![]() |
Kotor tot U. Krtole |
Dis Donderdag. Dit reën alweer in Kotor. Dit reën nie.
Dit reën. Dit reën nie. Archie klim die bus en vat die bimini Tivat toe. Daar
is 'n man wat dit kan regmaak. Ek bly agter in Kotor en gesels met my buurvrou,
Julia. Hulle seil al vir vier jaar. Sy is van Brittanje en haar man, Greg, is
van Australië. Toe dit weer begin reën, gaan lees ek boek. Archie bly lank weg.
Ek maak iets warm om te eet, want as hy terugkom, gaan hy seker papnat en koud
wees.
Dit is toe ook net so. Hy kom terug en hy is papnat en
yskoud. Hy het terug geloop, want hy het moeg geword om vir die bus te wag. Hy
wou kortpad deur die bosse vat, toe is daar nie 'n pad nie. Nou lyk die arme
man of hy in die oorlog was - stukkend en gehawend. Die bimini-man, Miho Bilan, sal bel en laat weet of hy
die ding kan regmaak.
Vrydagoggend bel Miho en lig ons in dat nie hy of die
ander seilmaker kan dit herstel of 'n nuwe een maak nie, want hulle het te veel
werk en daar is niemand anders in Montenegro wat dit doen nie. Almal maak reg
vir die nuwe seisoen.
Archie kyk op die internet of daar iemand in Dubrovnik is
wat seile maak. Hy kry 'n naam, bel die man en sake lyk goed. Dennis sien
kans. Ons moet die ou bimini saambring vir 'n patroon. Jy sien, my suster-hulle
kom oor 'n week seil en ons wil die afdak hê as hulle kom. Hulle gaan mos goeie
weer saambring en dis nie lekker om heel dag in die son te sit as jy seil nie.
Ons is bang hulle brand sproete! En ons ontmoet hulle in Dubrovnik.
Saterdag, 8:30 klim ons die bus na Dubrovnik toe. Dis
baie vinniger om soontoe te ry as om soontoe te seil. Die busrit neem amper
drie ure, want ons moet deur die doane
gaan. Kotor is in Montenegro en Dubrovnik in Kroasië. Ons kry vir Dennis by die
marina, hy bekyk die bimini met 'n arendsoog en meet vir die vale. Hy sê dit sal oor 'n week gereed wees as ons
weer in Dubrovnik kom. Wat 'n verligting. Ons kom eers laataand terug by Maja.
Ek dink ek is verslaaf aan kersies.
Daar's net twee oor .... |
Sondag besluit ons dat as ons langer by Kotor gaan bly, gaan daar mossels aan ons kiel groei. Dis tyd om te vertrek. Ons bure vertrek vroeg die Sondag. Dis alweer koebaai. Ons verlaat my geliefde Kotor net na twaalf. Dis die eerste keer in 'n lang tyd wat ons op die water vaar. Die wind is nie reg vir seil nie, en ons motor.
Ons vaar verby die eilande van Perast.
Die eilande van Perast |
Otok Gospa od Skrpjela is 'n mensgemaakte eiland. Die mense van Perast het klippe op die rif gegooi en volgens meer romantiese bronne het hulle seerowerskepe vol klippe gegooi en op die rif laat sink. Later (1630) het hulle begin om 'n kerk op die rif te bou.
Kerkie op Otok Gospa od Skrpjela |
Gaan dit weer reën? |
Die ander eiland is Sveti Djordje, wat eintlik 'n abdy is. Die arme abdy is al twee keer deur die Turke vernietig en ook deur aardbewings beskadig.
Abdy Sveti Djordje |
Ons vaar verder, verby nog 'n eiland-kerk, tot waar ons gaan anker by Uvala Krtole.
Eiland-kerk |
Daar is baie riwwe en rotse, so jy moet maar volgens die boek vaar anders loop jy jou rieme styf. Die eiland van Uvala Krtole was eers 'n vakansie eiland met romantiese grashutte.
Romantiese grashut !? |
Daar is reeds drie ander seiljagte toe ons daar aankom. Ons gaan deur die ankergooi-ritueel en vaar meesterlik. Ons is geanker. En wat 'n verrassing, ons bure is ook hier. Ons groet met die roep van haar naam en vriendelike gewuif.
Daai wolke gooi reën op Kotor! |
Baai van Uvala Krtole - ons ankerplek |
Ons bly Maandag en Dinsdag op anker in die baai. Ons koop niks, ons loop niks, ons doen niks. Ons ìs net.
Die skemer daal ... |
... as die son onder gaan |
No comments:
Post a Comment