Saturday, June 8, 2013

Wat 'n Nag. Dag 42

U. Tiha (Cavtat) tot Dubrovnik (Blou lyn)


Om 00:05 skrik ek wakker. Dis die wind, dis die woedende wind. Dit klink of die wind viool speel met Maja se toue, 'n totale simfonie orkes.

Ek begin met die nagwaak. Ons word heen en weer geswaai, die kant toe en daai kant toe. Ek hoop net die anker hou! Ek hou wag tot 01:10. Archie vra wat maak ek. Ek sê ek hou wag. Hy slaap so bietjie verder. Op 'n stadium toe ek uitkyk, sien ek ons is baie naby ons buurboot. Hou ons anker ooit nog? Ek maak vir Archie wakker en hy is maar vieserig. Hy dink mos ek is effens paranoïes met die waghouery. Hy stel ondersoek in en sê ons is nog reg.

Ek is op en af, dan lê ek (sommer in die saloon), dan loer ek. Die wind is woedend!
Archie staan op, sê hy kan nie slaap nie. Ek dink toe "join the club". Ons kyk weer na buite. Ons is baie naby die bure en hulle is baie naby húlle bure.

Daar was omtrent agt jagte in die baai. Op al die bote sien jy die donker skimme van die kapteins op dek van hulle bote, besig om soos brandwagte dinge dop te hou.
En die wind wil nie ophou waai nie!!!

02:45 sê Archie benoud dat ons moet skuif. Hy vermoed ons anker sleep. Maja is besig om land toe te waai en teen die bure vas te waai. Ons hoor die motor van 'n ander boot wat ook skuif. Ek is moer benoud.

Dis donker, dis net wind en nou moet ek anker optrek. Ek help kyk dat ons nie in ander bote vasry nie, en Archie soek nuwe ankerplek. Met die optrek van die anker sien ons dat dit verstrengel is met 'n stuk ou tou wat heel waarskylik die rede was dat dit nie gehou het nie.  Ons kry 'n plek en in die donker en in die sterk wind, gooi ons anker.

Ons hoor hoe nog mense hulle ankers optrek en motor na ander beter ankerplekke. Al die kapteins is op hulle dekke. Niemand slaap nie. Archie het die res van die nag ons boot se "track" op die GPS dopgehou. Ons drink koffie en later tee.

Die wind hou 5:30 op waai en ons gaan slaap toe vir 'n rukkie.

Wat 'n nag! As ons in die nag gestrand het, dan kon ons  baie skade gekry het.

Uiteindelik is dit dag. Die son skyn en dis windstil. 

Tihabaai (Uvala Tiha)
Tihabaai (Uvala Tiha)


Ons maak klaar om na Dubrovnik te gaan.
Die see is nog steeds kalm en ons vaar 13 myl na ACI Marina by Dubrovnik. 

Ligtoring naby Dubrovnik


Môre kom Elize en Fanie by ons aansluit vir twee weke. Ek kan nie wag om hulle te sien nie.

Vanaand gaan ek lekker slaap in die veilige beskutting van die marina.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Totsiens Montenegro. Dag 41.

Herceg Novi tot Cavtat (U. Tiha)


Vandag gaan ons terug Kroasië toe.Ons groet Montenegro en verlaat die hawe van Herceg Novi.  Ek kan nie help om 'n effense koue rilling te kry as ek aan daardie see dink nie. Ek kan maar net hoop vir die beste. Daar's nie wind nie en die Golf is soos 'n spieël. Ek is vol hoop.

Totsiens Montenegro



Ons vaar eers Zelenika toe, want dit is waar ons by die doeane moet gaan uitklaar. Ons meer "alongside" vas en binne minute het die doeane polisie ons paspoorte gestempel. Ons vaar oop see toe.

Kasteel by uitgang van Golf
Goeters vir Gerrie


Die see lyk kalm van die afstand af. Ons kom nader en nader. Dit lyk goed. Dit lyk meer as goed! Ek slaak 'n sug van verligting en my mond vorm sommer vanself 'n glimlag.





