Friday, May 15, 2015

Söğüt.


14 Mei 2015

Şehir Adalari tot Söğüt
 

Ons staan lui op. Vandag is net sommer ’n verneuk dag, ’n dag wat amper nie ’n dag is nie, want dis ’n luilekker 4 myl na  Söğüt, 36°55. 366 N, 28°11.273 O.

Ons vaar verby die agterkant van die eiland en sien vir oulaas nog ruïnes.  

Stukke van die stadsmuur
Ruïne


Ons mis hier en daar ’n klip en voor ons is die Karacasöğüt jetty. Ek roep op die radio, maar niemand antwoord nie. Ons vaar nader in die hoop dat iemand ons sal sien, maar niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie. Iemand moet vir ons die vasmeertou gooi.

Karaca Eiland

Söğüt Baai


'n Visserman help ons. Maar eerder van die wal in die sloot. Ek staan reg met my boothaak om die tou te haak, maar hy beduie hy gaan gooi. En hy voeg die daad by die woord en gooi my amper dood met die tou. Die blerrie tou kom gekoek op my af. Ek vang, maar dit sit aan die bimini en aan ander uitsteeksels vas. Wat besiel die man om die tou te gooi? Ek vat die koekspul en hardloop vorentoe om te snoet te gaan vasmaak. Ek het geen idee waar die voorpunt of agterkant van die tou is nie. Ek trek en trek en halleluja, die tou trek styf.

Maar intussen, “back at the ranch”, vrek Maja se motor. Ek hoor Archie sê: ”No, no!” Met die hele gooi gedoente van die tou en die onbeholpe helper, het die vasmeertou se dun tou in die propeller gekoek. Gelukkig teen baie lae revolusies. Ons is toe darem vas, maar nou is dit weer reddingswerk. Gewapen met die snorkel swem Archie onder Maja se pens in. Hy moet die tou ontkoek. Dan skep hy asem, dan ontkoek hy weer. Daai tou sit! Maar ou Archie glo aan volharding en hy hou aan en aan. Mens het ook net soveel asem voor jy weer moet skep. Daar is nog net een draai on los te maak. Later kom bekyk die jetty man die besigheid. Uit met die hemp en in die water en hulle kry die tou los. Sonder enige skade.

Reddingswerk
"Mission accomplished"


Die internet is op en ons moet Marmaris toe om te gaan koop. Ons klim die dolmus 12:00 en na 45 minute is ons daar. Ons geniet die rit baie, want dit is pragtig bergagtig hier.

Ons kry sommer maklik vir Turkcell en Archie koop sy internet. Ons dwaal maar daar rond, want die dolmus ry eers 18:30 terug. Die kamera sê sy battery is pap en geen foto’s word toe verder geneem nie. Die terugrit is net so mooi.

Terug by Maja



No comments:

Post a Comment