoggend
Bespreek die roete


Zane is lus vir swem. En daar stop ons en swem in 230m water. Zane maak eers seker dat daar nie haaie is nie en toe waai haar rok en in is sy. Ons almal volg haar voorbeeld. Hemel, maar dit is lekker. Die water is blou en diep. Ons swem en lag van plesier. Dis so verdomp lekker om in die diepsee te swem. Elize sou vreeslik daarvan gehou het.

Toe begin die pret. Chris en Zane speel soos kinders met die Dinkie. Hulle hou aan haar vas en Archie sleep hulle agter aan Maja. Ek hou aan die leer vas, maar my bikini broekie wil verloor en ek laat los. Dis nou behoorlik diepsee kaskenades op hulle beste. Na die heerlike swem is dit weer die ritmiese geprrr van Maja.

Baljaar in die water
Neptinus en sy kinders


’n Veerboot kom op ons afgepyl en gaan agter ons verby. Bietjies te naby, maar heel veilig. Ons vaar in sy golwe en Maja gaan op en af en op. 

Kerkie by ingang


Voor ons lê St Stefano. Ons vaar in en Chris gooi anker. Die bodem is vol seegras en die anker sleep. Ons gooi weer en die keer byt die anker stewig en ons is vas. Almal, behalwe die hardwerkende kaptein, knip eers ’n uiltjie op die Griekse manier. Later word die een na die ander lui-lui wakker. Ons wil ons darem ook nie ooreis nie.

Zane en Chris gaan land toe en ek en ou Arch werk. Ons doen die blog. Dit is ’n voltydse werk. So tussen deur die gewerk koel ons eers af in die see. Dan werk ons weer. Zane en Chris kom terug en ons drink ons skemerkelkies op die dek en later eet ons calamari, aartappels en slaai.

Nog ’n dag kom tot ’n end en word in ons geheue weggebêre vir latere onthou.

Syros. Foinikas.



15 Augustus 2015. Saterdag.

Ormos Ornos tot Foinikas

Elke dag ’n ander eiland. Elke dag ’n ander ervaring. Vandag is dit Syros Eiland en ons gaan na Foinikas, 37°23.789 N, 24°52.762 O, weer ’n vêr pad, 26 myl. Gus is nêrens nie en ons vaar plat water. Maja prrr ritmies voort en ons kom nader en nader aan ons nuwe bestemming. Dis ’n groot baai en daar is plek vir almal. Die anker byt pragtig en ons is tevrede.


Oggend wolke
Kaptein Arch


Toe gaan ons dorp toe. Ons gaan mos altyd dorp toe. Ons is al vier in die kleine Dinkie en dreig om te sink, maar ons kom darem veilig aan land. Ons wag vir die bus en klim die bus na Ermoupolis. Elize het verlede jaar gesê die dorp is soos fyn kant.

Die busrit is heerlik. Ons ry in landelike Griekeland, tussen die landjies, diere en plaaserige huise. En toe is ons in Ermoupolis. Dis eintlik ’n openbare vakansiedag in Griekeland en die meeste winkels is toe. Dis die fees van die Maagd Maria. Dit is doodstil in die dorp. Elize sal dit nie glo nie. Geen mense. Die plein is verlate. Dit is net ons. 

Ermoupolis


Ons stap boontoe na die kerk op die bult. Dis trappies op en nog trappies op. Dit is warm en ons sweet die pad op. Maar die kerk en die uitsig is absoluut die moeite werd. Die kerk is sowaar oop en ons gaan is. Daar is ’n gewyde stilte in die kerk en ons loop en beskou die kerk waar jy die Roomse invloed nog duidelik kan sien. Ek is vir seker ’n kerkmens, want ek geniet dit ongelooflik baie om in die kerke in te gaan. 

Dors les
Kerk op die berg
Arch en die kerkmens
Kerk in die stad
Uitsig oor die hawe


Die terugtog begin en dit is toe weer af en af en af, terug na die kaai. Ons kyk hoe wip die bote wat vasgemeer is as die groot veerbote inkom en dink terug aan verlede jaar toe Maja so gehop het. Maja het lelike skade opgedoen. Ons moes nuwe vasmeertoue koop en Archie moes die fairlead regmaak wat gebreek het. Dis baie jammer dat die hawe so is, want Ermoupolis is ’n pragtige plek. 


