Wednesday, September 5, 2018

Üçağiz

4 September 2018. Dinsdag.

Gökkaya tot Üçağiz

Ag, vandag is dit weer net 'n hanetree na Üçağiz, 5.3 myl. Van hier gaan ons die pragtige Kale Köy besoek. Ons gooi anker in die oostelike deel van die baai en daai anker byt behoorlik in die vlak water. En vas is ons.

Üçağiz Baai
 
Ons het vroeg gewikkel om in die koeler deel van die dag te stap, want dit is nog vreeslik warm hier. Ons roei land toe en begin die stap na die kasteel. Op sweter warmste!

Die klein kasteel van Kale Köy is pragtig, gedeeltelik omdat dit in 'n pragtige omgewing geleë is. Jy kan pragtige uitsigte oor die omgewing kry en Maja pronk ook so ewe pragtig stoksielalleen in die baai.
 
Uitsig
Maja alleen
Mure
Uitsig oor Kale Köy
Ek en Yvon
 
Binne-in die kasteel is 'n klein teater wat in die klip uitgekap is. Die mense van toentertyd was darem lief vir hulle teaters. Kultuur was altyd vir hulle baie belangrik. 
 
Teate
 
Ek, Yvon en Louise stap heerlik in die kasteel rond en het verbeeldingsvlugte oor tonele uit vergange se dae. Hulle nou is vir ewig verby. Verlede, hede, toekoms! Vandag se hede (ons) is môre se verlede. Tyd, ewigheid, lewe, dood. Alles deel van die beloop van die geskiedenis. 

Op die hange van die berg is baie sarkofae te sien. Die goed betower my mos en vir Louise ook. Hulle is uit klip gekap en amper onvernietigbaar. 'n Ou omie kom rus langs Archie by die sarkofaag en praat onverstaanbaar land en sand. Hy is 'n prentjie van oudwees toe hy hinkepink wegstap. 'n Vrou dra 'n bondel karob takke vir haar bokke. Hierdie mense leef in eenvoud na aan die aarde.
 
Sarkofaag
Yvon en Louise
Archie en Oom Bakkies
Hinkepink
Ou vrou met karobblare
 
Hierna loop ons na die antieke gesonke stad van Simena, waar jy die sarkofaag wat in die see staan, kan sien. Hier is 'n hele ou stad onder hierdie water. 
 
Kale Köy is 'n besondere plek en dis verseker vir my 'n hoogtepunt in die geweste.
 
Gesonke sarkofaag
 
Ons pluk seebone vir die aand se slaai. Daar is maar min te oes. Elkeen kry 'n handjievol, net genoeg vir een keer se slaai. Dit word dan vinnig in vars kookwater gekook vir een minuut, daarna in koue water gedompel en dan is dit reg vir die slaai.
 
Pluk seebone
 
Ons gaan gooi in die westelike baai anker om nader aan die dorp te wees, want ons moet voorrade koop. Hy byt dat dit bars en ons al vier klim in Dinkie en gaan dorp toe. Terug by Maja het ons 'n nuwe buurman gekry. 'n Vreeslike eienaardige doenigheid. Ons weet aanvanklik nie waar voor of agter is nie. Van voor af lyk dit of die gedoente enige tyd kan opstyg. Adastra kos maar net 'n skrale $15miljoen!
Adastra
"Ready for take-off"

Tuesday, September 4, 2018

Gökkaya

3 September 2018. Maandag.

Karaloz tot Gökkaya
 
Nadat Archie vir die kaptein van die gulet hard en duidelik gesê het dat ons wil vertrek, maak hulle aanstaltes om te vertrek en ons kan ook gereed maak om die pad te vat na Gokkaya, net 3.8 myl.

Yvon swem land toe en maak die toue los en toe trek ek die anker op en daar trek ons. Archie is agter die helm en ons vaar na die pragtige baai.

Hier is ook 'n grot en Yvon en Louise roei in Dinkie soontoe om dit te gaan verken. Ek en Archie wag vir hulle op Maja en kort voor lank is hulle terug en weer aan boord. Toe vaar ons verder.

Grot toe
Maja
Maja vanuit die grot
 
Daar is reeds 'n paar bote in die baai, maar plek is daar genoeg en ons gooi in lekker vlak water anker, soms is dit net 1 meter onder die kiel.

Yvon en Louise gaan stap 'n deel van die Lycian Way staproete en neem 'n foto van die baai waar Maja en haar vriendinne rustig op anker lê. Hulle kom warm en natgesweet terug. Natuurlik is in die see spring die aangewese ding om te doen en hulle koel af.
 
