Wednesday, April 24, 2013

Au Revoir Frankryk

Vandag is ons laaste dag in Provence. Rustige dag. Ek gaan vandag na die pous, van vergange se dae, se blyplek kyk. Die Palais Des Papes is groot en indrukwekkend. 
Drakekop hoog op die Paleis


Archie is nie lus nie, so hy gaan sy eie gang na die hangende tuine van Avignon. 
Hallesmark met sy vertikale tuin




Ons was rustig en het op die pleine en strate rondgedwaal.

Een van die baie straatkafees

Bulle!!!

"Merry-go-round"

Môre gaan ons met die trein Parys toe. Vrydag vlieg ons Kroasië toe. Ons sien baie daarna uit om vir Bushy en Grietjie te sien. Hulle kom van Suid-Afrika om saam met ons die nooiensvaart van Maja  te beleef.

Dan word ek die Seilende Sigeuner.














Laaste dae.

Ons is in Avignon. Te voet. Ons verlang na ons karretjie. Vandag gaan ons dit kalm vat. Die pas raak nou heeltemal te veel vir 'n pensioenaris en sy ou vroutjie.
Ons lê in. Staan eers 10.32 op. Arch is darem vroeg uit om koffie te gaan koop. Vandag rus my ou moeë knieë.
Die rus is van korte duur. Arch het 'n kaart van staproetes in die dorp gekry. Ander mense klim die "hop on hop off" bus of treintjie, maar ons STAP.
Ons stap die oranje roete. Dit neem jou na al die belangrikste historiese plekke en uitkykpunte in die dorp.
Ons stap ons des dinges. Op en af, die kant toe en daai kant toe, op die muur en af van die muur.

Muur op, muur af ...
Op en af ...

 Die Papelpaleis is indrukwekkend! Dit is 'n Wêrelderfenis Terrein.

Palais des Papes
Palais des Papes
Palais des Papes



Avignon is 'n baie mooi, ou dorp op die oewer van die Rhône. Pont St-Benezet is die brug genoem in die bekende Franse kinderliedjie "Sur le Pont d'Avignon". Dis ook 'n Wêrelderfenis Terrein.
Pont St-Benezet, Rhône Rivier en Palais des Papes



Ons sit op die plein en kyk na die mense. Dit ís mos rusdag (ha-ha). Ons geniet die verbygangers se reaksie op die menslike "statue". Eenkant speel 'n straatmusikant sy trekklavier. Daar is atmosfeer en dis lekker.

Standbeeld?


Vanmiddag gaan ons Villeneuve-Les-Avignon toe. Blykbaar is dit baie mooi om Avignon van oorkant die rivier te sien as die son sak. Wag vir bus 5 en ry na Villeneuve toe. Ons klim by Fort St-André af. Die boek sê die uitsig is die beste van daar af.

Fort St-Andrè in Villeneuve-Les-Avignon



Daar is so obskure paadjie boontoe, reguit na die fort. Natuurlik vat ons die paadjie! Dis 'n steil , klein paadjie, amper soos in die Drakensberg. Ons moes tóé al lont geruik het.
Die paadjie swenk toe links en regs op. Ons kies links. Deur bosse, oor rotse op, op. Ons loop 'n ruk langs die onderpunt van die baie hoë, steil muur van die fort. Toe gaan die paadjie so steil af dat ek met 'n stemtoon sê: "Archie, ek gaan nie hier af nie!" Diegene wat al saam met my in die berge gestap het, sal die stemtoon ken.
Ons is toe terug op die paadjie en gaan toe regs. Dis 'n beter pad, wat ons na die fort se ingang neem. Maar toe is die hek toe. Dit sluit 18.00. Ons was net te laat. Damn!
Al wat ons wou sien, is die laatmiddag son op Avignon. Toe stap ons weer laat dit bars. Ons wil êrens op 'n hoogte kom waar ons kan sien, want orals is bome.
Ons kom toe by Colline Des Mourgues. Nie eers die naam skrik ons af nie (berg van die dooies of dood?).  Dis 'n park met uitsigte op Avignon en Villeneuve. Ons loop vasberade die pad op vir die uitsig. Skote petoors-die uitsig!

Uitsig op Avignon vanaf die Colline des Mourgues
Uitsig op Palais des Papes en Avignon vanaf die Colline des Mourgues
Ons is die enigste mense in die park. Ons loop na die uitgang. Geskok moet ons toesien dat 'n polisieman die groot ou hek sluit. Ek roep agterna, maar hy klim in die motor en ry. Ons draai in ons spore om en stap vinnig na die ingang. Te laat! Gesluit. Toe klim ons maar oor die tralies om uit te kom.

Wat 'n rusdag!

Tuesday, April 23, 2013

Uitgebrand

Gister kon ek nie 'n dooie woord skryf nie, want ek was uitgebrand. Teen die grond. Kaput.
Ons het gister van ons plekkie, naby Les Baux, (met 'n vreeslike deurmekaar plaaskombuis), gery na Arles. 
Dit was eintlik die dag wat ons die astrante ou karretjie moes terugneem na Aunt Avis in Avignon.

