Wednesday, August 28, 2013

Golwedans. Dag 123.

28 Augustus 2013. Woensdag.

Platarias tot Lakka (Paxos Eiland)



Hulle het reën voorspel vir vandag, 0.1mm vir die oggend en 0.8mm vir die middag. Ons kry ons oggendreën terwyl ons nog slaap, so dis afgehandel.

09:15 trek ons die anker op, maak al die toue los, groet ons Walliese bure en laat spaander. Ons gaan vandag na Paxos Eiland toe. Dis 'n klein eiland met klein dorpies. Vandag is dit Lakka (39º14.319 N, 20º07.973 O), 18 myl.

Op ons nuwe weervoorspellingswebblad, Poseidon, het hulle Gus se sterkte op die Beaufortskaal 4 (11 tot 16 knope) vir die oggend voorspel en 3 (7 tot 10 knope) vir die middag.

Gus waai sy hart uit en ons span die seile, met die genoa gereef (weet nie wat is reef in Afrikaans nie). Gus wil nie gaan lê nie en Beaufort is verkeerd met 3. Gus dans met die Ioniese see en saam doen hulle 'n golwedans en ons moet saam dans.

Oggendskoot - Golwedans
Suidpunt van Corfu Eiland



Die seile help nogal om Maja stabiel te hou en so seil ons die grootste deel van die pad. Net toe ek begin keelvol raak vir die gedansery, kom ons by Lakka aan. Binne die baai is dit heerlik stil. Pragtige helder water wat ons uitnooi om te baai. Die water is 26º, nie eintlik koud genoeg om ons af te koel nie. Ons swem heerlik en daarna maak ons klaar om die dorp te gaan verken. Dinkie neem ons na droë grond.

Ingang tot Lakka
Dorp



Lakka bestaan eintlik net uit restaurante (tavernas). Ons loop deur die dorp en kom op 'n heerlike bospaadjie af, en volg dit al langs die see. Ons kry pragtige uitsigte oor die baai waar ons op anker lê.

UItsig oor baai
Ou olyfboom langs die paadjie



Dis nog steeds warm en toe ons terug is by Maja, wink die water weer en ons sê ja vir 'n swem.

Dis nou al aand en ons wag nog steeds vir die middagreën!



Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, August 27, 2013

Platarias. Dag 122.

27 Augustus 2013. Dinsdag.



Petriti tot Platarias



Ons het die hele nag rondgerol. Nee, ons het nie nagmerries gehad nie. Net liggies rondgerol, want die see het nooit gaan slaap nie. Maja se wiegelied was nimmereindig.

Ons vertrek eers 11:00. Dis bewolk en deinserig, die lug wit-grys. Ons is oppad na Platarias (39º27.114 N, 20º16.574 O), 14 myl.

Oggendskoot - Griekse hoofland



Gus waai lekker, en die kapteinsbevel kom duidelik: "Span die seile!" Wie is ek nou om te stry en ons span die genoa en die hoofseil. En daar trek ons - 5 tot 6 knope. Oral is daar seiljagte op die water, jy sien net wit seile bol in die wind.

Gus word sterker en ons "reef" die genoa (maak die seil kleiner). Daar is wel deinings op die water, maar na Albanië, lyk hulle maar klein. Gus begin ruk en ons trek die genoa in. Ons seil net met die hoofseil, nog steeds so 4 knope.

In Griekekand is daar nie 'n tou wat aangelê is vir vasmeer nie. In plaas daarvan, gooi jy anker, tru reguit agtertoe en maak aan die kaai vas met jou eie toue. Jy moet goed beplan wanneer en waar jy ankergooi. Ons het nie ondervinding daarvan nie en Gus waai sterk, wat alles moeiliker maak.

Daar is nie baie oop plekke nie, maar ons kry darem 'n plek. Ek begin anker gooi, maar die wind waai ons van koers af en ek trek weer op. Arch kry die rigting reg en ek gooi weer. Arch tru en gelukkig sit 'n ander bootmens handjie by met die toue en na 'n stryery met Gus, byt die anker en is ons na genoeg aan die kaai om vas te maak.

