Sunday, June 15, 2014

Nafpaktos.

15 Junie 2014. Sondag.

Patra tot Nafpaktos

Dis Vadersdag. Gelukkige Vadersdag, Pa! En aan al die ander vaders.

Nuwe bemanning - Arch, Ek, Rika en Dirk

Ons vertrek 08:45 uit Patra na Nafpaktos, (38° 23.495 N, 21° 49.961 O), 9.6 myl. Archie vra vir die hawemeester van die Rio-Antirrio Brug toestemming om onder deur die brug te gaan. Die brug is 2.25 km lank en is indrukwekkend. Ek neem die brug van alle moontlike hoeke af en Archie sug maar net.

Rio-Antirrio Brug
Brug en berge
Bles Bruggens

Gus begin waai en ons span die seile. Hy waai skoon uit 'n ander rigting as wat voorspel is en baie sterker. Ons rol saam met die deinings die baai in. Dis eintlik nie 'n baai nie, dis sommer net 'n stuk see. Daar is 'n dorpie met 'n baie mooi kasteel en mure om.

Nafpaktos met sy kasteel en mure teen die berg

Die ankerplek is nie beskut teen suidewind nie, so ons moet ons maar regmaak vir hop. Dirk en Rika gaan eerste dorp toe met Dinkie, en ek hou net duimvas dat hulle nie afval en verdrinking in die oë staar nie. Ek en Archie bly op Maja om 'n oog te hou op Gus.

Rika en Dirk durf die deinings aan

Daar is baie aktiwiteit op hierdie waters. Dit wemel van "kite surfers". Die spoed waarmee hulle oor die water seil, slaan jou asem weg. Hulle lewer vir ons 'n privaat vertoning en kom baie naby Maja verby. Ek en Archie skree: "Bravo!" Dit moedig hulle aan tot höer hoogtes en hulle trek deur die lug en land dan weer sagkens op die water en vlieër verder.


"Kite surfer"

Dirk en Rika kom terug en dis ek en Archie se beurt om te gaan. Dinkie en Archie doen hulle ding en ons kom veilig aan land. Ons stap deur die dorp verby die die klein hawe na die kasteel. Die mure laat my verlang na Kotor in Montenegro.

Ingang van die hawe
Mure
Ingang vanaf die see

Maja lê eensaam in die baai, met Gus wat effe bedaar het. Twee veraf-vae figure is sigbaar op haar, waaksaam op hulle pos.

Maja en Marieks

Terug op Maja geniet ons die see wat kalm raak en die aandlug en die gesels. Die musiek van die land kom oor die water na ons aangesweef en ek wonder wat gebeur daar in die dorp.

4 comments:

  1. Absoluut fantasies! Baie dankie vir hierdie blog: ek le onder 4 komberse en verbeel my ek is in Griekeland. Julle foto's maak dit so werklik.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi.
      Ek is bly jy beleef die ervarings as werklik.

      Delete
  2. Hallo Julle!

    Dis seker lekker met die nuwe gaste daar op Maja. Ek kan sommer aan die water sien Gus waai lekker. Julle is nogal diep in die stuk see, n hele ent vd land af. Is dit hoekom julle nie gaan kyk waste musiek speel nie, of ry julle nie graag met Dinki in die donker nie. Of was dit nog daglig?

    Wel, hoe ook al, lekker slaap en lekker vaar more.

    Liefde
    Exxxx

    ReplyDelete
  3. Hi.
    Die see was bietjie rof om met Dinkie te ry sonder om nat te word.

    ReplyDelete