14 Junie 2015, Sondag.
 |
Tersane Creek tot Gemiler Adasi |
Sy Edele die burgemeester van die
plaas Tersane, Mnr. D. Luus, geklee in sy amptelike drag, lewer ’n
afskeidstoespraak en doen ’n beroep op sy onderdane om hierdie Sondag stryloos
te hou. Hy haal die tou seremonieel van die rots af en swem statig terug na die
luukse jag, Maja, eiendom van ’n ene mnr. DJ Archibald. ’n Matroos vloek in die
verte.
 |
Sy Edele |
Ons vaar vandag uit die Golf van
Fethiye na Gemiler, 36°33.299 N, 29°04.163 O, 15 myl. Dis baie verder as die 4
myl wat ons die afgelope tyd gevaar het. Ons vertrek en vat die lang pad. Dirk
sien ’n dolfyn en ons oë fynkam die waters vir nog. Ek sê altyd, as daar een is,
moet daar nog wees. Later sien Dirk nog een wat sierlik uit die water duik en
ons sit hulle agterna. Hulle is skaam dolfyne, want hulle verdwyn in die
dieptes. Die die eerste dolfyne wat die manne sien.
 |
Waar's die dolfyne? |
 |
Hulle's weg! |
Ons gaan om die hoek en voor is
die klein eiland, Karacaören. Daar is allerande ruïnes van die een of ander
antieke stad op die eiland.
Ons gaan na Gemiler Adasi en soek
plek om te anker. Die nogal diep hier en ons anker in 23 m. Ek gooi anker,
Archie tru en Dirk staan gereed met die tou om land toe te swem om vas te maak.
Gus lê en dit maak die hele proses baie makliker en vas is ons. Die lewe van ’n
seiler draai om wind en om saans vas en veilig te wees. Dan eers kan die
kaptein en sy bemanning ontspan. Leon begin dadelik met die brou van die koue
drankies.
En ons het gedink Yassica Adalari
was ’n malhuis. Skielik kom almal in bootjies en wil aan ons roomys en
pannekoek afsmeer. Mens kan sien dis Sondag. Almal in die omgewing wat nie
vandag werk nie, is ook hier. Dis gulets en parasailing. Motorbote wat mense op
opblaasstoele rondtrek teen ’n fenominale spoed. Ekskursiebote, lawaaierige
plesiersoekers is orals. Dan is daar nog seiljagte wat anker kom gooi en toue
aan die land vasmaak. Daar is soveel om te sien, ons weet nie waar om te kyk
nie.
 |
Pannekoek te koop! |
 |
Skuithuis |
 |
Viswyf |
Dis warm hier in Turkye en ons
koel gedurig in die turkoois water af. Ek besluit dis tyd om my hare vir ’n slag
in die see nat te maak, trek die stoute skoene uit en spring voor by Maja se
snoet af. Die manne volg my voorbeeld en die paparazzi staan gereed daarom op
film vas te lê.
 |
Ek spring |
 |
Leon spring |
 |
Dirk spring |
Ai, maar dit is lekker hier in Turkye.
Ek daag die manne uit om saam met
my in die donker te swem en net die dapper Dirk is mans genoeg. Ons swem in die
donker en kyk oor ons skouers of die spoke van die antieke stad van St Nicholas
nie vir ons loer nie ...
No comments:
Post a Comment