Ons seil vir 'n ruk, maar later gaan die wind lê en ons trek die seile in. Dis 'n ver pad terug, sowat 26 myl.
Ons nader Cavtat en kry al die toue reg vir "alongside" vasmeer. Die doeane by Cavtat lyk soos 'n bynes. Dis seiljagte en groot jagte. Almal kom die land binne. Ons kom met 'n skok agter dat dit nie vandag "alongside" vasmeerdag is nie, maar die ankermetode. Dis wanneer jy anker gooi en dan agteruit na die kaai ry om vas te meer. Ons het dit nog nooit gedoen nie.

Dis vinnig anker toe hardloop en laat sak, arme Archie ry agteruit, kaai toe. Die toue is nie op hulle plekke nie, want dis gestel vir verdomde "alongside". Dis konsternasie! Die bote langs ons, aan albei kante druk net fenders oral in waar ons dreig om hulle te tref. En toe is ons vas aan die kaai en natgesweet.  Ek weet nie eers of die flippen anker gebyt het nie.

Ek pas boot op en Archie gaan doen die doeane-ding. Na, wat vir my soos 'n ewigheid  voel, is Archie terug en ons kan vertrek. Daar het intussen twee ander bote langs ons ingetrek. Ek trek anker op en Archie ry versigtig vorentoe. Ek sukkel met die anker. Dit voel of die ding nie samewerking wil gee nie. Ek hoor 'n lawaai, mense wat roep. Die boot langs ons het hulle anker bo-oor ons s'n gegooi en ek sukkel so, want ek is besig om hulle anker ook op te trek. Weer konsternasie. Archie moet weer agtertoe met 'n steeks Maja. Almal druk weer fenders in en skop die boot weg aan weerskante van ons. Die mooi outjie op die boot langs my kyk my in die oë, glimlag breed en sê: "Sailing is such fun!". Eindelik is ons los en almal wuif en groet.

Ons anker by Tiha, die baai net langsaan, waar ons die vorige keer ook geanker het. Soooo baie om te leer!!!

Na 'n besige dag, 'n rustige nag
Die son sak


Ons klim in ons skommelbed. Die wind het begin waai.

Ek hoop net die anker hou...

Thursday, June 6, 2013

Herceg Novi. Dag 39 en 40

U. Krtole tot Herceg Novi (Rooi lyn)


Ons trek anker op. Vandag gaan ons na Herceg Novi (42°26,990 N  18°32,028 O). Die dorpie lê heel aan die begin van die Golf van Kotor.

Ek wonder wat se dag is dit vandag. Ek het skoon tred verloor met die tyd. Archie sê dis Woensdag en ek glo hom. Ons span so bietjie seile en die wind speel saam. Ons vaar vol seil. Nie lank nie, of die wind gaan lê so bietjie skuins en stuur die reën om ons net so bietjie nat te maak. Dit gebeur toe ook net so, want ons vaar mos sonder 'n bimini! Ons staan  gewapen met ons reënbaadjies in die reën. En natuurlik kom die reën van voor af. Hoe dan anders, reg in ons oë! Dit is gelukkig 'n sagte ou reënbuitjie, maar dit maak nog steeds nat.

Die reën hou op en ons word beloon met 'n skool dolfyne!

Tel die dolfyne


Ons nader Herceg Novi en motor nader, op soek na die hawe. Die boek sê jy sien eers die hawe as jy baie naby is. Toe ons baie naby is, sien ons die hawe! 'n Vasmeerman wys vir ons waar ons moet vasmeer en na 'n bietjie vorentoe en agtertoe ry van ou Arch se kant af, is ons in posisie en die man help vasmeer.

Veilig in die hawe.


En toe gaan ons dorp toe. (My Std 1 juffrou het ons geleer jy begin nie 'n sin met "En" nie. Jammer juffrou). Ons gaan mos altyd dorp toe. Ons koop vis, want vanaand gaan ek probeer vis gaarmaak. Al sê ek dit self, die vis was damn lekker. My se man sê ook so. (Uit "Manakwalanders").

Kalmte oor die Golf van Kotor
Sonsondergang op Herceg Novi


Donderdag breek aan soos enige ander dag. Bietjie bewolk. Hierdie kant van die berg is die klimaat beter as by Kotor. Die baai van Kotor het sy eie mikro-klimaat as gevolg van die katabatiese winde  van die land en see.

