20 Junie 2015. Saterdag.
 |
Fethiye tot Gemiler |
Gister het ons Suid-Afrikaners in
Fethiye ontmoet. Andreas en Miranda het langs ons kom stop, terwyl Archie in
die reën vir Maja gewas het. Hulle het gou oorgekom om roetebesprekings te
doen. Toe het ons die marina verlaat en in die baai van Fethiye gaan anker. Ons
wou net bietjie uitrus voordat ons die res van die reis aanpak.
Toe kry ons die epos van Neil van
Rensburg. Hulle is by Karacaören, naby Gemiler. Ons moet hulle daar ontmoet vir
’n braai op hulle seiljag, Wilson. Uiteindelik gaan ons weer ons
Suid-Afrikaanse vriend wat ons in Kuşadasi ontmoet het, sien. Sy vrou Sandi,
het ook by hom aangesluit en ons sien baie uit daarna om haar te ontmoet.
Ons vat die 15 myl pad terug na
Gemiler. En wat sien ons toe by Leon se gunsteling eiland!? ’n Suid-Afrikaanse
vlaggie wat wapper! Ons kry plek langs hulle. Voor ons behoorlik kan groet, is
dit eers die gewone werk van ’n seiler om sy jag veilig vas te kry.
 |
Parasailing |
Ons daag die aand 19:00 soos afgespreek
in Dinkie daar op. Kaalvoet en Archie het tot sy hare geborsel. En toe begin
die groot kuier. Dis heerlik, vier Suid-Afrikaners wat lag en gesels op die
jag.
 |
Archie, ek, Sandi en Neil |
 |
Praat land en sand |
 |
Ontspanne Archie |
 |
Uitgevat |
Neil brou vir ons lamskenkel in
sy Weber. As bykos braai hy, weggesteek in foelie, soetpatats en aartappels.
Rooi en groen pepers word ook later opgesit en dit ruik heerlik. En moenie van
die eiervrug vergeet nie. Ons kon omtrent nie wag om vir die feesmaal aan te
sit nie. Saam met die ete word yskoue wyn bedien.
 |
Braaikoning |
 |
Feesmaal |
Die ete word afgesluit met
baklava en koffie. Ons gaan terug na Maja toe dit reeds die volgende dag is.
No comments:
Post a Comment