Sunday, July 13, 2014

Naxos. Wat 'n verrassing!

12 Julie 2014. Saterdag.

Naousa Baai tot Naxos

Nuwe dag, nuwe eiland! Nog bar eilande, nog wit huisies, nog blou waters. Nee, ek kla nie, ek spog.

Ons is oppad na Naxos op Naxos Eiland (37° 06.273 N, 25° 22.478 O). Dit is 9.1 myl tot daar. Ek en Archie het ons vroegoggend stry oor diepte. Ek is een van daai mense wat dolfyne aanvoel en vlak water kan sien. Die vrouens sit maar net sooo en luister na ons gestry. Sê niks. Kant kies hulle nie. Staar net strak voor hulle uit.

Ons kom toe ongedeurd deur die vlak dele tussen die rots en die eiland en daar is weer vrede tussen die kaptein en sy onderdanige vroutjie. Naxos kom nader en die veerbote vaar naby ons verby, heen en weer. Met reuse deinings wat hul spoor aandui.

Naby Naxos

Ons word eers in 'n wipperige voorlopige deel van die marina ingeprop, waar daar geen plek vir ankergooi is nie, behalwe bo-oor die buurman se anker. So, ek gooi anker bo-oor syne. En ons maak vas en wag dat daar  'n plek oopgaan in die marina.

Die buurman word geroep. Hy het 'n plek gekry. Onthou, ons anker is bo-oor hulle s' n. Maar buurman maak 'n plan.

Hy gooi 'n tou vir Archie en hulle maak die twee jagte se voorpunte aanmekaar vas. Hulle anker het 'n tou en nie 'n ketting nie en hulle maak dit los, gee dit vir Archie aan en hy sit dit onderdeur en dan bo-oor ons ketting voordat hy dit teruggee. En siedaar, nou is hulle anker bo-oor ons s'n. Hulle trek sonder probleme weg.

Buurman gooi tou vir Archie
Tou word teruggegooi
Ankertou onderdeur en bo-oor

Nie lank daarna nie, word ons geroep, ons het 'n plek! Die vreugde, die vreugde!

Ons verwag nie veel van Naxos nie, maar wat 'n verrassing! Dis amper beter as Mykonos. Daar is nie so baie toeriste nie, maar die plek is interessant en vol atmosfeer.

Naxos

Ons loop rond en besien al die besienswaardighede.

Boog en trappe
Rooms Katolieke kerk
Arch
Oudorp
Grieks Ortodokse kerk
Kapel
Uitsig oor baai
Tempel van Appollo

Ons geniet ons verblyf in Naxos terdeë.

Nog 'n dag is verby

Saturday, July 12, 2014

Paros. Naousa Baai.

11 Julie 2014. Vrydag.

Mykonos tot Naousa Baai

Ons is alweer oppad. Ons is altyd oppad. Ons laat altyd plekke agter en soek na nuwe plekke. Ons swerf, waarheen, waarna?

Vandag vaar ons na Naousa Baai op Paros Eiland (37° 08.662 N, 25° 13.670 O), 21.4 myl. Meltemi waai teen Maja se snoet vas. Net liggies en ons vaar die hele pad.

Ligtoring by Naousa Baai

Ons sien een enkele eensame dolfyn en fynkam die waters vir nog, maar niks. Ons vaar maar net, vorentoe na ons volgende bestemming. Ons nader Paros en vaar in die groot baai. Daar is baie ankerplek en na ek en Archie se gestry oor waar die beste plek is, gooi ons die anker en ons is vas.

Daar is nog baie plek
Naousa Baai

Dis warm, die water lok ons in en ons swem in die helder blou-groen. Die aand daal neer oor die baai. Dis amper volmaan en die wit ronde bal hang in die lug.

My hartjie, my liefie, die son sak weg ...
My hartjie, my liefie, die maan kom op ...

Meltemi begin later te waai en die vreedsaamheid van die baai verander in 'n geraas. Ons stel die "ankersleep-alarm" en toe voel ek gerus en gaan slaap. Die alarm sal lui as die anker begin sleep.

Die geruk en gepluk en geraas van Meltemi maak my 01:10 wakker en slaap is vir die res van die nag nie vir my beskore nie. Later word Elize wakker en hou saam nagwaak. Ons is my ma se dogters van die donker. Skielik begin die ankersleep-alarm skreeuend te lui en almal is grootoog wakker. Archie kyk en die anker lyk nog goed. Maja se posisie was net vir 'n oomblik buite die toegelate beweegsirkel.

