Wednesday, June 18, 2014

Panormou Baai. Moeg.

17 Junie 2014. Dinsdag.

Trizonia tot Panormou Baai

Ons vertrek van ons "along side" posisie. Die Hollander is oral, gee raad en bevele. Is hy dan ons kaptein? Ek luister net (gewoonlik na 'n bietjie teepraat) na my kaptein, Archie. Die Hollander én al sy travante kan gaan vlieg. Hulle laat my onbevoeg en onvergenoegd voel. En maak nog boonop die katwyf in my wakker.

Ek wil net seil en vaar en anker en sukkel en stres, saam met mense waarvoor ek lief is. Ek verlang na my familie.

Oggendskoot - Verlange

Ons span die seile en Archie sê met genoegdoening: "Dis 'n goeie dag." Die seil wit in die lug, die water spliesh-splash verby Maja se snoet. Dit bring kalmte vir my siel. Dis net 10.5 myl na Panormou (38° 21.619N, 22° 14.696 O) waar ons gaan anker. Ons gooi anker en ek en Archie gaan aan land met Dinkie.

Ons stap langs die strand na hulle klein hawe, maar Maja sal nie hierin kan pas nie, heeltemal te klein.

Klein hawe

Ons stap rond en kom op twee dames af met 'n ou Citroen.  Dit het 'n sondak en sy gebruik dit hoofsaaklik om haar honde rond te ry. Daar is gelukkig geen honde in sig nie, en sy beduie ons kan inklim vir 'n foto. Sy neem 'n  windskeef foto.  Die een vrou is Vlaams en die ander een Belgies en ons praat Afrikaans.

Citroen en dames
Windgat, maar windskeef

Terug by Maja, is dit Dirk en Rika se beurt om die dorp en omgewing te verken en hulle klim oorgretig in Dinkie en daar trek hulle. Hulle stap heerlik rond en bring vir ons lemoene en suurlemoene saam wat 'n vriendelike Griekse weldoener vir hulle gegee het. Dirk eet die lemoen dat die sop spat. Dis heerlike, sappige lemoene.

Die wind bedaar saam met die aand wat daal. Ek voel lewensmoeg en Arch bietjie loopneuserig en hy gaan slaap 20:00, terwyl dit nog daglig is en ek 20:30 terwyl dit nog steeds daglig is. Elke aand se 23:30 se gaan slaap, raak te veel vir 'n pensioenaris en sy ou vroutjie.

Dirk en Rika geniet die Griekse seilvakansie vreeslik en koop die tyd uit. Hulle geniet die skemeraand op die dek.

Monday, June 16, 2014

Trizonia

16 Junie 2014. Maandag.

Nafpaktos tot Trizonia

Nafpaktos is 'n prentjie in die oggend. Doodstil en nie-roerend roerend mooi. Ek kan nie glo dis dieselfde kwaai baai as gister nie.

Oggendskoot - Nafpaktos weerkaatsing
Hawepoort

Dirk en Rika swem verkwikkend in die stil waters. Geniet dit vreeslik. Ons trek anker op en hy het so goed gebyt, dat ons ekstra moeite moet doen om dit uit te kry. Daar sit so 'n taai, klewerige modder daaraan vas.

Ons vaar op die stil waters en daar is nie sprake van seil nie, want Gus is nêrens nie. Ons is oppad na Trizonia Eiland, (38° 22.161 N, 22° 04.553 O), 13.8 myl. Dis 'n baie klein eiland met net een dorpie met die naam Trizonia.

Stille waters, dieper grond ...
... onder draai die duiwel rond

Ons vaar verby gehuggies en dorpies wat langs die kuslyn onder die indrukwekkende berge (1 300 m) lê. Spilia is een van die dorpies en daar is ook klein hawetjies, Glyfada en Chana, wat heeltemal te klein is vir 'n seiljag.

Spilia

Ons kom by Trizonia aan, sommer so saam met Gus, wat toe daar en dan uit sy slaap uit opstaan. In die hawe steek die mas uit van 'n seiljag wat gesink het. Dit is nou nie wat ek eintlik bemoedigend sal noem nie.

Gesinkte seiljag

Arch soek en kry 'n plek en ons meer alongside vas. Ek dink toe nogal ons vaar nie te sleg nie, maar ons lyk seker soos pampoene, want almal wil raad gee. Die Belgiese vrou praat so baie terwyl ons vasmeer, dat ek glad nie kan konsentreer nie. Die Belgiese man gee so baie bevele dat ons koppe draai. Hy seil al vir 'n leeftyd. Die vrou oorkant gee vir ons 'n papier van hoe die toue vasgemaak moet word. Magtig, seil hou jou nederig.

