Wednesday, September 18, 2013

Oorwinter in Patra - Laaste dae.

18 September 2013. Woensdag



144 seildae, vier lande, 1758 myl (3200km)


Soveel dae, soveel dinge. Dit is baie waar van my lewe as Seilende Sigeuner.

Daai eerste aand op Pivorac het ek gewonder hoe oorleef ek daardie nag. En erger nog, hoe oorleef ek vyf maande van seil?! Van sulke nagte? In 'n klein seiljag wat my huis moet word. Ek kan verdomp nie eers seil nie, al was ek op die kursus en al het ek skipper papiere.

Ek het 'n ervaring gekry waarvoor ek nie emosioneel begroot het nie. Dis maklik om grootbek te sê: "Ons gaan vir vyf maande seil", en almal "oo" en "aa". Sommige beny jou, hulle dink Mainstay advertensie (gmf). Ander dink jy is stapelgek (ek ook). Party dink jy is braaf. (Ons is).

Ek hét vir vyf maande geseil en ek hét dit oorleef. Meer as oorleef, intens beleef, in oorgawe geleef! Nooit sonder 'n bloukol nie!

Ons het alles gekry. Mooi weer, slegte weer. Sonskyn, reën. Gus wat lê, Gus wat verwoed blaas. Plat see, rowwe see. Groot stede, ou stede, klein dorpies en salige ankerplekke. Anker, boei gryp en vasmeer (alongside, snoet eerste, stert eerste en die Griekse manier).

Ek en kaptein Arch het alles saam aangepak, beleef en hanteer en Maja was altyd vir ons 'n veilige hawe, 'n huis. Nou moet ons haar alleen agterlaat.

Ons eie Maja ...
... ons tuiste



Grietjie en Bushy, Elize en Fanie, die kinders - Michelle, Gerrit en Anika het kom kuier en het deel geword van ons ervarings. Jose, Mart-Marie en die kinders het kom oë wys. Selfs Lauren het 'n dag saamgeseil. Sonder hulle, sou my verlange na my huis en sy mense te veel geword het.

Bushy
Grietjie
Elize en Fanie
Die kinders - Anika, Michelle en Gerrit
Lauren
Mart-Marie, Jose en kinders


Nou is ons besig om Maja reg te kry vir haar winterslaap. Sy word binne geskrop, alles word uitgepak, gewas en weer gebêre. Archie moet enjin voorberei vir die winter, toue en ankerketting uitdroog, diesel volmaak en iemand aanstel om 'n oog oor Maja te hou. Soveel dinge moet gedoen word.

Seilende sigeuner? Seilend ja. Sigeuner?  Ek weet darem nie. Ek verlang te veel huis toe.

Kaptein en Seilende Sigeuner



Môre-aand, 11:59 neem ons die veerboot na Venesië toe. Dis 'n 36-uur vaart. Dan word ek weer die reisende sigeuner. Ons gaan bietjie op droë grond toer in Venesië, Slovenië en Pula in Kroasië . Ek sal julle alles daarvan vertel. Hou maar die blog dop!

Maar nou het ek eers werk om te doen ...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, September 16, 2013

Patra. Dag 142.

16 September 2013. Maandag.


Toe ek opstaan, het ek nooit gedink dat vandag 'n potblou Maandag gaan word nie...

Hulle het wind en reën voorspel vir vandag, maar dit lyk na 'n heel skaflike dag. Archie gaan Marinakantoor toe om te reël vir oorwinter. Maja moet in die water oorwinter en nie op land nie. Hulle bespreek die saak, wys hom waar haar hiberneerplek is en Archie besluit die saak lyk reg.

Ons gaan 12:00 dorp toe om kos te koop. Dis toe ons terugstap dat dit begin.

Gus steek op en waai amper my oogballe uit my oë uit. Ons beur teen hom boot toe. Die drywende kaai beweeg so erg, Fanie sal daar en dan seesiek raak. Ons steier op die kaai, dit lyk of ons te lank in die kroeg was.

Maja waai en wieg, dit voel soos daai dag van Cavtat na Montenegro. Ons bure staan ook grootoog op die dek, benoud. Die grootste gevaar is dat die golwe die bote teen die kaai gooi en dan erg beskadig. Die Marina se mense kom en wys waar ons nog eksta toue moet vasmaak om die bote te beveilig. Gelukkig sê hulle dat daar nie onmiddellike gevaar is nie. Die wind waai tot 32 knope. Dit kom in sulke vlae. Dit voel of Maja opstyg en dan weer land.

