26 September 2014. Vrydag.
Ons het 'n toer bespreek vir vandag. Ons bespreek nooit 'n toer nie, so dis vir my 'n luukse. Ek wil ook so ding om my nek dra met my naam op en in 'n groot toerbus ry. Hulle laai ons 09:20 voor die hotel op. In 'n minibus en ons kry toe ook nie naamplaatjies nie. Maar ons gaan op ons toer. Twaalf van ons en ons toerleidster, Guşen.
Eerste besoek ons die "three beauties of Ürgüp". Drie sulke stalagmiete wat nie in 'n grot is nie. Pa, ma en kind. Dit lyk soos sampioene.
Ek en nog drie skoonhede |
Toe sit ons af na Mustafapaşa. Hier het die Turke en Grieke lank in vrede saamgewoon, voordat die Grieke gedwing was om terug te gaan na Griekeland, tydens die geforseerde bevolkingsverskuiwings tussen Turkye en Griekeland, in 1923. Die plek se naam was eers Sinasos. Die Griekse steenhuise is nog hier te sien.
Mustafapaşa |
Erciyes Volkaan |
Sobessos is 'n argeologiese gebied waar hulle 'n ou Romeinse stad ontdek het met mooi mosaïek. Hulle is nog besig om dit oop te grawe.
Mosaïekvloer |
Romeinse badkamer |
Guşen neem ons toe op 'n staptoer van 2 km deur die Soğanli Vallei om vier kerke te sien wat in die rotse uitgegrawe is. Die Christene het lank in die vallei geskuil. Daarna het ons middagete in Soğanli by 'n buitelug restaurant waar ons bredie eet.
Stap in Soğanli Vallei |
Toe kom ons by die hoogtepunt van die dag. Ons gaan besoek die ondergrondse stad van Derinkuyu. Dit is vC al uitgegrawe deur die Hitiete en kon 5 000 mense huisves. Dit is sestien verdieping diep en die grootste ondergrondse stad in Cappadocia. Net agt verdiepings is oop vir toeriste. 37 ondergrondse dorpe is reeds geopen en daar is nog omtrent 100 meer.
Gedurende die 6de en 7de eeu het die Bizantynse Christene dit vergroot om hulle teen vervolging te beskerm. Dit was ook verbind met hul bogrondse huise. As die vyand hulle aanval, gaan hulle ondertoe en bly daar tot die vyand weg is. Dit was soms tot drie maande.
Daar was ventelasiegate, kombuise, sitkamers, alles wat jy nodig het om tot drie maande te oorleef. Hulle het ook kommunikasie gate waar jy kon skree vir die volgende verdieping en hulle stuur dan die boodskap aan. Daar was tot plek vir hoenders en kleinvee.
Dit is absoluut ongelooflik om te sien hoe hulle dit uitgegrawe het. Sestien verdiepings onder die grond en 85 m diep. Wil jy nou meer!!!
Ondergrondse dorp |
Ondergrondse dorp |
Ondergrondse dorp |
Ondergrondse dorp |
Die toer sluit af met 'n wynproe by Kocabağ in Uçhisar. Dis 'n mondjie vol witwyn en 'n mondjie vol rooiwyn. Niemand koop nie.
Na 'n heerlike dag vol interessante goed en baie pret spat ons uitmekaar en ons sal hulle seker nooit weer sien nie.