Friday, September 26, 2014

Turkye. Cappadocia. Kiliçlar Vallei.

23 September 2014. Woensdag.

Vandag is stapdag. Ons gaan die Rose- en Red Valleys in Göreme aandurf. Gestewel en gespoor vat ons die pad. Of so dink ons.

Rose Valley?

Ons stap heerlik. Ons kry ander stapgroepe langs die pad. Hulle het toergidse. Gelukkig het ek ook 'n toergids, ou Arch.

Wel, die Red- en Rose Valleys het ons ontglip. Ons het nooit daar uitgekom nie. Ons land toe in die Kiliçlar Vallei. En ou Arch geniet hom gate uit. Hy klim en klouter in die rotshuise. Van vloer tot vloer. Dis 'n groot avontuur.

Archie by tweede verdieping venster
Archie by derde verdieping venster
Binne-in rotskamer 

Op 'n stadium verlei Adam vir Eva met 'n trossie wilde druiwe wat hy pluk. Ek eet die hele tros op. Terwyl Archie so in die rotswonings rond klouter, ontdek ek nog vele ander variteite van druiwe. Dis ronde klein groenes en lang groenes. Dis ronde en lang swartes. En ek eet my knuppeldik. Kyk, ek hou baie van druiwe.

Ons stap verder en kom op ou rotskerke af.  Om elke hoek en draai is daar 'n mooier en interessanter rotsformasie.

Rotsformasies
Rotsformasies
Rotsformasies

Die paadjie neem ons later deur 'n nou kloof. Archie moes my twee keer as't ware optrek, maar dit was ongelooflik. Die nou pad, die styl regop kranse, net ons twee alleen in die natuur.

Daardie mense het hulle kap geken, want ons kom af op 'n lang onderbroke tonnel van honderde meters. Hulle het dit waarskynlik gebruik om water te kanaliseer. Dadelik klim Archie in die tonnel en hy stap daardeur terwyl ek bo stap. Elke nou en dan sien ek hom voordat hy weer in die tonnel verdwyn.

Die hele dag was 'n heerlike ondervinding. Ek hou maar van stap.

Turkye. Cappadocia. Goremi.

23 September 2014.  Dinsdag.

Ons ry die hele nag bus en 04:13 maak die buswaard ons wakker.  Hulle laai ons, in die donker nag, sommer so langs die pad af. Daar staan ons toe, ek en Archie en nog 'n arme drommel. Ons weet nie herwaarts of derwaarts nie.

Gelukkig vir Goolgle Earth, Archie en die hulp van 'n vreemdeling in die nag, kies ons sak en pak koers na ons Guvën Cave House. Dis 04:30 en gelukkig is hulle voordeur oop en ons gaan binne. Ons kan eintlik ons kamer eers 13:00 kry.

'n Deur-die-slaap man kom daar aan, gee ons 'n kyk, kry ons jammer en sê ons kamer is gereed, ons kan maar solank gaan. Die Turke loop 'n ekstra myl vir 'n mens. Ek het net oë vir daai bed en toe hy sy rug draai, is ons tussen die vere en ons slaap.

Göreme is 'n sprokiespaleis met 'n anderwêreldse skoonheid. Gevorm deur vlae en lae vulkaniese as en miljoene jare se reën en die vloei van rivierwater, het die landskap gevorm.

Die Christene het hier kom skuiling soek en die sagte gesteentes benut en omvorm tot wegkruipplekke in die rotse en selfs onder die aarde gegrawe. Vandag nog kan jy die baie muurskilderye in die baie ondergrondse kerke sien.

Vandag besoek ons die opelug museum, wat ook 'n Wêrelderfenisgebied is. Dit was eers 'n Bizantynde klooster wat twintig monikke gehuisves het en van die 17de eeu het dit 'n pelgrimsgebied geword.

Pottebakkery oppad na museum

Wat 'n gesig! Elke veetjie toring is gebytel en gekap en uitgegrawe en is tot huis of kerk verklaar.

Uitgeholde rots
Elmali Kilise (Appelkerk)
Kerkgraf
Opelug museum
Uitsig oor die vlaktes
Opelug museum

Oppad huis toe neem ons 'n alternatiewe roete tussen deur die rotsformasies. Dit is so sprokiesmooi, en ons vergaap ons aan alles. Oral is gate, of eintlik vensters en deure van ou wonings. Mense het hier gebly. So in die rotse.


Feetjie wêreld
Vreemde landskap
Archie en ek
Rotse met deure en vensters

 Ons geniet die staptog terdeë.

Wednesday, September 24, 2014

Turkye. Yalvaç.