Stilte voor die storm



Die wolke lyk dreigend, die see rol in en op die oop see lyk dit soos Wildernis. Benoud, benouder...

Dreigende wolke



Na 18:00 waai Gus nie meer so sterk nie, maar ons wieg nog, maar dit is heel draaglik. Ek is bly ons was nie vandag op see nie.

Gus het bedaar
Die son sak



Ek het gedink ek is klaar met die see; toe kom die see na my toe.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Begin van die einde. Dag 141.

15 September 2013. Sondag.

Mesolonghi tot Patra


Vandag is ons laaste dag op die see, want Patra (38º 15.611 N, 21º 44.275 O) is laaste op ons lys. Maja gaan daar oorwinter.

Ons doen alles met hartseer en heimwee. Ons wil nie hê die seil moet op raak nie. Ons vaar deur die vlak vleiland-kanaal. Kyk vir oulaas vir die stelthuisies.

Daar is gelukkig genoeg wind dat ons vir oulaas kan seile span. Die landskap gly stadig en statig verby. Die see sy gewone mooi blou, berge staan roerloos in die verte en hou wag.

Rooi boot, hoë berge



Patra in die verte, derde grootste stad in Griekeland. Ons kyk vir mekaar met oë wat mekaar verstaan. Dis amper klaar. Ons wil vasklou aan die laaste seil van ons eerste seisoen. Dit het te gou deur ons vingers geglip.

Laaste seil
Maja onder vol seil



Ons kom by Patra Marina aan en ons kry 'n plek by die besoekers se kaai. Dis 'n simpel plek, want as die wind van die suid-weste waai, rol die see in. Dis gelukkig kalm vandag.

Patra in die verte
Brug oor die Golf van Patra
Maja in Patra Marina
Breekwater



Patra is 'n industriële- en hawestad. Dis glad nie mooi nie. Ek is glad nie lus vir kosmaak nie en ons gaan eet uit. Archie eet kalfslewer toegedraai in lam en ek eet varknek toegedraai in vark. Heerlik en geurig.

Ons slaap effens wiegend in ons geliefde Maja.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, September 15, 2013

Mesolonghi. Dag 140.

14 September 2013. Saterdag.

O. Oxeias tot Mesolonghi


Ek was nie lus vir nagwaak nie!

Gus het die hele nag gewaai. Ons het getiekiedraai en Maja het getril en Gus het geloei. Soms  het dit gelyk of sy haarself wil verbysteek. Ek kon nie slaap nie. Gus wil nie loop lê nie. 03:30 het ek ingesluimer. Gelukkig het die anker gehou.

Ons gaan na Mesolonghi (38º 21.660 N, 21º 25.050 O), 20 myl. Ons vaar die meeste van die tyd en seil toe die wind dit toelaat.

Kaptein span die seile
Barre berge
Al lê die berge nog so blou



Ons kom by die bakens wat die begin van die kanaal aanwys. Dis vleiland hierdie en dit is vlak. Jy moet in die kanaal vaar waar dit diep genoeg is, anders strand jy. Langs die kanaal is daar huisies op stelte. Dié mense is almal vissers van beroep. Oral is visvangbedrywighede aan die gang.

Pad deur die vleiland
Huis op stelte
Vlei-voëls
Huisies langs die kanaal



Die Marina is groot. Baie jagte oorwinter  hier. Hier is ook "live aboards", dit is mense wat die hele winter op die boot in die marina bly. Ons roep op die radio en die vriendelikste vasmeerman ooit, wag ons in en help vasmeer. Later die middag begin Gus met mening waai, maar ons is veilig. Die dorp is niks om oor te praat nie. Dis sommer maar net 'n plek.

Son sak oor die marina



Archie is lus vir seekat en ek maak vir ons. Ek kyk die arme gevriesde seekatte so uit die hoek van my oog en kry hulle vreeslik jammer. Ek gooi hulle in die pot en kook dit. En ons eet seekat!

Aandete



Vanaand gaan ek lekker slaap.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, September 13, 2013

Wolkwoud. Dag 139.

13 September 2013. Vrydag.

O. Andreou tot O. Oxeias


Ons seildae raak min. Vandag is ons tweede laaste dag op die water. Ons is oppad na O. Oxeias (38º 20.150 N, 21º07.105 O). Dis 'n lang dag, 24 myl om te gaan.

