Tuesday, May 19, 2015

Görkova Körfezi. Körmen.



18 Mei 2015.

Büyük Çati tot Körmen

"One Tree Island", waar het jy nou al ooit in jou lewe van so 'n naam vir ’n eiland gehoor! Wel, ons vaar verby ’n eiland met een boom op. Ek wonder wat sal hulle die eiland noem as die boom eendag saggies heengaan... Of as daar nog ’n boom daarop groei.

"One Tree Island"


Ons gaan vandag na Körmen, 36° 46.153 N, 27°36.950 O, 22 myl. Ons vaar en vaar. Die see is baie diep hier, tot 500 m. Ons dieptemeter flikker-flikker omdat hy die diepte nie kan raaksien nie.

Ons vaar en vaar
Berge
Ligtoring


Körmen is ’n aspirant-marina. Op die stadium lyk dit meer na ’n konstruksie en bou terrein. Dis net monster-masjiene wat wat grond vreet en rotse in die see gooi om ’n breekwater te maak. Dit gaan ’n groot marina wees as dit klaar is.

Körmen Marina

Ons vaar in, weet nie waarheen om te gaan nie. Gelukkig kom daar ’n vasmeerman in ’n swart bakkie aangejaag wat ons wys waar ons moet vasmeer en hy gee die snoettou netjies aan. Ek haak dit sekuur met die boothaak en maak vas. Archie is doenig met die agter toue en vas is ons.

Vragmotors ry op en af in die grondpad waar ons vasgemeer is en jaag net stofwolke op. Dis grondtrokke, sementmengers, trokke met klippe en werksbakkies. Ek vervies my vir al die stof wat hulle op Maja kom tuismaak, haal die tuinslang uit en spuit die pad nat. Toe kry hulle die boodskap. Jy sien, ’n deel van die pad is natgespuit, maar hulle ry nie daarop nie. Nee, hulle jaag op die stofpad. Toe ry hulle ewe versigtig en stadig. Ons betaal verdomp duur om in die plek te bly.

Bou nuwe kaai en breekwater
"Heavy metal" vir Chris


Dis ’n morbiede plek hierdie. Die uitsig word versper deur ’n sementmuur. Werkers loop op en af verby Maja en loer dan baie nuuskierig na binne om te sien wat gebeur in die boot. Oral word dit omgedolwe om grond en klip te kry. Miskien sal dit baie mooi wees as die marina voltooi is

Gelukkig lewe die water hier van die visse en ek kyk maar vir hulle.


Monday, May 18, 2015

Gökova Körfezi. Büyük Çati



17 Mei 2015.

Amazon Creek tot Büyük Çati

Dis ’n lui-lekker lewe hier in Turkye. Dis nou as Dinkie se motor nie breek nie .Ons staan op en Amozon Creek lyk spokerig in die vroeë môre. Misvingers gryp die bome en kruip in die rivier weg.

Spokerig


Weer ’n kort dag na Büyük Çati, 36°47.432 N, 28°00.839 O, 3.2 myl.  Voor ek nog ’n foto kan neem, is ons daar. Sommer maar net die Oos Aegan see, nog ’n dag, nog ’n baai, nog ’n anker. Die keer is dit ’n lang tou  anker, maar alles verloop goed.

Dis ’n regte Sondag. Rustig en gemoedelik. Langs ons is ’n seiljag net drie opgeskote kinders. Die gelag en gespeel van die kinders maak alles so normaal, so Sondag, ’n familiedag. Ek het net aangetroude familie hier vandag, ou Archie!

Familie boot


Ons stap die koppie uit en die baaie aan albei kante lyk pragtig vanuit die hoogte. Die water is soos ’n spieël in verskillende skakerings van blou. Die vissersbootjies is in die hawe (dit is nie eintlik ’n hawe nie), wag geduldig vir die vissermanne om hulle uit te vat see toe met die belofte van groot vangste.

Maja met haar toue
Büyü Çati
Two Tree Cove
Uitsig oor vissersbootjies


Êrens kraai ’n hoenderhaan.

Amazon Creek.