Ermoupolis
Stadsaal


Ons koop ’n paar geskenkies by die oop winkel en stap terug na die bushalte. Chris sou graag oop winkels wou hê, want hy is lus vir koop.

Ons kom tevrede na die dag se wedervaringe by Maja aan en daai water lok ons sweetlywe in. Dis koel in die laataand en ons vervang sweet met sout. Ons spoel darem die soutwater af en toe is ons skoon.

Zane en Chris maak kos en ons eet heerlik aan gebasterde bief stroganoff wat met varkvleis gemaak is. Heerlik.

Saturday, August 15, 2015

Mykonos. Ormos Ornos.



14 Augustus 2015. Vrydag.

Naxos tot Ormos Ornos, Mykonos


Mykonos! O, Myknos! Almal weet van Mykonos. Daarom gaan ons soontoe, want die gaste wil die bekende Mykonos sien en beleef. Dis 20 myl tot by Mykonos en ons gaan in Ormos Ornos, 37°25.195 N, 25°19.445 O, anker gooi.

Dit is ’n groot, besige baai. Baie luukse jagte anker hier en dinghies vol mense word heen en weer gejaag na en van die land. Hier het mens geen rus of duurte vir jou siel nie. Dis ook nie lank nie of ons gaan ook land toe met Dinkie. Zane en Chris stap die stuk pad na Mykonos en ek en Archie klim die bus. Ons ry ’n interessante busroete met ’n paar ompaaie na Mykonos. Dis vreeslik bevolk en Mykonos is nie wat hy moet wees nie. Dis verbasend watter verskil die gebrek aan sonlig aan die dorp maak. 

Op pad na Mykonos


Ons stap na Little Venice. Daar is ’n klomp restaurante langs die see en ons gaan sit om vir my ’n Freddo Expresso te bestel. Die kelnerin sê ons mag nie daar sit as ons elkeen nie €5 spandeer nie. Ons staan maar weer op en bestel vir my ’n wegneem koffie en ek drink dit so in die loop. Die tafel en stoele wat verlede jaar hier gestaan het, is nog steeds hier en ons poseer by die tafeltjie. Ons loop maar voordat hulle ons weer wil wegjaag.

Zané en Chris
Little Venice


Daarna vat ons die pad na die windmeulens toe. Dit staan hoog en trots en spierwit teen die heuwel. Ek weet nie of hulle nog kan draai nie. Maar dit maak nie saak nie, hulle is baie mooi en ’n landmerk van Mykonos. 

Windmeulens
Witgekalkte kerkie


Ek koop vir my ’n goedkoop ring. Zane kyk ook na ’n ring, maar die ou ringetjie kos toe maar net R65 000. Duur smaak wat die vroutjie het. Ons raak toe later moeg vir die bekende Mykonos en stap terug na ons baai. Ons al vier is dit eens – ons hou baie meer van Naxos as van Mykonos.


Friday, August 14, 2015

Naxos

13 Augustus 2015. Donderdag.

Na ’n lekker slaap, lig ons die anker en begin die 22 myl vaart na Naxos, 37°06.279 N, 25°22.484 O. Ons vaar en probeer seil en vaar weer. En toe is ons in Naxos. 

Naxos


Ons is van die gelukkiges wat ’n vasmeerplek in die marina kry. Ek moet die snoettou so van ’n ander boot afhaak met die boothoek. Maja trek skeef en almal moet afstoot en help, maar ons maak vas. Chris sê dit help om kalm te bly.