22 September 2014. Maandag.

"What to do, what to do!?"  Die toere wat aangebied word deur die inligtingsentrum, is peperduur.  Een dag se ekskursie kos maklik R1 000. En onthou, Maja het 'n nuwe enjin gekry. Ons sak is plat.

Ons besluit ons gaan sommer Yalvaç toe. Daar gaan nie veel aan nie, maar die pad gaan deur die berge. Ons wag vir die dolmus en ons wag en wag en toe kom dit eers, al klaar vol.

Van die mooi pad sien ek bitter weinig, want ek moet heelpad balanseer om op my klein bankie, wat ek met 'n vrou deel. Al die ander sitplekke is vol.  Die bestuurder bring los stoeltjies vir die staande passasiers en arme Archie ry die hele rit, 30 cm van die vloer af, ongemaklik tussen die sitplekke. "So much for the view".

So ry die boere sit-sit so... Na een en 'n half uur se ongemaklike ry as insittende in 'n oorvol dolmus, kom ons in Yalvaç aan. En dis toe inderdaad so. Ons is die enigste toeriste daar.

Dis toevallig ook markdag op Yavaç maar nie halfpad so opwindend soos Pinar Pazari s'n nie. Ons koop wel 'n kabel vir die kamera en een kilogram Turkish Delight.

Hierdie Turke is wraggies gawe mense. So loop ek en Archie, ietwat verveeld daar rond om die tyd om te kry. 'n Man in 'n netjiese pak klere, staan sterre in die lug, besig om 'n magdom pakkies op te tel. Daar is omtrent twee pakkies markaankope vir elke vinger. Dis tamaties en uiwe, nog ander groente en vrugte en alles en nog wat. Hy sukkel om alles op te tel. Ek en Archie snel hom te hulp, sit die pakkies in die regte vingers. Toe hy alles opgetel het, sit hy dit net daar neer, haal 'n groot tros druiwe uit en oorhandig dit aan ons met 'n breë glimlag. Hy tel toe weer al sy pakkies op en loop glimlaggend weg en ons eet glimlaggend ons tros druiwe.

Een-perdekrag wa ...
... een-silinder wa

Ons stap rond en koop toe betyds kaartjies vir dir terugrit. Dis toe sitplek nr 1 en 2. Langs die bestuurder. Prima plekke. Toe sien ons met die terugrit hoe mooi die omgewing eintlik is.

Eğirdir oorkant die meer

Terug by Egirdir,  stap ons terug Seshuvar gastehuis toe om ons bagasie te kry vir die nagbus wat ons 20:30 Cappadocia toe neem.
Dis 'n lang nag op die bus, agt ure!

Turkye. Pinar Pazari.

21 September 2014.  Sondag.

Sondag is markdag in Pinar Pazari, 'n buurdorpie. Ons klim die dolmus (minibus) en daar trek ons. Ons mis mos nie 'n mark nie. Na 45 minute se ry op 'n baie mooi pad, deur menige appelboorde, is ons daar. Wel, álmal is daar, want dit wemel van mense en hul dinge.

Appels in oorvloed

Dis nou behoorlik Turkye op sy beste. Al die plaaslike inwoners en boere van die distrik is daar.  Almal koop en verkoop, ons ook. Die Turke groet ons en gesels en glimlag. Hulle gee ons 'n stukkie van hul warm harte.

Te koop
"Sunday shoppers"
Markstal
Meestal chillies
Klein koolkoppe ...
... en 'n grote
Olywe by die dosyne
Bone

Die hoogtepunt is middagete. Die skape en bokke word sommer daar in so 'n primitiewe slagpale geslag. Hulle maak dan die heel stuk vleis, van die blad tot die saal, in 'n groot kiln (steenoond) gaar. Dan koop jy die gaar vleis per kilo en jy eet dit sommer so met jou hande. My opgekapte vleis word op 'n klein stofie bedien. Archie besluit op skaapkop. Lekker!!

"Smilies" reg vir die oond
Aan die braai in die kiln
Middagete

Ons koop appels, want dis appelwêreld dié, en druiwe. Die turkish delight kon ons ook nie weerstaan nie. Tot iets vir Maja - 'n skadu dakkie vir daardie warm middagson.

Ons en ons aankope klim die dolmus en ons ry terug Eğirdir toe, moeg gemark.

Tuesday, September 23, 2014

Turkye. Eğirdir.

20 September 2014. Saterdag.

Ons val weer in die pad, na Eğirdir, 'n dorp langs 'n meer met dieselfde naam. Dis 'n lang busrit van vyf ure.

