Monday, June 22, 2015

Kaş. Büçak Deniz – Drie-anker Baai.



22 Junie 2015. Maandag.

Yesilköy tot Buçak Deniz

Ons laat nog ’n baai agter en sit ons reis voort na die volgende bestemming, Büçak Deniz, 36°12.106 N, 29°37.942 O, 15.5 myl. Dis by die Kaş Marina. 

Ons vaar uit die baai


Ons vaar die meeste van die tyd. Deur diep water en dan ook skielik, deur vlak water. Dit laat mens skrik as jy deur water vaar wat die dieptemeter nie eers kan lees nie omdat dit te diep is en die volgende oomblik sien jy die bodem op 18 m. Dit laat nogal jou hart vinniger klop. En dis nie so op die kaart aangeteken nie. Twee keer het dit ons oorgekom vandag.

Ons probeer seil met ou Gus van agter, maar gee later moed op, omdat hy direk van agter waai. Die berge in die omgewing is dor en hoog en droog. Die see wieg-wieg vir Maja. Soos ’n wiegelied.

Kuspad
Büçak Deniz


Ons wil anker in die baai waar die marina is en soek plek. Ek moet sê, dit lyk nie regtig soos ideale ankerplek nie. Ons sal maar anker en ’n tou land toe vat. Archie tru en ek gooi. Dit lyk of die anker sleep en ek trek op. Met moeite, hoor. Ou Archie sê dit lyk of die anker goed gebyt het soos wat ek sukkel. Ja manne, ek het stilweg ook ’n matrooswoordjie gesê. Ek roep die kaptein dat hy moet kom ingryp. Hy kry ook nie die anker op nie. En dit moet al los in die water hang, want die 10m merk is sigbaar en die water  is 14m diep!

Ek neem stelling agter die helm in om die diepte dop te hou. Archie gebruik nie die ankermotor nie, want ons het iets hier beet. Hy werk die ankerkatrol met so ’n pypding met die hand en dan kom die ketting baie stadig maar seker op sonder om die ankermotor te gebruik. Wat de moer het ons hier beet? Toe kom die seemonster te voorskyn. 

Seemonster van die diep


Aan ons anker hang ’n tou met ’n ou groot, geroeste vissermansanker en nog ’n ketting met klein Danforth anker. Gelukkig is dit nie ’n sementblok nie!

Drie-anker Baai


Nou is dit “operasie losmaak”. Archie gebruik die boothaak en toue om die gedoente los te maak sonder om die ketting, tou en ankers in die see te laat val. Die vissermansanker word terug aan die see geskenk en die kaptein red die res. Michelle sou sê: ”Dis baie treasures wat oom Archie gekry het”. Dit word in Dinkie gelaai en Archie red die 25m baie goeie tou en 10m ankerketting wat dieselfde grootte as ons ketting is. Inderdaad skatte. Hy gaan sit die klein anker op die land dat iemand dit kan vind. Ons wil dit nie hê nie.

Archie se "treasures"


Toe anker ons maar weer, amper te naby aan die land, neem ’n tou land toe en maak vas. Ek dink skielik wat so ’n aantreklike Hollander eendag, toe ons ankers oormekaar was en ons so gesukkel het, vir my gesê het: ”Sailing is such fun!” Ek weet nie nie van die “fun” nie, maar daar is “never a dull moment”

Ek maak lamskenkel, maar dis nie so lekker soos die Megri restaurant in Fethiye s’n nie.

Lamskenkel

Sunday, June 21, 2015

Kalkan. Yesilköy Limani.



21 Junie 2015. Sondag.

Gemiler tot Yesilköy Limani

Feestelike Vadersdag vir al die vaders in hul Vaderland.

Ons vertrek vroeg, 07:00, na Yesilköy Limani, 36°15.661 N,  29°22.123 O, 29.6 myl. Die baai is naby die dorpie, Kalkan.

Die see is omgekrap. Duisende deinings dein op en neer, heen en weer, keer op keer. En ons dein saam. Ons vaar vandag verby Sewe Kape. Die see kan hier moeilik raak as Gus sterk waai. Gelukkig waai Gus net liggies. Die boek sê jy moet vroeg begin vaar sodat jy verby die stuk see is as Gus teen die middag sterker begin waai.

Al die jagte op die water vaar kantel-kantel voort. Die son skyn op een jag se maste en dit lyk of hy ’n gloed van ligte het.

Magiese maste


Later span ons die genoa, want daar is ’n lekker ligte wind van skuins agter. Ons motorseil aanhoudend, vorentoe, altyd vorentoe. Na ’n ewigheid en ’n half kom ons by die baai aan. Ons word begroet deur twee vlieënde visse wat soos wind oor die water vlieg. Ja, Leon en Dirk, Archie het dit ook gesien! Later, nadat ons veilig geanker het, swem Skillie so ewe by ons verby. Dan is die koppie uit die water, dan weer onder die water.

