18 Junie 2015. Donderdag
Die manne pak vandag en Dirk se
knie moet rus. Ons wil onder hulle voete uitkom, so ons klim die dolmus na
Kabak strand.
Dit is ’n pragtige rit tussen die
berge, op nou en hoë paaie. Ons ry verby Ölu Deniz en ek verstom my weereens
aan die hoë berge en die blou see. Die lagoon van Ölu Deniz kruip weg en ek
sien net stukkies van die Blue Lagoon, soos wat dit bekend staan. Dis ’n
uiterse gewilde swemplek vir vakansiegangers.
Uitsig op Ölu Deniz |
Die bestuurder stop vir twee minute by ’n uitsigpunt by Butterfly Valley en ons bewonder die pratige valleie en strand van hoog bo. Die plek het my hart nou behoorlik gesteel.
Butterfly Valley |
Terug in die dolmus en ons ry verder deur die mooi omgewing. Na sowat een en ’n halfuur kom ons by Kabak. Ek en Archie stap op die Lycian Way, af af af ondertoe na die strand. Dis warm en die sweet drup van ons af, maar ek gee nie om nie. Die stap is heerlik.
Kabak Baai |
Ons is so honger soos wolwe en na ’n gesoek kry ons ’n plek wat kos verkoop. Ons eet sulke pannekoeke wat gevul is met groenigheid en feta kaas. Heerlik. Archie drink Ayran en ek vars uitgedrukte lemoensap. Toe het ons krag vir die opstap.
Ons rit terug na Fethiye met die dolmus is nie so ontspanne soos met die kom nie, want agter die stuur is ’n jaagduiwel wat sy persoonlike beste tyd wil opstel. Dit bly mooi en ek drink vir oulaas weer die uitsig van Butterfly Valley in. Te gou is die rit verby en ons is weer in Fethiye.
Die manne is klaar gepak en ons
stap saam met hulle na die dolmus stop. Soos hulle kom, gaan hulle weer. Oorlaai
met bagasie en reg vir die res van hulle toer deur Turkye.
“Koebaai julle! Vir ons was dit
heerlik om julle saam boord op Maja te hê.”
No comments:
Post a Comment