Eğirdir

Ons gaan tuis in Şehsuvar Peace Pension. Dié vreedsame gastehuis is geleë op Yeşilada, die groen eiland, wat met die hoofland verbind is deur 'n mensgemaakte "causeway".

Yeşilada
Eğirdir Meer
Eğirdir Meer

Hier is vis eet 'n moet. Die mama van die gastehuis berei toe vir ons die heerlikste varswatervis voor vir aandete. Eers sop, toe die vis, slaai, bone en snaakse rys. Ons smul.

Friday, September 19, 2014

Turkye. Seeman, swerf nie verder...

18 September 2014.  Donderdag.

Seeman, verlaat die see...

Maja is netjies weggebêre in haar wintersbed. Ons verlaat haar met hartseer in die hart. Dis winter in ons hart...

Ons klim die bus na Pamukkale. Dis snaaks om net land te sien. En op 'n pad te ry. En so vinnig, seker so 40 knope.

Die binneland is baie bergagtig. Dis ander soort berge hierdie.  Dit laat my dink aan lego-blokkie-bergies. Archie sê dis sulke molshoopberge.

Pamukkale beteken "Kasteel van katoen". Dié dorpie is bekend vir sy spierwit berg wat van kalsium gemaak is. Oor miljoene jare het 'n warmbron, met kalsiumryke water, oor die berg geloop en 'n dik laag op dit agtergelaat. Nou is dit spierwit. Dis 'n Wêrelderfenisgebied.

Pamukkale
Kasteel van katoen

Ons stap saam met die miljoene ander agies op en vergaap ons aan die wit. Dit lyk soos kaalvoetdag op die PUK, skoene is taboe. Oral plas mense in die vlak poele rond.

Agies
Voetjie-voetjie?
Kaalvoet in die poel

Ons drentel deur die "travertines" en maak seker ons sit nie 'n voet verkeerd nie. Sou jy dit waag, blaas die sekuriteit die fluitjie.

Terasse

Bo gekom, wag die ruines van Hierspolis op jou. Toentertyd was dit 'n Romeinse en Bizantynse spa, 'n vakansieplek vir vername Romeine. Hier is ruines wat sus Elize en broer Gert se hart sal steel.

Hieropolis
Noord Bizantynse Hek
Noord Romeinse Hek
Antieke Romeinse spa

Die hele natuurlike park is pragtig versorg met paadjies en tuine en swempoele. Dis 'n absolute fees om hier rond te stap.  Tien uit tien vir die Turke!

Pragtige Pamukkale
Archie en ek

Monday, September 15, 2014

Turkye. Kuşadasi. Soms te gou.

14 September 2014.  Sondag.

Alles kom tot 'n einde. Soms te gou. Na 'n laaste rol-rol-rol nag, is vandag ons laaste dag op die see. Ons swem vir oulaas in die Aegean See. Die see wat ek so gevrees het. Die see wat vir ons goed was. Wat ons so beproef het.

Ek weet die kaptein wil graag so bietjie seil. Gus begin liggies waai en sy gesig helder op.


Ons span die seile, span die seile
Eers die genoa dan die hoofseil.
Ons span die seile, span die seile
Eers die genoa dan die hoofseil.

Ons seil ons seil op die Aegean see
Die bloue bloue Aegean see.
Die golwe golwe rol ons mee
Op die bloue bloue Aegean see.


Span die seile


En daai kaptein geniet dit. Ons seil byna die hele pad en trek die seile in toe Kuşadasi voor ons lê. Dis nou net vir diesel ingooi en dan na Maja se plekkie vir die winter.

Daar het so baie water in die see geloop in die vyf maande.

Leon en Dirk het kom kuier. Onthou julle die onvergeetlike Griekse aand? Hot stuff!

Skalkse glimlag
"Hot Stuff"
"I only have eyes for you ..."

Dirk en Rika is saam met ons deur die kanaal van Korinte.

Kanaal van Korinte

Elize en Annette het kom seil. Onthou julle daardie verskriklike rowwe see waardeur Maja en die kaptein ons veilig gebring het?

Windverwaaid
Dapper glimlag
"Captain Arch and me"

Gerrie en Ansu was in twee lande saam met ons, eers Griekeland en toe Turkye. Onthou julle die aankoms in die bedrywige Santorini en hoe pragtig dit daar is? En al die goeters wat op Maja reggemaak is?

Aankoms
Oia, Santorini
Fira, Santorini
Maak goeters reg

Alles kom tot 'n einde. Soms te gou.

Ons gaan nou vir Maja voorberei vir die winter en dan gaan ons deur Turkye toer.