Naby Yesilköy


Sewe jagte staan vanaand hier geanker in die baai.

Gemiler. Uiteindelik!




20 Junie 2015. Saterdag.

Fethiye tot Gemiler

Gister het ons Suid-Afrikaners in Fethiye ontmoet. Andreas en Miranda het langs ons kom stop, terwyl Archie in die reën vir Maja gewas het. Hulle het gou oorgekom om roetebesprekings te doen. Toe het ons die marina verlaat en in die baai van Fethiye gaan anker. Ons wou net bietjie uitrus voordat ons die res van die reis aanpak.

Toe kry ons die epos van Neil van Rensburg. Hulle is by Karacaören, naby Gemiler. Ons moet hulle daar ontmoet vir ’n braai op hulle seiljag, Wilson. Uiteindelik gaan ons weer ons Suid-Afrikaanse vriend wat ons in Kuşadasi ontmoet het, sien. Sy vrou Sandi, het ook by hom aangesluit en ons sien baie uit daarna om haar te ontmoet.

Ons vat die 15 myl pad terug na Gemiler. En wat sien ons toe by Leon se gunsteling eiland!? ’n Suid-Afrikaanse vlaggie wat wapper! Ons kry plek langs hulle. Voor ons behoorlik kan groet, is dit eers die gewone werk van ’n seiler om sy jag veilig vas te kry.

Parasailing


Ons daag die aand 19:00 soos afgespreek in Dinkie daar op. Kaalvoet en Archie het tot sy hare geborsel. En toe begin die groot kuier. Dis heerlik, vier Suid-Afrikaners wat lag en gesels op die jag.

Archie, ek, Sandi en Neil
Praat land en sand
Ontspanne Archie
Uitgevat


Neil brou vir ons lamskenkel in sy Weber. As bykos braai hy, weggesteek in foelie, soetpatats en aartappels. Rooi en groen pepers word ook later opgesit en dit ruik heerlik. En moenie van die eiervrug vergeet nie. Ons kon omtrent nie wag om vir die feesmaal aan te sit nie. Saam met die ete word yskoue wyn bedien. 

Braaikoning
Feesmaal


Die ete word afgesluit met baklava en koffie. Ons gaan terug na Maja toe dit reeds die volgende dag is.

Fethiye. Dolmus na Kabak.



18 Junie 2015. Donderdag

Die manne pak vandag en Dirk se knie moet rus. Ons wil onder hulle voete uitkom, so ons klim die dolmus na Kabak strand.

Dit is ’n pragtige rit tussen die berge, op nou en hoë paaie. Ons ry verby Ölu Deniz en ek verstom my weereens aan die hoë berge en die blou see. Die lagoon van Ölu Deniz kruip weg en ek sien net stukkies van die Blue Lagoon, soos wat dit bekend staan. Dis ’n uiterse gewilde swemplek vir vakansiegangers. 

Uitsig op Ölu Deniz


Die bestuurder stop vir twee minute by ’n uitsigpunt by Butterfly Valley en ons bewonder die pratige valleie en strand van hoog bo. Die plek het my hart nou behoorlik gesteel. 

Butterfly Valley


Terug in die dolmus en ons ry verder deur die mooi omgewing. Na sowat een en ’n halfuur kom ons by Kabak. Ek en Archie stap op die Lycian Way, af af af ondertoe na die strand. Dis warm en die sweet drup van ons af, maar ek gee nie om nie. Die stap is heerlik.

Kabak Baai


Ons is so honger soos wolwe en na ’n gesoek kry ons ’n plek wat kos verkoop. Ons eet sulke pannekoeke wat gevul is met groenigheid en feta kaas. Heerlik. Archie drink Ayran en ek vars uitgedrukte lemoensap. Toe het ons krag vir die opstap. 

Eetplek
Die kok
Heerlike feta en spinasie "pannekoek"


Ons rit terug na Fethiye met die dolmus is nie so ontspanne soos met die kom nie, want agter die stuur is ’n jaagduiwel wat sy persoonlike beste tyd wil opstel. Dit bly mooi en ek drink vir oulaas weer die uitsig van Butterfly Valley in. Te gou is die rit verby en ons is weer in Fethiye.

Die manne is klaar gepak en ons stap saam met hulle na die dolmus stop. Soos hulle kom, gaan hulle weer. Oorlaai met bagasie en reg vir die res van hulle toer deur Turkye.

“Koebaai julle! Vir ons was dit heerlik om julle saam boord op Maja te hê.”