9 Junie 2014. Maandag.
 |
Oxeia Baai tot Mesolongi |
Leon en Dirk se tweede laaste dag. Ons is oppad na Mesolongi (38° 21.595 N, 21° 25.054 O), 20 myl, in die moeras.
Ons span die seile en seil baie skeef. Soos ek nie daarvan hou nie. Gelukkig help Dirk vir Archie om te "reef", want ek hou mos nie van skuinslê nie. My blonde brein sukkel om te verstaan dat skuinslê nie omval beteken nie. Gus waai in vlae en ruk aan die seile. Ek is een van daai mense wat sommer "gereef" sal begin seil. Nadat die seile kleiner gemaak is, voel dit sommer stukke beter en my suurbek breek oop in 'n glimlag.
Ons seil vir 'n lang tyd en dis lekker. En dit is nogal vinnig, die water klots en dit klink heel anders as Maja se geprrr. Archie is in sy element en glimlag breed en die manne geniet dit. Ek ook.
Ons benader die kanaal waardeur ons moet vaar.Ons kyk waar is die bakens. Dis vlak moeras hier en as jy nie tussen die bakens vaar nie, is daar gevaar van stranding. En ek hou mos nie van strand nie. Oral staan huise op stelte. Hierdie is waarlik watermense wat uit en van en op die water leef.
 |
Watermense |
 |
Oom vang vis |
Voor ons lê die marina, ons plek word aangewys en met al die helpende hande, meer ons maklik vas.
 |
Marina weerkaatsings |
 |
Marieks in marina |
Dis warm en ons is dors en "cold beverages is aan die orde van die dag. Dit word nou werklik somer in die geweste. Ons gaan dorp toe, dis 'n ver ent om te stap na die dorp, die son bak op ons neer. Mesolongi is nie eintlik 'n toeriste dorp nie, maar dis deel van die verskeidenheid van dinge en ervarings en plekke wat Griekeland so besonders maak.
 |
Dirk de boer |
 |
Leon de lange |
 |
Archie de antieke |
 |
Ekke die mooi nooi |
Na 'n roomys pak ons die terugtog aan en Maja verwelkom ons met koue drankies wat ons red van totale ontwatering en ons laaf na verskroeing van bo. Dit word somer in Griekeland.
 |
Vissersboot |
Vanaand maak Dirk kos. Dis 'n pastabesigheid met 'n worsding, gebraaide piesang, kaas en uie. Ek hoop dis net so lekker soos Leon se biltongpasta van die ander aand.
En dit was smaaklik!
Marietjie
ReplyDeleteJy moet tog seker maak dat jy elke aand blog. Toe ek Sondagaand se blog soek, het ek orals rondgevra of julle dalk iets oorgekom het!
Ek geniet jou stories en foto's meer as wat jy ooit sal besef! As jy nie meer weet wat om te skryf nie, doen 'n kos-blog. Of 'n mense-blog. Waarmee hou mense op 'n eiland hulle besig??
Groete!
Annette se suster
Hi. Dankie vir bekommernis!
DeleteHalo Julle!
ReplyDeleteAi, tweede laaste dag! Dit klink of die manne lekker kos kan maak. Eks bly hulle kon met n lekker vinnige seil afsluit, wat ek weet Arch net so geniet het.
Julle 4 se fotos is baie mooi. Elkeen se klere pas by die kleure vd foto. Baie mooi.
Geniet more die laaste dag saam met Leon hulle.
Liefde
E xxxx
Hi.
DeleteDie manne maak lekker kos. Jy moet maar ook 'n reseppie saambring. Jy en Annette gaan ook 'n kookbeurt kry.
Arch het seil geniet.
Hi Santie.
ReplyDeleteOns het soms internet probleme. Dankie vir die omgee en vir die idees vir blog.