Trizonia hawe

Die wind waai en loei deur al die toue en die windtubines draai dat hulle bars. Dirk en Rika gaan stap 'n ent en later gaan stap ek en Archie. Ons stap boontoe en die uitsig is pragtig. Oorkant die water lê die hoofland. Onder lê die hawe en die dorpie. Ai, dis so mooi. Ek is seker Leon en Dirk sou die hele eiland platgeloop het.

Uitsig

Ek gaan sit langs die see, eensaam en alleen en tuur weemoedig in die verte, wagtend op my kaptein op 'n wit seeperd. En hy daag daar op, uit die blou en hier is hy nou.

Eensaam en alleen
My kaptein en ek

Gister was Sondag en die supermarkte was toe. Op hierdie eiland is net 'n mini mark met min voorrade en die arme Dirk en Rika dink hulle staar verhongering in die gesig.

Rika en Dirk maak kos met die voorrade wat ons het en ons eet heerlik.


Sunday, June 15, 2014

Nafpaktos.

15 Junie 2014. Sondag.

Patra tot Nafpaktos

Dis Vadersdag. Gelukkige Vadersdag, Pa! En aan al die ander vaders.

Nuwe bemanning - Arch, Ek, Rika en Dirk

Ons vertrek 08:45 uit Patra na Nafpaktos, (38° 23.495 N, 21° 49.961 O), 9.6 myl. Archie vra vir die hawemeester van die Rio-Antirrio Brug toestemming om onder deur die brug te gaan. Die brug is 2.25 km lank en is indrukwekkend. Ek neem die brug van alle moontlike hoeke af en Archie sug maar net.

Rio-Antirrio Brug
Brug en berge
Bles Bruggens

Gus begin waai en ons span die seile. Hy waai skoon uit 'n ander rigting as wat voorspel is en baie sterker. Ons rol saam met die deinings die baai in. Dis eintlik nie 'n baai nie, dis sommer net 'n stuk see. Daar is 'n dorpie met 'n baie mooi kasteel en mure om.

Nafpaktos met sy kasteel en mure teen die berg

Die ankerplek is nie beskut teen suidewind nie, so ons moet ons maar regmaak vir hop. Dirk en Rika gaan eerste dorp toe met Dinkie, en ek hou net duimvas dat hulle nie afval en verdrinking in die oë staar nie. Ek en Archie bly op Maja om 'n oog te hou op Gus.

Rika en Dirk durf die deinings aan

Daar is baie aktiwiteit op hierdie waters. Dit wemel van "kite surfers". Die spoed waarmee hulle oor die water seil, slaan jou asem weg. Hulle lewer vir ons 'n privaat vertoning en kom baie naby Maja verby. Ek en Archie skree: "Bravo!" Dit moedig hulle aan tot höer hoogtes en hulle trek deur die lug en land dan weer sagkens op die water en vlieër verder.


"Kite surfer"

Dirk en Rika kom terug en dis ek en Archie se beurt om te gaan. Dinkie en Archie doen hulle ding en ons kom veilig aan land. Ons stap deur die dorp verby die die klein hawe na die kasteel. Die mure laat my verlang na Kotor in Montenegro.

Ingang van die hawe
Mure
Ingang vanaf die see

Maja lê eensaam in die baai, met Gus wat effe bedaar het. Twee veraf-vae figure is sigbaar op haar, waaksaam op hulle pos.

Maja en Marieks

Terug op Maja geniet ons die see wat kalm raak en die aandlug en die gesels. Die musiek van die land kom oor die water na ons aangesweef en ek wonder wat gebeur daar in die dorp.

Patra. Nuwe gaste.

14 Junie 2014. Saterdag.

Dirk en Rika daag op terwyl ek 'n middaguiltjie knip. Ek skrik gelukkig wakker voordat hulle my op heterdaad betrap.

Hulle reis lig en kom met klein tassies aan. Oor die plank en hulle is aan boord. Hulle het varsprodukte saamgebring. Gawe mense, die Groblers.

Rika en Dirk Grobler

Ons gaan die aand na 'n sangaand toe. Dit klink meer soos Aspoestertjie se stiefsusters wat sing. Soos musiek wat pas 1001 Arabiese nagte. Die een man speel een van daai instrumente wat die slange krullerige dansbewegings laat doen.  Niemand kan hulle daarvan beskuldig dat hulle 'n engelekoor is nie. Hulle klink meer soos sangers wat op my sangaande moet sing, dis nou die sangaande wat Archie so vrees. Om op te som - dis nie so mooi nie.

Sing hulle harte uit

Ek verkyk my aan die sangers. Maak 'n studie van hulle gesigte. Hulle sing uit hulle hart uit en ek kry waardering daarvoor. En ek is uitgehonger vir 'n bietjie kultuur in die vreemde.