Almal gaan slaap toe weer behalwe ek. Al die geluide van die wind hou my wakker, al weet ek die anker is veilig.

Die volgende dag voel ek soos 'n uitgewasde lap.

Thursday, July 10, 2014

Mykonos. Skitterwit.

10 Julie 2014. Donderdag.

Vakansiemekka? Inderdaad!

"Little Venice"

Mykonos is witter as wit. Dis skitterwit. Dis spierwit. Dis 'n tipiese wit Griekse eilanddorpie. Die kerke is wit, die huise is wit, die alles is wit. Met 'n titsel ligblou en donkerblou en seegroen, titsels van alle kleure.

Wit trappe op
Wit trappe af
Windmeule
Een wit windmeul
Paraportiani kerk

Dit wemel van mense, meestal bronsgebrande lywe. Almal sensueel natgesweet van die hitte van 'n skroeiende son.

Ons drink 'n frappe (tipe yskoffie) en 'n kataifi (soort baklava) op 'n piepklein balkon. Die koffie is te bitter en die kataifi is te soet.

Ons wag vir ons frappe
Doedies

Mykonos is verseker 'n besoek werd.

"Lady in white"











Mykonos.

9 Julie 2014. Woensdag.

Ermoupolis tot Mykonos

Ons vertrek 07:30 van Ermoupolis na Mykonos (37° 27.889 N, 25° 19.624 O), 19.1 myl, die vakansiemekka in die Cyclades.

Vroegoggend in Ermoupolis
Ermoupolis

Jy sal dit nie glo nie, maar die water is plat. Meltemi het vir Gus gaan kuier, want hy is nêrens te sien nie. Jou waarlik, ons motor al die pad na Mykonos.

Die bemanning het 'n streep weg

Die eilande hier is heel anders as dié in die Ioniese see. Ek mis die olyfbome, die groen wat die landskappe sagter en vriendeliker laat lyk. Hierdie berge en heuwels is bar en hard. Daar is iets ongenaakbaar in hul voorkoms.

Bar en hard

Oppad breek ons die ietwat vervelige geprrr-prrr met  'n diepseeswem. Archie is meer man, want hy swem saam met drie pragtige meerminne.

Meerminne

Mykonos lyk uit die verte na 'n wit blob in die bruin. Vakansiemekka? Ek wonder...

Wit blob

Ons kry 'n vasmeerplek in die marina. Archie en die vasmeerman het so effense woordewisseling oor toue, maar nie lank nie en ons is vas. Dit is warm en ons drie vrouens lê en slaap soos vrot velle en Archie is kort op ons hakke. G'n mens kan iets produktief doen in die hitte nie. So, ons siesta soos regte egte Grieke.

Toe mens weer kan leef en ons uit ons sweetbeddens opstaan, klim ons die waterbus en gaan dorp toe.

Mykonos

Syros Eiland. Verjaarsdag op Ermoupolis.

8 Julie 2014. Dinsdag.

Ons tweede dag in Ermoupolis. Ons raak nou gewoond aan die gewieg op Maja. Jy maak maar vrede daarmee.

Ons gaan dorp toe. Ons stap in die straatjies rond en verkyk ons aan die ouwêreldse geboue. Die Japannees in Elize word weer wakker en sy neem net foto's.

Ons stap op na die kerk op die heuwel net agter die dorp. Die kerk is mooi van binne en buite met 'n panoramiese uitsig.

Kerk op die heuwel
Mooi van buite ...
... en mooi van binne
Uitsig oor die dorp
St Nikolas kerk

Ons begin die aftog te blaas. Ons besoek nog 'n kerk. Onthou ek is mos eintlik 'n kerkmens. 'n Priester is besig om die reuse kandelaar se kristalle skoon te maak. Een vir een, met groot sorg en toewyding.

Ons stap rustig terug na Maja verby klein, tradisionele wit en blou kapelletjies, straatmusikante, ou geboue en steil trappies-straatjies.

Kapelletjie
Teen die hortjies
Ou gebou
Trappies-straatjie
Driemanskap

Vanaand gaan Archie ons vrouens uitneem vir ete, want ek verjaar.

Ek verjaar
Bon appetit