Ons gaan drink koffie om internet te kry. Ons gaan maak 'n draai in die stari grad en besoek die Kanli Kula Fort. Na 'n hele klomp trappe is ons bo. Ons loop daar rond. 'n Klein dogtertjie breek die kanon se wiel af. Kinders is baie gevaarlik!

Kanli Kula Fort
Kanli Kula Fort


Die stari grad is nie baie oud nie, want dis in die 19de eeu gebou.

Stari grad


Die son skyn warm op my lyf. Een van die dae gaan ek weer kla oor die hitte.

Môre pak ons weer die groot see aan oppad terug na Kroasië. Ek hoop net die see is nie meer so humeurig nie. Ek hou maar duimvas.

Hoop môre se see lyk so




Kotor en Krtole. Dag 33 tot 38

Kotor tot U. Krtole

Dis Donderdag. Dit reën alweer in Kotor. Dit reën nie. Dit reën. Dit reën nie. Archie klim die bus en vat die bimini Tivat toe. Daar is 'n man wat dit kan regmaak. Ek bly agter in Kotor en gesels met my buurvrou, Julia. Hulle seil al vir vier jaar. Sy is van Brittanje en haar man, Greg, is van Australië. Toe dit weer begin reën, gaan lees ek boek. Archie bly lank weg. Ek maak iets warm om te eet, want as hy terugkom, gaan hy seker papnat en koud wees.

Dit is toe ook net so. Hy kom terug en hy is papnat en yskoud. Hy het terug geloop, want hy het moeg geword om vir die bus te wag. Hy wou kortpad deur die bosse vat, toe is daar nie 'n pad nie. Nou lyk die arme man of hy in die oorlog was - stukkend en gehawend. Die bimini-man, Miho Bilan, sal bel en laat weet of hy die ding kan regmaak.

Vrydagoggend bel Miho en lig ons in dat nie hy of die ander seilmaker kan dit herstel of 'n nuwe een maak nie, want hulle het te veel werk en daar is niemand anders in Montenegro wat dit doen nie. Almal maak reg vir die nuwe seisoen.

Archie kyk op die internet of daar iemand in Dubrovnik is wat seile maak. Hy kry 'n naam, bel die man en sake lyk goed. Dennis sien kans. Ons moet die ou bimini saambring vir 'n patroon. Jy sien, my suster-hulle kom oor 'n week seil en ons wil die afdak hê as hulle kom. Hulle gaan mos goeie weer saambring en dis nie lekker om heel dag in die son te sit as jy seil nie. Ons is bang hulle brand sproete! En ons ontmoet hulle in Dubrovnik.

Saterdag, 8:30 klim ons die bus na Dubrovnik toe. Dis baie vinniger om soontoe te ry as om soontoe te seil. Die busrit neem amper drie ure,  want ons moet deur die doane gaan. Kotor is in Montenegro en Dubrovnik in Kroasië. Ons kry vir Dennis by die marina, hy bekyk die bimini met 'n arendsoog en meet vir die vale.  Hy sê dit sal oor 'n week gereed wees as ons weer in Dubrovnik kom. Wat 'n verligting. Ons kom eers laataand terug by Maja.

Ek dink ek is verslaaf aan kersies.

Daar's net twee oor ....



Sondag besluit ons dat as ons langer by Kotor gaan bly, gaan daar mossels aan ons kiel groei. Dis tyd om te vertrek. Ons bure vertrek vroeg die Sondag. Dis alweer koebaai. Ons verlaat my geliefde Kotor net na twaalf. Dis die eerste keer in 'n lang tyd wat ons op die water vaar. Die wind is nie reg vir seil nie, en ons motor.

Ons vaar verby die eilande van Perast. 

Die eilande van Perast



Otok Gospa od Skrpjela is 'n mensgemaakte eiland. Die mense van Perast het klippe op die rif gegooi en volgens meer romantiese bronne het hulle seerowerskepe vol klippe gegooi en op die rif laat sink. Later (1630) het hulle begin om 'n kerk op die rif te bou.

Kerkie op Otok Gospa od Skrpjela
Gaan dit weer reën?