Die Groblers is moeg en hulle kruip tussen die vere in, want môre begin ons seil.



Friday, June 13, 2014

Patra. Tot siens en markdag

12 Junie 2014. Donderdag.

Leon en Dirk pak hulle goedjies (Skipskop, skipskop, pak jou goedjies op jou kop...). Hulle toer verseker nie lig nie. Die rugsakke bult uit hulle nate uit en die rugge trek skoon krom van die swaar vrag. Dis al daai aankope wat hulle gedoen.

Swaar dra aan al die aankope

Ons stap saam met hulle busstop toe. Ons groet vir oulaas met die nodige drukke en kusse en hulle kry hul plekkie in die bus en dit is verby. Nou is daar net herinneringe en foto's as bewys van hulle tyd saam met ons en Maja op die Griekse eilande. Ek en ou Arch kry ons loop terug huis toe. Ja, Patra Marina voel soos huis.

Tot siens, julle!


Toe sien ons dit! 'n Mark! En nie sommer enige ou markie nie, 'n reuse straatmark, wat blokke lank strek met honderde stalletjies met die wonderlikste groente en vrugte en nog wat.

Dis een van daardie Donderdag markte en dit wemel van ou Griekse tannies met hulle trollies, swartgeklede priesters met hulle sakke, oud en jonk, wat vars produkte koop. En ons koop - perskes, kersies, aarbeie, piesangs, spanspek, tamaties en.. en .. en... Dolgelukkig en doodtevrede stap ons terug met 'n rugsak vol aankope. Wie dit alles gaan opeet, weet nugter!

Markfees
Aarbeie te kies en te keur
Rykdom kleure van die oes
Uitbundige spanspek
Groen groente

Ons is hier in Patra tot Sondag, wanneer ons die onbekende waters van die Golf van Korinth betree, oppad na die Korinth Kanaal, wat ons na Athene neem. Saterdag kom ons volgende gaste, Dirk en Rika Grobler, van Suid-Afrika.

As julle niks van ons hoor nie, moenie bekommer nie. Hier gebeur nie veel nie. Ons gaan ons net besig hou met die dagtake van die bootmense.

Thursday, June 12, 2014

Patra. Die einde is in sig.

10, 11 Junie 2014. Dinsdag en Woensdag.

Mesolongi tot Patra

Mesolongi lê roerloos, sonder rimpel. Die berge buffer die baai teen wind.

Buurboot weerkaatsing

Ons vertrek later as gewoonlik, want Leon en Dirk moet eers die stortkoepon gaan teruggee om hulle deposito terug te kry. Ons wag geduldig op 'n ewe roerlose Maja. Teen 09:30 is ons gereed en ons beman ons werkspunte en doen die nodige om Maja vry te laat van die bande van Mesolongi Marina en ons vaar deur die moeras oppad na Patra (38° 15.630 N, 21° 44.286 O), 19 myl, die manne se eindbestemming.

Oggendskoot - Oppad na die einde

Ons vaar op die plat, windlose see van blou waters. Die eilande waar ons so lekker gekuier het, is deinserig ver in die mistige verskiet, vae beelde van gedagtes en wonderlike herinnerings van beleef en ervaar.

Gus steek op en kaptein wil span. Ons seil vir 'n lang tyd op 'n rofwordende see. Gus word rukkerig en ons reef die seile. Poseidon laat sy perde op die see vry en hulle baljaar op die toppe van die deinings. Maja speel deining vir deining saam. Ons seil vinnig, so 6 knope. Dis vinnig, hoor!

Die tyd breek aan om die seile in te trek, deels omdat Patra nader kom en deels omdat Gus dit begin oordoen met sy gewaai. Ek wonder al klaar hoe gaan ons  in die sterk wind vasmeer. Ek roep op die radio en ou George beduie van die kaai af dat ons binne die marina kan vasmeer en nie by die besoekerskaai nie, omdat ons vir vyf aande bly. Ek is bly, want verlede jaar het ons rowwe deinings in die besoekerskaai beleef.

Rio-Antirro brug naby Patra

Gus is vreeslik gaaf en gaan lê 'n bietjie terwyl ons vasmeer. Sonder enige voorval, meer ons vas en die manne se seereis is volvoer. Ons sien vir Benito, wat Maja tydens die winter opgepas en ons groet soos familie. Dis heerlik om 'n bekende Griekse gesig te sien.

