U. Krtole tot Herceg Novi (Rooi lyn) |
Ons trek anker op. Vandag gaan ons na Herceg Novi (42°26,990 N 18°32,028 O). Die dorpie lê heel aan die begin van die Golf van Kotor.
Ek wonder wat se dag is dit vandag. Ek het skoon tred verloor met die tyd. Archie sê dis Woensdag en ek glo hom. Ons span so bietjie seile en die wind speel saam. Ons vaar vol seil. Nie lank nie, of die wind gaan lê so bietjie skuins en stuur die reën om ons net so bietjie nat te maak. Dit gebeur toe ook net so, want ons vaar mos sonder 'n bimini! Ons staan gewapen met ons reënbaadjies in die reën. En natuurlik kom die reën van voor af. Hoe dan anders, reg in ons oë! Dit is gelukkig 'n sagte ou reënbuitjie, maar dit maak nog steeds nat.
Die reën hou op en ons word beloon met 'n skool dolfyne!
Tel die dolfyne |
Ons nader Herceg Novi en motor nader, op soek na die hawe. Die boek sê jy sien eers die hawe as jy baie naby is. Toe ons baie naby is, sien ons die hawe! 'n Vasmeerman wys vir ons waar ons moet vasmeer en na 'n bietjie vorentoe en agtertoe ry van ou Arch se kant af, is ons in posisie en die man help vasmeer.
Veilig in die hawe. |
En toe gaan ons dorp toe. (My Std 1 juffrou het ons geleer jy begin nie 'n sin met "En" nie. Jammer juffrou). Ons gaan mos altyd dorp toe. Ons koop vis, want vanaand gaan ek probeer vis gaarmaak. Al sê ek dit self, die vis was damn lekker. My se man sê ook so. (Uit "Manakwalanders").
Kalmte oor die Golf van Kotor |
Sonsondergang op Herceg Novi |
Donderdag breek aan soos enige ander dag. Bietjie bewolk. Hierdie kant van die berg is die klimaat beter as by Kotor. Die baai van Kotor het sy eie mikro-klimaat as gevolg van die katabatiese winde van die land en see.
Ons gaan drink koffie om internet te kry. Ons gaan maak 'n draai in die stari grad en besoek die Kanli Kula Fort. Na 'n hele klomp trappe is ons bo. Ons loop daar rond. 'n Klein dogtertjie breek die kanon se wiel af. Kinders is baie gevaarlik!
Kanli Kula Fort |
Kanli Kula Fort |
Die stari grad is nie baie oud nie, want dis in die 19de eeu gebou.
Stari grad |
Die son skyn warm op my lyf. Een van die dae gaan ek weer kla oor die hitte.
Môre pak ons weer die groot see aan oppad terug na Kroasië. Ek hoop net die see is nie meer so humeurig nie. Ek hou maar duimvas.
Hoop môre se see lyk so |
Hi julle,bly jy blog weer.Die natuurskoon is asemrowend.Enige skilder se droom.Dorpies ook interresant.Gaan julle vasmeer op een plek vir n tydjie in Kroasie?.Dis nie lank nie dan arriveer jou kinders.Julle sien seker baie uit daarna.Ons tel die slapies na die einde toe hierso.Party mense is knorrig so voor pensioen.Mooi bly en veilig vaar.Het vir Wena aangebied van blog wys.Sy dol besig,Boeke merk DBE.Liefde Esther
ReplyDeleteHi Julle
ReplyDeleteAg dankie tog, is skoon uitgedroog na die blog-erige doldrums...
Weereens baie mooi plekke... lyk my as jy lank terug nie daar rond 'n boot gehad het, was jou siel maar effe verlore.
Julle moet lekker vaar en hoop die eilandlose deel is ook die stormlose deel.
Gerrie