So ry ons toe eers by Arles om. 'n Pragtige dorp vol Romeinse erfenis.

Les Arenas

Cathedrale St Trophime

 Mooi ou dorp waar Van Gogh 'n klomp van sy bekende kunswerke geskilder het. Met die stapkaart in die hand, stap ons die Van Gogh-roete. Die roete neem jou na die plek waar die skildery geskilder is en wys dan op n bord  hoe dit gelyk het. Ons soek nóú nog na die windmeulskildery! Die ander het ons gekry en bekyk.
Terloops - ons het 'n Hollandse staproeteboek gebruik.

Het Nachtcafe soos geskilder
Het Nachtcafe nou
De Brug van Trinquetrille soos geskilder
De Brug van Trinquetrille nou

Met die terugkom, het ons gruwelik verdwaal. Ons het seker 'n duisend seemyl geloop,voordat ons geweet het waar ons was. Toe word die Afrikaner-boerenooi in my wakker. Ek soek 'n stuk rooivleis. Toe is dit weer op en af na 'n restaurant waar die "plat de jour" vleis is. "Faux fillet du fritters". In plein Afrikaans is dit "fake fillet en chips"

Straattoneel
Amedee Pichot Fontein

Toe is dit weer deur die verkeer, GPS vasgeklem, oppad na Avignon met besige paaie en  baie motors. By Avignon aangekom, moes ons na die stasie, waar die Avis depot is. Ons het ingery op soek na brandstof. Geen brandstof! Toe is dit dorp toe. Gelukkig, so deur die sirkels, verkeer, robots, het ons 'n petrolstasie gesien aan die ander kant van die pad. Omdraai! Gooi brandstof in. Terug stasie toe. 

Ons ry drie keer om die stasie, op soek na Aunt Avis. Ons ry in en uit, ander plek in en uit. Kort termyn parkering, lang termyn parkering, eenrigtingstrate, padaanwysers in Frans! Ons sien waarheen ons moet gaan, maar ons kom verdomp nie daar uit nie. Eindelik, nadat 'n vriendelike Fransman ons begelei het, kry ons die regte ingang en kom ou Astrant by haar Aunt Avis uit. Ongedeerd, sonder stamp of stoot, ongeskonde!
Wat 'n verligting! Wel gedaan, Archie!

Toe is dit met die swaar bagasie in 'n bus, daarna die swaar stap hotel toe. Die wind het vreeslik gewaai.
Ons het in die dorp rondgestap op soek na 'n supermark. Stap lang pad terug hotel toe. Ek was moeg. Uitgebrand.

Monday, April 22, 2013

"Magic" in marmer

Ons het vandag  van Roussillon, waar ons vier nagte oornag het, na Les Baux-de-Provence vertrek. Hier is 'n klou-koue in Provence. Die koue klou orals vas. Jy kan dit nie afskud nie. Dit verander dan na 'n klim-koue. Dit klim in jou klere, jou hare, jou ore. Ons het die weer trotseer en na díe middeleeuse dorpie gaan kyk.
Les Baux is gebou op 'n hoë berg.
Les Baux met die kasteel op linkerkant

Die reünes van 'n middeleeuse kasteel is 'n trekpleister vir amper 'n miljoen besoekers per jaar. Díé jaar is ons deel van die miljoen. Gewapen met 'n audio-apparaat wat vir jou alles van die dooie stad vertel, loop ons in die plek rond. Ek word weggevoer na die 13de eeu. Die fort is in 1633 grootliks vernietig. Die wind het ons amper van die berg afgewaai.









Baie meer dramaties was die marmer gwarries naby Les Baux.   Die fênsie naam is "Cathédrale Des Images". Dis eintlik 'n ondergrondse marmermyn, met groot kolomme wat die dak stut, waarin hulle met klank en film, kunswerke van bekende kunstenaars teen die marmermure vertoon.
Dit is "MAGIC" IN MARMER.
Ek het in my hele lewe nog nooit so iets gesien nie.  Jy wil graag oral gelyk kyk, maar dis te groot. Op elke muur is 'n ander beeld wat beweeg en verander. Die baaaie groot beelde is oral om jou. Jy word opgeslurp en oorweldig.

Cathédrale Des Images

Cathédrale Des Images

Cathédrale Des Images

Cathédrale Des Images

Cathédrale Des Images






Saturday, April 20, 2013

Yskoud

Vandag voel Provence soos Parys - yskoud, winderig en reënerig. Ons besoek Apt se mark.

Dis aspersietyd in Provence

Saignon is 'n verlate, afgeleë, baie interessante dorpie met 'n mooi uitsig.

Uitsig van Saignon
Uitsig van Saignon

Laat vanmiddag, na die reën het ons gaan stap, vanaf 17.45 tot 20.15.