 16 Mei 2015.

English Harbour tot Amazon Creek

Nee, ons is nie ontvoer nie! Ons is nie in die Amasone nie. Hierdie Amazon Creek, 36°49.900 N, 28°03.272 O, is in Turkye. En dis nie weer ’n verneuk dag nie, dis 19 myl tot daar. Ver, aan die oorkant van die golf, staan die hoë berge met hulle voete in die see. Toe dié kant van die golf gemaak is, was daar net platter berge oor.
 
Anna se kussings


Ons maak ’n draai by Kargilibük en later by Tuzla Köyü maar besluit ons wil nie by enige van die twee anker nie en vaar verder. Dis ’n stil dag, want Gus lê êrens rond. Maar ek kla nie.
 
Kargilibük
Kargilibük se uitgang
Op pad na Amazon Creek
My rots


Amazon Creek is ’n stil baai waarin die Baykusrivier uitmond. Hier is ook ’n swemplek vir piekniekgangers wat heerlik in die baai swem. Dis regtig somer in Turkye. Ons gooi maklik anker, maak ons tuis en besluit om te gaan stap. Die boek sê ook jy vat vir Dinkie en dan ry jy in die rivier op. Dit sê nie jy moet jou Dinkie se motor afhaal nie as jy in die ou riviertjie opvaar nie.
 
Amazon Creek
Prag uitsig
Baai langsaan



Ons klim in ons ou gewillige Dinkie en ek vra vir Archie of ons nie maar die roeispane moet saamvat nie. Hy sê Dinkie is propvol petrol, roeispane is nie nodig nie. En daar trek ons eers na die jetty toe om daar uit te klim om te gaan stap. Daar is dennebome oral wat die uitsig na die baai versper. Terug na Dinkie en ons laat spaander rivier toe. Dinkie se ou motortjie brul en hou pragtig tussen die klein boeie wat die kanaal aandui. Dis maar ’n ou vlakkerige riviertjie hierdie, so ons vat dit maar stadig.

En skielik – klonk! Ons tref ’n blerrie klip en die motor stol en dit stop. Archie kry dit weer aan die gang, die motor loop, maar die propeller draai nie. Dit raas net. Ek vermoed dadelik die ergste – Dinkie is moer toe. Nou is Meneer en Mevrou Boon baie ver van Maja af, met ’n stukkende Dinkie en sonder roeispane.

Dankie tog vir die vlak water, want ek sit nou soos Koningin Elizabeth in Dinkie en Archie trek ons met die tou wat aan Dinkie se snoet vas is deur die vlak water. Hy loop deur die modder en oor klippe en eindelik is ons uit die rivier. Nou is dit nog net die stuk in die baai na Maja wat in die middel van die baai lê. Gelukkig is die kant van die baai baie vlak en Archie kan Dinkie steeds trek tot ver verby die jetty. Toe trek ek my Hotters (skoene) en kouse uit en klim uit vir die swem.
 

Trekmuil


Archie maak die snoettou van Dinkie om sy lyf vas, want hy swem voor en ek skop agter. Ons swem en skop vir die vale totdat ons so 50m wind-op van Maja is. Ons draai en swem in die rigting van Maja met Gus wat ons so ’n hupstootjie gee. Eindelik is ons daar en Archie haal die motor af om ondersoek in te stel.

Toe hy die propeller afhaal, vind hy dat die “shear pin”het sy werk gedoen en het afgebreek. Dit is ’n veiligheidsmeganisme wat verhoed dat die ratkas skade kry as die propeller iets, soos ’n klip, tref. Ons het nie ’n spaar shear pin nie en ek dog eers Archie gaan een met Pratley Patty maak (hy gebruik dit vir alles), maar Mr Fix-it gebruik ’n dik stuk koperdraad daarom dit tydelik reg te maak. Dinkie mag nou net in diep water vaar totdat Arch ’n shear pin koop en insit. Dankie tog, geen skade!

Ek het nogal gewonder hoe dit vir al die swemmers gelyk het. Hulle gaan almal in die rivier op met gehuurde roeibootjies en hier kom die seiljagters ewe windgat op Dinkie aangejaag en ’n ruk later word Dinkie getrek en uitgeswem terug seiljag toe. Lekker kykgenot vir hulle!

Die res van die dag het sonder voorval verloop!



Saturday, May 16, 2015

Derğirmen Bükü.


