23 September 2014. Dinsdag.
Ons ry die hele nag bus en 04:13 maak die buswaard ons wakker. Hulle laai ons, in die donker nag, sommer so langs die pad af. Daar staan ons toe, ek en Archie en nog 'n arme drommel. Ons weet nie herwaarts of derwaarts nie.
Gelukkig vir Goolgle Earth, Archie en die hulp van 'n vreemdeling in die nag, kies ons sak en pak koers na ons Guvën Cave House. Dis 04:30 en gelukkig is hulle voordeur oop en ons gaan binne. Ons kan eintlik ons kamer eers 13:00 kry.
'n Deur-die-slaap man kom daar aan, gee ons 'n kyk, kry ons jammer en sê ons kamer is gereed, ons kan maar solank gaan. Die Turke loop 'n ekstra myl vir 'n mens. Ek het net oë vir daai bed en toe hy sy rug draai, is ons tussen die vere en ons slaap.
Göreme is 'n sprokiespaleis met 'n anderwêreldse skoonheid. Gevorm deur vlae en lae vulkaniese as en miljoene jare se reën en die vloei van rivierwater, het die landskap gevorm.
Die Christene het hier kom skuiling soek en die sagte gesteentes benut en omvorm tot wegkruipplekke in die rotse en selfs onder die aarde gegrawe. Vandag nog kan jy die baie muurskilderye in die baie ondergrondse kerke sien.
Elmali Kilise (Appelkerk) |
Kerkgraf |
Opelug museum |
Uitsig oor die vlaktes |
Opelug museum |
Oppad huis toe neem ons 'n alternatiewe roete tussen deur die rotsformasies. Dit is so sprokiesmooi, en ons vergaap ons aan alles. Oral is gate, of eintlik vensters en deure van ou wonings. Mense het hier gebly. So in die rotse.
Feetjie wêreld |
Vreemde landskap |
Archie en ek |
Ons geniet die staptog terdeë.
No comments:
Post a Comment