Platarias hawe
Hoë berge langs kuslyn



Ons gaan dorp toe en dis die eerste keer dat ons voet aan wal sit op die Griekse hoofland. Platarias is maar net 'n doodgewone rustige dorp, waar bootmense vasmeer en gewone mense hulle lewe leef.
Ons eet saganaki (gebraaide skaapmelk fetakaas) en taramasalata (vis-eier ding) vir voorgereg. Ons is daarna so versadig, dat ons skaars kans sien vir die baklava wat ons vir nagereg gekoop het.



Voet aan wal

Published with Blogger-droid v2.0.10

Petriti. Dag 121.

26 Augustus 2013. Maandag.


Corfu na Petriti



My eerste kennismaking met Griekeland, was baie besonders - Corfu. Vandag groet ons vir Corfu, na drie dae. Ons gaan suid. Ons vertrek laat, so 12:30. Ons het die oggend eers seëls, lugtyd en proviand gekoop. Vandag seil ons na Petriti (39º27.118 N, 20º00.313 O), 13 myl. Waar is die dae wat ons 60 myl op een dag moes doen?

Totsiens Corfu
Ons eie fort van die suide



Gus lyk goed en ons span die seile. Ons seil rustig vir die grootste deel van die vaart.

Oggendskoot - Oppad



Ons nader Petriti, wat in die Lefkimmis Baai geleë is. Ons gooi anker, saam met tien ander bote. Dis 'n groot baai, niks besonders nie, behalwe vir  'n snaakse "shack" op die Vlacherna Rotse en 'n seiljag wat gestrand lê. Wonder wat het hier gebeur? Vir ons is dit net 'n slaapplek vir die nag.

Petriti 
Gestrand?
Vlacherna Rotse met "shack"


Ek swem weer, vir die eerste keer sedert die baai van Kotor. Die water is lou en ons koel nie af nie. Toe ons uitklim, waai Gus liggies oor ons lywe en die koeligheid spoel oor ons.

Ons word aan die slaap gesus deur 'n ligte wiegelied, uitgevoer deur Maja en haar orkes, gekomponeer deur die Ioniese See en onder ligte begeleiding van dowwe maanlig.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, August 25, 2013

Palaiokastritsa. Dag 120

25 Augustus 2013. Saterdag.



Die Nuwe Fort oppad na busstasie



Vandag klim ons die bus na die dorp met die lang naam, Palaiokastritsa, wat op die weskus van Corfu Eiland lê. Die landskap waar deur ons ry en die kuslyn, is besonder mooi.

Palaiokastritsa



Dis 'n baie mooi vakansiedorp met 'n klomp sandstrande. Dis 'n plek vol pret en plesier. Die bruin lywe lê en braai nog bruiner. Hulle swem en baljaar in die blou water.

Nog 'n strandjie
Ankerplek vir boot en "volksie"



Ons gaan eet middagete by Taverna Stamna waar 'n baie vriendelike man ons bedien. Ons kry groot borde kos en die prys is nie te sleg nie. 

Vark gyro, tsatsiki, pita, tjips en slaai (Myne)
Dieselfde kos as myne - net opgerol in die pita (Archie s'n)
Lekker eet



Ons geniet die vakansiestemming tot 16:45 toe ons die bus na Corfu terugneem.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Ons eie fort. Dag119

24 Augustus 2013. Saterdag.



Ons bly nog 'n dag in Corfu, die mooi ou stad. 

Die ou "Royal Palace"  is nou  die museum van Asiatiese Kuns
Wasdag
In die ou dorp



Die ou Fort is vir my die hoogtepunt, want dis mos waar ons bly. Oorspronklik was díé deel 'n skiereiland, maar die verbinding is verwyder om 'n grag te vorm en nou is die fort eintlik op 'n eiland.

Brug na ingang oor grag
Kerktoring in ou fort



Dis gebou deur Venisiërs in 1546. Meeste van die fortifikasies binne die fort, is deur die Britte vernietig en vervang met hulle eie strukture, soos die kerk van St George.

St George Kerk
Ligtoring is ook geleë in ou fort



Die ou fort is groot en daar is nou gange en trappe en mure. Dis net ongelooflik hoe slim die ou fort gebou was. Dit alles net om hulle stede teen invalle te beskerm.

Mure van ou fort
Een van die baie ingange
Mandraki hawe van ou fort se mure gesien



Geluk met jou verjaarsdag, Gerrit.