Dirk en Archie gooi diesel in ...
... terwyl Leon lees

Woensdagaand neem hulle ons uit vir ete en ons eet vir oulaas saam. Die kelner sonder woorde (ek weet nie of hy van nature stil is nie en of hy net nie kan Engels praat nie), bring vir ons 'n vreemde drankie, Tentura, sommer so op die huis. Dit smaak na kaneel en daar is ook naeltjies en neutmuskaat in. Dit is 'n stroperige drankie met baie suiker en spesiale brandewyn en die eerste glasie is baie lekkerder as die tweede een, wat hy sommer so woordeloos vir ons ingooi.

Leon en Dirk is moeg, want hulle was by Ancient Olympia. Dit lyk of hulle die 212 m baanitem gehardloop het. Dis hulle laaste nagrus op Maja.

Ons wil net vir Leon en Dirk dankie sê vir die heerlike tyd saam met ons. Ek het die manne gevra wat die hoogtepunte van hulle reis was.


Leon.
Ons geniet jou lewendige belangstelling in alles wat om jou aangaan. My verkyker het oortyd gewerk soos wat jy alles onder 'n vergrootglas geplaas het. Met jou nommer twaalf (ek dink) skoene het jy die wêreld platgeloop en die plekke ondersoek. Om nie te praat van ons heerlike en soms warm gestry nie. Daardie biltongpasta van jou was 'n wenner. Jy kan maar weer kom!

Seeman, swerf nie verder ...

Hoogtepunte.
Die plek - Gaios op Paxoi Eiland.
Die ervaring - Die Griekse aand.

Paxoi Eiland naby Gaios
Griekse aand by Taverna Nicolas

Dirk.
Archie se woorde: "An officer and a gentleman!" Dankie vir jou geweldige hulpvaardigheid. As ek nog dink ek doen iets, het jy al klaar die taak vir my gedoen. Jy is voorwaar 'n seiler. Geen tou is jou baas nie. Jy het jou skoene volgestaan as Arch se regterhand toe Maja se prrr stil geword het. En jy kan boonop lekker kos maak. Jy kan maar weer kom!

... Seeman, verlaat die see

Hoogtepunte.
Die plek - Corfu. (Hy sê dis 'n onregverdige vraag, want al die plekke is iets besonders)
Die ervaring - Die Griekse aand.

Ou Fort en Madraki Marina by Corfu
Griekse musikante



Wednesday, June 11, 2014

Mesolongi. Deur die kanaal.

9 Junie 2014. Maandag.

Oxeia Baai tot Mesolongi

Leon en Dirk se tweede laaste dag. Ons is oppad na Mesolongi (38° 21.595 N, 21° 25.054 O), 20 myl, in die moeras.

Ons span die seile en seil baie skeef. Soos ek nie daarvan hou nie. Gelukkig help Dirk vir Archie om te "reef", want ek hou mos nie van skuinslê nie. My blonde brein sukkel om te verstaan dat skuinslê nie omval beteken nie. Gus waai in vlae en ruk aan die seile. Ek is een van daai mense wat sommer "gereef" sal begin seil. Nadat die seile kleiner gemaak is, voel dit sommer stukke beter en my suurbek breek oop in 'n glimlag.

Ons seil vir 'n lang tyd en dis lekker. En dit is nogal vinnig, die water klots en dit klink heel anders as Maja se geprrr. Archie is in sy element en glimlag breed en die manne geniet dit. Ek ook.

Ons benader die kanaal waardeur ons moet vaar.Ons kyk waar is die bakens. Dis vlak moeras hier en as jy nie tussen die bakens vaar nie, is daar gevaar van stranding. En ek hou mos nie van strand nie. Oral staan huise op stelte. Hierdie is waarlik watermense wat uit en van en op die water leef.

Watermense
Oom vang vis

Voor ons lê die marina, ons plek word aangewys en met al die helpende hande, meer ons maklik vas.

Marina weerkaatsings
Marieks in marina

Dis warm en ons is dors en "cold beverages is aan die orde van die dag. Dit word nou werklik somer in die geweste. Ons gaan dorp toe, dis 'n ver ent om te stap na die dorp, die son bak op ons neer. Mesolongi is nie eintlik 'n toeriste dorp nie, maar dis deel van die verskeidenheid van dinge en ervarings en plekke wat Griekeland so besonders maak.

Dirk de boer
Leon de lange
Archie de antieke
Ekke die mooi nooi

Na 'n roomys pak ons die terugtog aan en Maja verwelkom ons met koue drankies wat ons red van totale ontwatering en ons laaf na verskroeing van bo. Dit word somer in Griekeland.

Vissersboot

Vanaand maak Dirk kos. Dis 'n pastabesigheid met 'n worsding, gebraaide piesang, kaas en uie. Ek hoop dis net so lekker soos Leon se biltongpasta van die ander aand.

En dit was smaaklik!