Cold beverages is toe aan die orde van die dag en dit word geskink en gedrink. Te lekker. Zane en Chris trek dadelik hulle dorpskoene aan en gaan dorp toe. Later toe ons dorp toe gaan, loop ons hulle raak en stap saam verder. 
I ride my bicycle ...
Taverna Vassilis


Archie besluit ons moet ’n sundowner op die heuwel by die oorblyfsel van Apollo se tempel gaan drink. Ek en Zane stap solank soontoe en die mans gaan koop internet. Ons sal mekaar by die tempel kry. En ons wag. Die son sak oranje in die weste. En ons wag. Die son sak nog laer. En ons wag. Die son gaan romanties onder sonder dat my ou Arch daar is om die oomblik met my te deel. Toe die son heeltemal gesak het, kom die twee daar aan. 

Tempel van Apollo


Ons drink toe behoorlik sundowners, want daai sun is verseker toe down. Dit demp egter nie ons gemoedere nie en ons geniet die vroegaand op die heuwel terwyl die skemerte op ons toesak.

Sonsondergang

Thursday, August 13, 2015

Despotiko. Anker.




12 Augustus 2015. Woensdag. 

Ios tot Despotiko Baai

Dis vandag Chris en Zane se nooiensvaart. Alles word reggekry. Instruksies word gegee, toue word losgemaak en daar vertrek ons na Despotiko Eiland,36°58.298 N, 25°01.453 O, 21 myl. Dis ’n klein eiland naby Antiparos. Die see is plat en daar is nie wind nie.

Chris is baie terleurgesteld oor die windstilte. Hy wil baie graag seil. Later waai Gus so vier tot sewe knope en hulle span die seile. Ons seil toe nogal lekker lank.

Despotiko Baai is ’n groot en geduldige baai. Dit is soos ’n taxi in Suid-Afrika. Daar is altyd plek vir nog een. Ons gooi maklik anker en vas is ons. Die water is heerlik en ons swem om af te koel.

Despotiko Baai
Despotiko
Archie demonstreer
Lekker swem


Toe is dit sukke tyd. Die Jouberts kan baie mooi sing, soos engele. En Archie gee hulle goeie kompetisie en dis sangaand. El lê vir hulle en luister, sing nie saam nie. Archie het hoeka mos my verbied om te sing. Glo te vals. Maar ek gee nie om nie. Dit is heerlik om na hulle mooi stemme wat die hele baai vul, te luister.

Boetie en sussie


Nog ’n dag is verby in die Aegean See. Die Cyclades behandel ons baie goed.

Wednesday, August 12, 2015

Terug na Ios.



11 Augustus 2015. 
 
Ons ou karretjie neem ons hawe toe. Ons los hom in die parkeerterrein met die sleutel onder die mat en stap na ons veerboot toe. Dis dieselfde ou grote waarmee Gerrie en Ansu verlede jaar na Santorini toe gekom het. Ons terugvaart neem een en ’n halfuur en ons is terug in Ios. 

Op die veerboot


Die besoekers stap voor, want hulle moet vir Maja uitken. Hulle kyk en skielik gee Zané ’n “hier is Maja” gilletjie. Chris stap eerste aan wal en daarna Zané. Toe is hulle uiteindelik aan boord. Hulle bekyk vir Maja en pak uit. Ons nuttig ’n welkom-ete op die dek. 

Chris kom aan boord ...
... en toe Zané


En soos gewoonlik gaan ons dorp toe. Die ander drie loop en ek klim sommer die bus boontoe . Ons stap in die dorpie rond en kyk na die vier kerke. Die Christene loop verseker die smal pad boontoe om by die kerk uit te kom. Ek weet nie hoekom moet die kerke altyd op die hoogste punt gebou word die! Die uitsig oor die baai is mooi en doer onder in die verte kan ons vir Maja rustig by die kaai sien lê. Die veerbote kom en gaan. 


Kerkie
Blou koepels
"Annie get your gun"
Pre-histories dorp van Skarkos


Ons gaan terug, weer klim ek die bus en die ander drie stap die afpad. Ek kom by Maja aan en probeer die plank wat op die kaai lê, op Maja te kry om aan boord te gaan. Die ou blerrie plank is swaer en ek sukkel. ’n Galante hawe polisieman kom en vra of hy kan help. Hy tel die plank op en sit dit op en wag dat ek oorloop voordat hy loop. Net daarna kom die res en ons is weer voltallig op onse kleine Maja. 

Eerste aandete