Gangetjie vir Gerrit

Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, August 24, 2013

Mooi Griekeland! Dag 118.


23 Augustus 2013. Vrydag.


Sarande tot die dorp Corfu (Kerkira)
Vaarwel Albanië! Vandag is dit Griekeland!

Ons vetrek 08:15 vanaf Sarande, na 'n baie warm, sweterige nag. Ons het al geslaap, toe van die ander bootmense ons in die nag wakker roep om te sê hulle het 'n muis naby ons boot gesien en dat ons al ons vensters moet toemaak. Toe slaap ons verder in 'n sauna.

Ons vaar uit die hawe en ek ry oor 'n visserman se merkertou in die water. Natuurlik haak dit vas aan die boot. Dadelik sit ek die motor af en Archie bekyk die besigheid. Jy wil nie 'n tou in jou propeller hê nie. Arch kry toe maar die snorkel en hy kry 'n onverwagse vroegoggend swem toe hy moet kyk wat onder Maja se pens aangaan. Die tou het aan die kiel vasgehaak en toe om die propeller gedraai. Gelukkig was dit 'n dun tou, niks skade nie en Archie onthaak dit.

Ons vaar verder. Die deinings wieg ons heen en weer. Ons vaar deur die kanaal na die dorp Corfu (Kerkira) (39° 37.497 N, 19° 55.687 O), 16 myl. Die Griekse eilande lyk maar net soos enige ander eiland. Niks besonders nie. Ek voel amper effens teleurgesteld. Ek weet nie eintlik wat ek verwag het nie.

Oppad na Corfu (Corfu Eiland in agtergrond)



Ons vaar op heerlike plat water na Mandraki hawe, tuiste van Corfu Sailing Club. Ek hoop ons kan daar plek kry.

Mandraki hawe en die ou fort
Corfu
Nuwe fort (ook baie oud)


Ons kom nader en ek roep op die radio, kanaal 68. En daar is plek! Die man sê ons moet snoet eerste vasmeer. Dit het ons nog nooit gedoen nie. Ek moet inderhaas toue voorberei en vorentoe neem. Die vasmeerman staan gereed met die vasmeertou (agtertou) en ek gooi vir hom die snoettou. Hy maak ons vas en ek vat sy tou agtertoe. Die tou lol en Archie kom help. Hy trek met mening en ons is vas, sonder veel drama.  Dis warm en bedompig en toe word ons dors. Ons geniet dadelik ons "cold beverages" soos altyd.

Mandraki hawe is onder die steil mure van die ou fort geleë.  Ander toeriste betaal €4 om die fort te verken, ons bly daar! Dis ook net 'n kort stappie deur die fort, dan is jy in die middel van die ou dorp.

Mandraki onder die mure van die ou fort
Ons moet deur die fort stap om by Maja uit te kom


Ons moet nou aan Maja se snoetkant (voor) oor die anker klouter om van die boot af te kom. So gesê, so gedaan en ons stap dorp toe om al die formaliteite (doeane, paspoortbeheer en hawemeester) af te handel. Dis 'n lang stap, want hulle is by die kommersiële hawe. Toe is die dorp ons s'n. Ons is in 'n vrolike stemming, veral ek. Dis heerlik in Corfu. 

Klouter by Maja se snoet af



Corfu is ook op UNESCO se lys van wêrelderfenis. Dis pragtig en wemel van toeriste. Die aand gaan ons na 'n opelug musiekuitvoering. Díé plek het atmosfeer!

Ek is gelukkig en tevrede want ...

... dit is ons uitsig van Maja se dek
Published with Blogger-droid v2.0.10

Thursday, August 22, 2013

Geen woorde. Dag116

21 Augustus 2013. Woensdag.

Orikum Marina tot Sarande


Dit is net stil in my. Ek het geen woorde nie, net verligting en dankbaarheid. Ons is hier in Sarande, 61 myl verder en 12h32min later.

Sonop - twee ure na vertrek
Oggendskoot - Visvang
Oppad - Vistrailer
Oppad - Bergagtige kuslyn
Oppad - Berge is tot 2000 m hoog
Aankoms in Sarande


Ek het nou die koesterende teenwoordigheid van my lawaaierige familie nodig.

Maar gelukkig is Archie darem hier...

Published with Blogger-droid v2.0.10