Tuesday, June 16, 2015

Gemiler. Antieke stad van St Nicholas.



15 Junie 2015. Minsame Maandag. 

Hierdie dag word tot Minsame Maandag verklaar en ek wens die manne ’n goeie môre toe met ’n Turkse kus.

Vandag gaan ons die antieke stad van St Nicholas besoek. Hy het blykbaar hier gebly. Hier is ’n kort opsomming wat die Turke gee oor die Gemiler Eiland.



Ons drentel deur die ruïnes en die bome en geniet elke oomblik van die stap. Die manne het reeds gister die eiland platgeloop. 


Kerk gebou in 5de eeu
Uitsig oor die baai
Archie
Deurgang
Kerk gebou in 6de eeu
Gang wat die kerke met mekaar verbind
Gang van bo gesien
Kerk gebou in 7de eeu
Graf uit klip gekap
Seestraat tussen Gemiler Eiland en hoofland
  

Ons het nou regtig die twee dae wat ons hier by Gemiler Eiland geanker het, terdeë geniet. So kom Minsame Maandag tot 'n einde en met 'n effense hartseer besef ons dat ons môre ons eiland agterlaat.












Monday, June 15, 2015

Gemiler Adasi.



14 Junie 2015, Sondag.

Tersane Creek tot Gemiler Adasi



Sy Edele die burgemeester van die plaas Tersane, Mnr. D. Luus, geklee in sy amptelike drag, lewer ’n afskeidstoespraak en doen ’n beroep op sy onderdane om hierdie Sondag stryloos te hou. Hy haal die tou seremonieel van die rots af en swem statig terug na die luukse jag, Maja, eiendom van ’n ene mnr. DJ Archibald. ’n Matroos vloek in die verte.


Sy Edele


Ons vaar vandag uit die Golf van Fethiye na Gemiler, 36°33.299 N, 29°04.163 O, 15 myl. Dis baie verder as die 4 myl wat ons die afgelope tyd gevaar het. Ons vertrek en vat die lang pad. Dirk sien ’n dolfyn en ons oë fynkam die waters vir nog. Ek sê altyd, as daar een is, moet daar nog wees. Later sien Dirk nog een wat sierlik uit die water duik en ons sit hulle agterna. Hulle is skaam dolfyne, want hulle verdwyn in die dieptes. Die die eerste dolfyne wat die manne sien. 

Waar's die dolfyne?

Hulle's weg!


Ons gaan om die hoek en voor is die klein eiland, Karacaören. Daar is allerande ruïnes van die een of ander antieke stad op die eiland.

Ons gaan na Gemiler Adasi en soek plek om te anker. Die nogal diep hier en ons anker in 23 m. Ek gooi anker, Archie tru en Dirk staan gereed met die tou om land toe te swem om vas te maak. Gus lê en dit maak die hele proses baie makliker en vas is ons. Die lewe van ’n seiler draai om wind en om saans vas en veilig te wees. Dan eers kan die kaptein en sy bemanning ontspan. Leon begin dadelik met die brou van die koue drankies.

En ons het gedink Yassica Adalari was ’n malhuis. Skielik kom almal in bootjies en wil aan ons roomys en pannekoek afsmeer. Mens kan sien dis Sondag. Almal in die omgewing wat nie vandag werk nie, is ook hier. Dis gulets en parasailing. Motorbote wat mense op opblaasstoele rondtrek teen ’n fenominale spoed. Ekskursiebote, lawaaierige plesiersoekers is orals. Dan is daar nog seiljagte wat anker kom gooi en toue aan die land vasmaak. Daar is soveel om te sien, ons weet nie waar om te kyk nie. 

Pannekoek te koop!
Skuithuis
Viswyf


Dis warm hier in Turkye en ons koel gedurig in die turkoois water af. Ek besluit dis tyd om my hare vir ’n slag in die see nat te maak, trek die stoute skoene uit en spring voor by Maja se snoet af. Die manne volg my voorbeeld en die paparazzi staan gereed daarom op film vas te lê.

Ek spring
Leon spring
Dirk spring


Ai, maar dit is lekker hier in Turkye.

Ek daag die manne uit om saam met my in die donker te swem en net die dapper Dirk is mans genoeg. Ons swem in die donker en kyk oor ons skouers of die spoke van die antieke stad van St Nicholas nie vir ons loer nie ...

Tersane Creek.



 13 Junie 2015, Saterdag.


Göcek tot Tersane Creek

Ons het al weer die voorreg om die swartwatertenk uit te pomp. Ons meer alongside vas en die pompman pomp. En leeg is die tenk.

Ons gaan eers na Yassica Adalari, maar is dit ’n malhuis!? Gulets, bote en alles wat op die water vaar is by die plek. Dan is dit nog boonop Saterdag. Ons sien nie kans vir die plesiersoekers nie.

Op pad na Yassica Adalari


Ons kies toe maar die hasepad na Tersane Adasi en bekyk die plek. Ons keuse val op Tersane Creek, 36°40.523 N, 28°54.853 O, 8 myl vanaf Göcek. 

Tersane Creek


Ons gryp ’n boei, maar dit is naby die land. Te naby na my smaak. Archie ontdek nog ’n tou by die boei en maak Maja ook daaraan vas. Toe het Archie die eer om die splinternuwe tou land toe te swem. Hy duik in met die 50m tou en maak dit aan die bollard vas. Ek dink dis die naaste aan die land wat ons nog vasgemaak was. Die rotse en klippe is op ons voorstoep.

Splinternuwe tou
Trek splinternuwe tou
  

Ons doen ons daaglikse landwandeling op die eiland. Behalwe vir 'n klein lappie grond van die restaurant is die hele eiland 'n plaas wat wemel van bokke, skape en beeste. Die mense het nou behoorlik ’n gemengde boerdery. 


Eilandplaas


Die restaurant het sy eie jettie. Ons gaan kyk hoe lyk dit by die restaurant en beskou hulle menu. Dis veronderstel om van die beste lamsvleis in die distrik te wees. Ek moet sê, ek weet darem nie so mooi nie.

Restaurant jettie
Tersane Restaurant


Ek dink ons eie persoonlike kokke, nee, ek bedoel gourmet chefs, op Maja, doen veel beter. Die manne kook vanaand en dis net potte en panne, want elke pot en pan waarop hulle beslag kan lê, word vuilgemaak. Dis hope en hope skottelgoed, maar ons gee nie om nie, want is daai kos lekker!

Gourmet chefs


Dis maalvleis en eiervrug, geurig voorberei het ’n tikkie grondboonbotter, knoffel, tamatie en ek weet nie wat alles nie. Dan word daar holtes in die kos gemaak en vir elke persoon ’n eier in die holte gebreek en gaargemaak. My magtig, maar dis lekker!


Gourmet kos


Nog 'n genoeglike dag in die Turkse paradys nader sy einde. 'n Seiljag seil op die horison verby na wie weet waar...

Aandskoot