Monday, June 15, 2015

Tersane Creek.



 13 Junie 2015, Saterdag.


Göcek tot Tersane Creek

Ons het al weer die voorreg om die swartwatertenk uit te pomp. Ons meer alongside vas en die pompman pomp. En leeg is die tenk.

Ons gaan eers na Yassica Adalari, maar is dit ’n malhuis!? Gulets, bote en alles wat op die water vaar is by die plek. Dan is dit nog boonop Saterdag. Ons sien nie kans vir die plesiersoekers nie.

Op pad na Yassica Adalari


Ons kies toe maar die hasepad na Tersane Adasi en bekyk die plek. Ons keuse val op Tersane Creek, 36°40.523 N, 28°54.853 O, 8 myl vanaf Göcek. 

Tersane Creek


Ons gryp ’n boei, maar dit is naby die land. Te naby na my smaak. Archie ontdek nog ’n tou by die boei en maak Maja ook daaraan vas. Toe het Archie die eer om die splinternuwe tou land toe te swem. Hy duik in met die 50m tou en maak dit aan die bollard vas. Ek dink dis die naaste aan die land wat ons nog vasgemaak was. Die rotse en klippe is op ons voorstoep.

Splinternuwe tou
Trek splinternuwe tou
  

Ons doen ons daaglikse landwandeling op die eiland. Behalwe vir 'n klein lappie grond van die restaurant is die hele eiland 'n plaas wat wemel van bokke, skape en beeste. Die mense het nou behoorlik ’n gemengde boerdery. 


Eilandplaas


Die restaurant het sy eie jettie. Ons gaan kyk hoe lyk dit by die restaurant en beskou hulle menu. Dis veronderstel om van die beste lamsvleis in die distrik te wees. Ek moet sê, ek weet darem nie so mooi nie.

Restaurant jettie
Tersane Restaurant


Ek dink ons eie persoonlike kokke, nee, ek bedoel gourmet chefs, op Maja, doen veel beter. Die manne kook vanaand en dis net potte en panne, want elke pot en pan waarop hulle beslag kan lê, word vuilgemaak. Dis hope en hope skottelgoed, maar ons gee nie om nie, want is daai kos lekker!

Gourmet chefs


Dis maalvleis en eiervrug, geurig voorberei het ’n tikkie grondboonbotter, knoffel, tamatie en ek weet nie wat alles nie. Dan word daar holtes in die kos gemaak en vir elke persoon ’n eier in die holte gebreek en gaargemaak. My magtig, maar dis lekker!


Gourmet kos


Nog 'n genoeglike dag in die Turkse paradys nader sy einde. 'n Seiljag seil op die horison verby na wie weet waar...

Aandskoot

No comments:

Post a Comment