Sonskyn op Bonnieux

Aandete was heerlik.

Rooiwyn, olywe, vars baguette en gebraaide hoender

Friday, April 19, 2013

Stap in die Franse platteland.

Vandag is stapdag. Dis nie dat ons die ander dae níe stap nie. Nee, ons stap elke dag - trappies op, trappies af. Stegie op, stegie af. Heuweltjie op, heuweltjie af.
Vandag gaan ons rêrig stap, op die grond en in die natuur. Archie kies vir ons 'n roete, "Bois de Saint-Jean". Ons pak kos en water en reënklere. Ons ry tot in Roussillon waar die roete begin. Ek gryp my stapstok, Arch gryp die rugsak en daar trek ons.
As ek stap, word ek deel van die bos, die bome, die grond. Ek beleef die reuk, die voel, die stilte, die sien. Ek word deel van die voel van al die dinge om my. Ek word  natuur.

Franse platteland

Archie het die stapbeskrywing. "Draai hier links, stap hier op, gaan regs, stap hier af ..." Dis te heerlik om rêrig te stap. Ons beleef nou die Franse platteland op sy beste - met dapper en stapper.

"Draai hier links ..."

Die kersiebome pronk in rye met hulle spierwit bloeisel-blomme. Die wingerde wag kaalgestroop vir die nuwe seisoen van groei en drag. Talle voëltjies fladder en flankeer in die boomtakke rond. Wilde roosmaryn en ander bossies geur die lug.

Kersiebloeisels ...
... en wingerdstokke

Die oker in die rotsformasies sorg vir helder rooi, oranje en geel. Ons stap heerlik, so 12km. Toe begin dit liggies reën.

Okerformasies

Roussillon is 'n okergekleurde dorpie. Al die geboue is helder rooi, geel of oranje. Dis net jammer dat die son agter die wolke wegkruip. Ek dink dié dorp sal pragtig wees as die son al die helder kleure verlig.

Roussillon village
Okergekleurde geboue

Thursday, April 18, 2013

Water, water

Eerste op vandag se lys van doendinge, is L'Isle-Sur-La-Sorgue. Ek weet ook nie hoekom het die verdomde dorpies sulke snaakse name, wat ek nie kan uitspreek óf spel nie.
Die dorpie is op 'n groot eiland in die Sorguerivier gebou. Donderdag is markdag. Dis presies waarheen ons oppad is. Die boek sê "kom vroeg", so ons is 09.00 daar. Ja, dis vroeg vir Provence! Ons loop daar rond, kyk na als. Ek proe al die snaakse gerookte worse. Daar is biltongrige goed, wors met olywe, en baie ander lekker worse wat ek nie die name van ken nie. Die entoesiastiese Fransman probeer al die goed aan my afsmeer, en ek proe te gewillig. Die goed is duurder as peper, so die naaste wat ek aan die vleis kom, is die ou flentertjie wat ek gratis kan proe. Archie proe nie eers nie. Hy voel as hy proe, moet hy koop. Hy sê hy is nie so 'n vraat soos ek nie.
Ek besluit ek proe niks meer nie. Ons loop verby die nougat tafel en die volgende Fransman sê: "Proe". Ek swig daar en dan en proe. Dis nougat met lemoen en laventel en haselneute en wie weet wat nog. Heerlik, maar peperduur. EK PROE NIE WEER NIE, want ek kan niks koop nie.
Ons kom by die kaas. Ek het net gekyk, maar die Fransman het my gedwing om te proe. REGTIG! Dis kaas met basil en skaapkaas en bokkaas en koeikaas. Ek smul heerlik aan al die brokkies kaas. Toe koop ons maar 'n stukkie kaas. Peperduur, maar lekker.

Markdag

Ons dwaal heerlik rustig in die dorpie rond, langs die waters van die rivier. Ons kyk na die ou waterwiel. Middagete langs die rivier is salm (dis goedkoop in Europa by supermarkte), Camembert (ons spaar die duur kaas vir later) en vars Franse brood.
Ou waterwiel


Tweede op ons lys is Fontaine-De-Vaucluse. Dis een van die grootste fonteine in die wêreld.

Die bron van die fontein.  Lyk so rustig ...




... maar 20m verder lyk dit so.


Dit word die Sorguerivier.
Sorguerivier

Ons kyk ook hoe word papier op 'n ouwêreldse manier gemaak met n ou waterwiel. Ook 'n heerlike ondervinding.
Waterwiel vir papiermeule
Ratte van papiermeule
Stampers



Vanaand eet ons by ons gastehuis. Ons het vir die Fransmanne gevra om haas gaar te maak (jammer Spaans en Christa). Aperatif is op die stoep bedien. Franse radys met 'n doopsous. Daarna skilferskorspakkies gevul met bokmelkkaas en heuning, op roketblare. Hoofgereg was haas met koljanderblaarsous, boontjies en aartappel. Nagereg, creme brulee met laventel. Geëet soos konings.