Die ander eiland is Sveti Djordje, wat eintlik 'n abdy is. Die arme abdy is al twee keer deur die Turke vernietig en ook deur aardbewings beskadig.

 Abdy Sveti Djordje



Ons vaar verder, verby nog 'n eiland-kerk, tot waar ons gaan anker by Uvala Krtole. 

Eiland-kerk



Daar is baie riwwe en rotse, so jy moet maar volgens die boek vaar anders loop jy jou rieme styf. Die eiland van Uvala Krtole was eers 'n vakansie eiland met romantiese grashutte. 

Romantiese grashut !?



Daar is reeds drie ander seiljagte toe ons daar aankom. Ons gaan deur die ankergooi-ritueel en vaar meesterlik. Ons is geanker. En wat 'n verrassing, ons bure is ook hier. Ons groet met die roep van haar naam en vriendelike gewuif.

Daai wolke gooi reën op Kotor!
Baai van Uvala Krtole - ons ankerplek




Ons bly Maandag en Dinsdag op anker in die baai. Ons koop niks, ons loop niks, ons doen niks. Ons ìs net.


Die skemer daal ...
... as die son onder gaan

Thursday, May 30, 2013

Mure om ons. Dag 32


Archie bak pannekoek vir ontbyt! En dit reën nie eers nie. Nee, moenie my verkeerd verstaan nie, ek kla nie, ek sê net. Wat  'n aanwins vir 'n man is hy nie. Hy meet beslag af, gooi in, draai om en natuurlik is die eerste een 'n flop. Ons eet dit daar en dan op. (Ek dink hy het dit aspris gedoen). Ek strooi die suiker en kaneel oor en kort voor lank sit ons aan. Ons smul aan die soet en dink aan huis.

Pannekoek vir my kinders


Vandag gaan ons daardie eeue-oue mure van Kotor aandurf. Die boek sê dis vir die energieke toeris, want dis 280m op boontoe. Wel, dan is dit natuurlik vir ons bedoel! Waar kan jy nou meer energiek as 'n pensioenaris kry? En ek wil die mure van vergange se dae trap vir trap uitklim. En ons voel baie sterk na die pannekoek.

Ek trek my stapstewels aan en gewapen met my stapstok is ek reg vir die geklim. Archie kom nes hy is, want hy is altyd reg vir alles.

Ons koop ons kaartjies by die vrou op  die stoel, €3 per persoon en toe is die mure ons s'n. Ek verplaas my terug na die 9de eeu, toe hulle begin het om die mure te bou, maar dis so lank terug, ek kan nie tot daar dink nie.

Gewapen met stapstewels en stapstok



Trap vir trap kry ons hoogte en daarmee saam pragtige uitsigte oor die baai. Ons sien vir Maja daar onder in die baai. Sy word al kleiner en kleiner. Dis warm, al is dit bewolk, en ons begin liggies te sweet.

Maja word kleiner en kleiner



Die stari grad lyk anders  van bo af. Dit lyk soos 'n lappieskombers met verskillende skakerings van rooi en oranje.

Die mure neem ons na die klein ou kerkie. Wie sal nou in die ou tyd na die kerkie toe gegaan het?

Halfpad-boontoe-kerkie (1518 NC)



Die St John's Kasteel staan sterk en trots heel bo. Dis nog 'n hele entjie tot daar.

St John's staan trots daarbo



Ons sweet ook nie meer net liggies nie! Van onder tot bo is dit 1350 trappe. Ek het nie self getel nie, want as ek so moet tel, kan ek nie kyk en beleef nie. Die boek sê so.

Ons kom nader en nader aan die kasteel. Langs die pad sit manne wat water en bier uit hul koelbokse uit verkoop, dis nou vir die swetende dorstiges.

Mure om ons
Ons


...1349, nog net een trappie, dan is ons bo! 1350 en ons is bo! Die muur, forte en kasteel is so gebou dat jy die vyand van alle kante af kan sien aankom. Die stari grad lê ver en veilig daar onder.

Lappieskombers


Ons kyk bo rond en begin die aftog blaas. Dis warm en ons stap af en af en af. Maja lyk ook nie meer so klein nie en die lappieskombers, verander weer trap na trap na ou huise. Voor ons ons weer kon kry, is ons binne-in die ou stad.