15 Mei 2015


Söğüt tot Değirmen Bükü

Ons staan lui op. Vandag is ’n sommer net ’n verneuk dag. ’n Dag wat nie ’n dag is nie. Of het ek dit gister ook gesê? Dis ’n luilekker 4myl na Derğimen Bükü, 39°55.366 N, 28°09.440 O, net minder as ’n uur se vaar. Ons vertrek 11:00. Ons het weer ’n hele paar wegpunte wat ons moet volg, anders vaar ons in eilande vas.


Zeytinli Eiland links


Te gou is ons daar. Ek vermoed ons is besig om vakansie te hou, maar Archie moet dit net nie agterkom nie, want dan sal hy weer dinge begin uitdink om te doen.

Ons gooi anker in lekker taai modderige grond (die boek sê so) met baie goeie houkrag. My tipe plek. Die baai is amper geslote, so die uitsig is beperk, maar ons geniet die rustigheid. Ons is te lui om land toe te gaan. Ons is net rustig.

English Harbour
English Harbour




Die English Harbour, waar ons is, is een van die inhamme van die Değirmen Bükü baai. Dit het die naam gekry omdat die Engelse torpedo bote in die Tweede Wêreldoorlog bedags hier geskuil het, totdat hulle in die nag kon uitgaan om die Duitsers te jag. 

Archie is Engels en ek het ’n bietjie Duitse bloed van my ma se kant af ...

Friday, May 15, 2015

Söğüt.


14 Mei 2015

Şehir Adalari tot Söğüt
 

Ons staan lui op. Vandag is net sommer ’n verneuk dag, ’n dag wat amper nie ’n dag is nie, want dis ’n luilekker 4 myl na  Söğüt, 36°55. 366 N, 28°11.273 O.

Ons vaar verby die agterkant van die eiland en sien vir oulaas nog ruïnes.  

Stukke van die stadsmuur
Ruïne


Ons mis hier en daar ’n klip en voor ons is die Karacasöğüt jetty. Ek roep op die radio, maar niemand antwoord nie. Ons vaar nader in die hoop dat iemand ons sal sien, maar niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie. Iemand moet vir ons die vasmeertou gooi.

Karaca Eiland

Söğüt Baai


'n Visserman help ons. Maar eerder van die wal in die sloot. Ek staan reg met my boothaak om die tou te haak, maar hy beduie hy gaan gooi. En hy voeg die daad by die woord en gooi my amper dood met die tou. Die blerrie tou kom gekoek op my af. Ek vang, maar dit sit aan die bimini en aan ander uitsteeksels vas. Wat besiel die man om die tou te gooi? Ek vat die koekspul en hardloop vorentoe om te snoet te gaan vasmaak. Ek het geen idee waar die voorpunt of agterkant van die tou is nie. Ek trek en trek en halleluja, die tou trek styf.

Maar intussen, “back at the ranch”, vrek Maja se motor. Ek hoor Archie sê: ”No, no!” Met die hele gooi gedoente van die tou en die onbeholpe helper, het die vasmeertou se dun tou in die propeller gekoek. Gelukkig teen baie lae revolusies. Ons is toe darem vas, maar nou is dit weer reddingswerk. Gewapen met die snorkel swem Archie onder Maja se pens in. Hy moet die tou ontkoek. Dan skep hy asem, dan ontkoek hy weer. Daai tou sit! Maar ou Archie glo aan volharding en hy hou aan en aan. Mens het ook net soveel asem voor jy weer moet skep. Daar is nog net een draai on los te maak. Later kom bekyk die jetty man die besigheid. Uit met die hemp en in die water en hulle kry die tou los. Sonder enige skade.

Reddingswerk
"Mission accomplished"


Die internet is op en ons moet Marmaris toe om te gaan koop. Ons klim die dolmus 12:00 en na 45 minute is ons daar. Ons geniet die rit baie, want dit is pragtig bergagtig hier.

Ons kry sommer maklik vir Turkcell en Archie koop sy internet. Ons dwaal maar daar rond, want die dolmus ry eers 18:30 terug. Die kamera sê sy battery is pap en geen foto’s word toe verder geneem nie. Die terugrit is net so mooi.

Terug by Maja