Wolkwoud
Lug lyk soos woud
woud vol wolke.
Winde waai
wolke wyd en syd
.

Wolke
Katoen
Sekelwolk




Dit reën elders, want die wolkwoud verras ons met 'n reënboog. Oral is wolke. Sommige lyk soos wol, ander soos katoen. Party is spierwit, ander dreigend grys.

Dit reën elders



In dié omgewing is nie baie ankerplekke nie. Ons nader een van die ankerplekke. En wat sien ons daar? Die ankerplek het verander in 'n visplaas! So, anker is buite die kwessie. Die volgende ankerplek is ook 'n ... visplaas! Nou is daar net een plek oor en dit is so half in die middel van niks en nêrens. Die boek sê darem dit bied genoeg skuiling. En ons anker.

Oxeia Eiland
Ankerplek is nou visplaas
Uitsig van ankerplek




Die lug is nog steeds 'n wolkwoud. Ek hoop nou net nie hier broei iets hier uit nie. Gus waai ons die kant toe en dan daai kant toe. Ons het baie ankerketting uit, so ons is gepanser teen Gus.

Dramatiese aandtoneel



Ek is nie lus vir nagwaak nie.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Anker op O. Andreou. Dag 138.

12 September 2013. Donderdag.


Fiskardo tot O. Andreou


Ons neem traag afskeid van Fiskardo. Ons trek anker op sonder probleme. En weg is ons na O. Andreou (38º18.406 N, 20º43.379 O), 13 myl op die suidelike punt van Ithaca Eiland.

Orals is wolke. Orals is berge. Orals is see. Orals is mooi. Ons is orals. Ons geniet die vaart.

Elke berg het sy eie wolk
Cephalonia Eiland



Ons vaar om die hoek en daar is O. Andreou, ons ankerplek. Vreedsaam, stil en mooi. Ons vestig ons weer snoesig en knus in die hoek, met 'n anker voor en twee toue wat ons aan die rotse vasmaak agter ("line ashore")

Ons bure op anker
"Line ashore"
Nog een



Die water is lou en helder en ek swem tot ek krokodilvel het. Ek besef dat my swemtyd min raak. Ek voer die visse en hulle vreet soos aasvoëls. Graanvlokkies is lekker.

Archie besluit dit is tyd vir braai. Waar is ou Bushy nou! Hy beveilig Maja baie goed en maak in Bushy se veilige braai vuur. Ons braai souvlaki (varkkebabs) en braaibrood en dink aan die huis. Ons smul aan die heerlike braaivleis, brood, slaai en plaaslike witwyn.

Dekbraai
Souvlaki - My mond water


Ai, dis so lekker op anker!
Published with Blogger-droid v2.0.10

Fiskardo.Dag 137.

11September 2013. Woensdag.

Frikes tot Fiskardo


Ons trek ons anker op, sonder probleme.

Ons bly by die F's. As dit nie Frikes is nie, is dit Fiskardo. Dis waarheen ons vandag gaan (38º 27.672 N, 20º 34.552 O), 9 myl. Dit is op Cephalonia Eiland.

Fiskardo is 'n gewilde stopplek vir jagte. Jy kry nie altyd daar plek nie, so ons hoop maar vir die beste. Ons span nie seile nie, want Gus lê. Hy is seker nog op Frikes doenig. Besig met manewales in die kaai.

Ons nader Fiskardo



Ons nader Fiskardo en dit lyk propvol. Voor ons is 'n jag, so ons is tweede in lyn vir 'n plek. Ons luier daar rond en die jag voor ons kry 'n plek. Ons luier nog rond en sowaar, 'n ander jag vertrek en ons het 'n plek. Wat 'n geluk! Archie tru, ek gooi anker, 'n man wat nie kan buk nie, help op die kaai en ons is vasgemeer.

Propvol kaai
Uitsig op die dorp
Fiskardo se baai



Wat 'n heerlike plek is Fiskardo nie. Ons is op die dorpskaai en die atmosfeer is goed. Ons gaan natuurlik dorp toe. Ons gesels met die bure weerskante van ons. Veral die Engelse is skreeusnaaks. Dis nou die man sonder 'n oog wat nie kan buk nie en sy vrou. Ons lag so, dat die mense in die cafés oorkant ons, ons aankyk.

Kleurvol
Blommeprag in agterstraat
Nog kleur



So sleg soos wat dit in Frikes was, so lekker is dit in Fiskardo.

Ek lief Griekeland!


Published with Blogger-droid v2.0.10