Terug na ou stad
Terug na ou stad


Die aand, 19:00, gaan ek weer kerk toe en verstaan nog steeds nie 'n dooie woord nie.

Om 21:00 het ons 'n Skype-afspraak met my broer, Gerrie, en sy gesin. Ons internet is maar power, maar ons gaan sit op die dek waar dit die beste is. Na 'n klomp "missed calls" kom Gerrie deur. Ons praat met half-gehoorde sinne en verwronge beelde en sonder beelde, maar ons praat en ons praat hard. Maar ons gee nie om nie, want ek praat met my familie!!

Tuesday, May 28, 2013

Vakansie in Kotor. Dag 29,30,31

Vandag gaan ons terug na Kotor van Prcanj. Ons wag dat die reën opklaar. Dit gebeur gouer as wat ons gedink het. Ons wag totdat dit windstil is voor ons vertrek, want ons moet alleen vasmeer. By Kotor is daar niemand wat help nie. Ons is op ons eie.

Ons vertrek 14:30 na Kotor. Dit is windstil. Daar waai as't ware nie eers 'n briesie nie. Perfekte toestande vir 'n pensionaris en sy benoude vroutjie om alleen vas te meer. Ons beraadslaag soos bendelede in hul kinderdae. As ons daar kom, kry Archie vir Maja in 'n agteruit posisie. Sodra sy in posisie is, vat ek die helm oor en kry vir Archie na genoeg aan die kaai om af te klim met 'n tou. Hy maak dan die tou vas en kry die belangrike voortou  uit die water. Ek haak daai tou met die boothaak en Archie klim terug op die boot. Ek hardloop vorentoe met die tou en maak vas en Archie maak agter vas.

Maja kom stadig nader aan die kaai. Ons weet presies wat om te doen. 'n Kalmte van weet daal oor my neer. Dis steeds windstil. Daar is baie plek in die baai. Archie kies sy plek sorgvuldig uit. Tru in posisie. Ek staan nader om die helm oor te vat. Toe gebeur alles soos in 'n fliek met geen ouderdomsbeperking. SEEPGLAD. Die held en heldin glimlag tevrede. Ons het stoksielalleen vasgemeer. "I think congratulations are in order!"

Ons sit suip langbeen op die dek. Geen wind, geen storm, geen reën. Ek dink ons verdien 'n pizza. Toe die son sak is ons in die stari grad en deel 'n moerse lekker pizza tussen ons. Ons gaan slaap rustig en tevrede. Dit reën in die nag.

***

Ons hou ons lyf ware toeris. Koop kersies en vars groente by die mark, slenter rond, besien die besienswaardighede en hou vakansie.

Ou kerkie langs die pad



Later die middag gaan ons op 'n lekker lang staptog  om 'n goeie uitsig oor Kotor te kry. Hierdie plek is besig om my hart te steel. Die baai lê vreedsaam in die laatmiddagson.

In die veld
Kerk , see en berge
Baai van Kotor
Berge agter Kotor


Ons staan en kyk  na Maja doer onder wat rustig op ons terugkoms wag. Daar's g'n stormwind wat nou aan haar ruk en pluk nie!

Maja lê en wag

Dit reën in die nag.

***

Dis 'n pragtige dag. Ons moet vandag na Tivat toe gaan. Daar is mense wat bimini's maak. Ons klim die bus. Tivat is net 7 km van Kotor. Ons kry die naam van die persoon, maar hy is uitstedig, sal eers Donderdag terug wees. Ons loop rond, gaan terug busstop toe en klim die bus terug na Kotor. Amper sê ek terug huis toe.

Ons gaan eet by 'n restaurant waar die "locals" eet. Archie eet Bumbari. Dis afval (dunderm van die een of ander gedierte) gevul met knoffel en polenta. Ek eet iets anders.

Bumbari
Vleis met kamjak


Die aand gaan kyk ons na die musiekskool se konsert. Ek verlang amper na die skool se konserte.
Dis kindertjies wat sing. Klavierspel en dwarsfluit en nog sang.

Daar staan 'n reuse plesierboot langs die kaai ...