Gökkaya Baai
 
Hierdie baai se water is dik. En die boonste deel van die water is yskoud en minder sout. Hier moet êrens koue vars water van êrens onder die grond kom. Ons koel behoorlik af as jy inklim. As jy dan net in die water hang, is dit net jou nek en skouerknoppe wat koud kry. Die res van jou lyf kry heerlik warm.

Later gaan stap ek en Archie die Lycian Way in die ander rigting (suid-oos) en sien die baai vir die eerste keer uit 'n ander, baie mooi, hoek.
 
Gökkaya
Gökkaya

Ons eet die aand cous-cous slaai en 'n lensieslaai wat Yvon en Louise voorberei. Heerlik!

Monday, September 3, 2018

Karaloz.

2 September 2018. Sondag.

Finike tot Karaloz
Ons laat vir Finike agter in sonnige oggendstond. Ons nuwe bestemming is Karaloz, 16.3 myl. Dis 'n ankerplek by Kekova Adası. 'n Vreedsame, rustige plek wat Till verlede jaar terdeë geniet het.
Tot siens Finike

Dis maar weer 'n ou vervelige pad. Louise is agter die helm en bestuur vir 'n baie lang tyd. Archie vat naby die bestemming oor. Kenmerkend van Karaloz se ankerplek, is die grot by die ingang van die baai. Die rotse by die grot het so 'n sponsagtige tekstuur. Baie interessant.

Ons vaar die baai binne en die kaptein soek ankerplek. 'n Gawe Turk wat reeds "line ashore" in die baai is, gee vir ons goeie raad oor waar ons kan anker. Archie volg sy raad en alles is reg vir aksie. Ek gooi anker,  Archie tru en duik later met sy sierlike boog om die toue land toe te swem en die Kanadese help met die trek van die agtertoue. Toe is ons baie knus vas in die baai. Te heerlik.
"Line ashore"

Dis nou totdat die blêrrie gulet op ons voorstoep kom intrek. Sy boot is op ons anker, so ons kan nêrens heen gaan nie. Gelukkig swem die mense net gewoonlik  en dan vertrek hulle. Daar is  'n klomp Duitsers aan boord. Ek voer maar klein vissies met brood wat ek moet verkrummel tot amper meel. Hulle hou aan en aan eet asof daar geen môre is nie.
Honger vissies

Archie-hulle gaan klim die koppie vir foto's, maar die ou gulet bederf die hele atmosfeer van die baai. In plaas daarvan dat Maja romanties in die baai lê, sien jy net die gulet. Dit word al hoe later, maar vertrek is min. Die klomp gaan vanaand hier oornag, op ons voorstoep.
Stappers
Karaloz
Blêrrie gulet

Yvon en Louise maak vir ons ratatouille en hoender en ons eet heerlik. Hulle is behoorlik natgesweet agter daai kospotte.
Kookspan

Die gulet se mense het gelukkig nie baie geraas nie en ons kon heerlik slaap. Dis net die hitte wat pla.

Finike Marina.





1 September 2018. Saterdag.

Çineviz tot Finike

Ons verlaat die pragtige Çineviz en vaar na Finike, 27.2 myl. Die berge is oop en vriendelik, skuil nie vandag skaam agter die deinserige donskombers nie. Die omgewing is waarlik pragtig. Die vissermanne gebruik die heerlike weer om 'n groot vangs te vang. Hulle glim in die oggendlig.

Pragtige kuslyn
Vissermanne
 
"Aanstap Maja, die pad is lank en swaar..." Dis 'n lang, amper vervelige pad en ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. Yvon kry 'n beurt agter die helm en toe bestuur Louise die res van die pad. Archie maak haar touwys en sy leer vinnig. Sy geniet dit baie om agter die stuur van sake te staan.
 
Agter die stuur
Louise en Yvon
Yvon
Louise word touwys gemaak
 
Ons word beloon net 'n klonp dolfyne wat met ontbyt besig is. Hulle vervies hulle as ons nader kom en wei dan in 'n ander rigting. Die twee besoekers is in hulle skik om dolfyne te sien.
 
Skaam dolfyne
 
Later sien ons baie vliegvisse. Die visse kan darem baie vinnig oor die water vlieg en duik dan met 'n plons in die water in. Hulle is amper dieselfde kleur as die water. Dis nogal moeilik vir die gaste om hulle vir die eerte raak te sien.

Na 'n laaste vervelige stuk oor 'n groot baai, lê die marina voor ons en ek roep hulle op kanaal 73. Die swartwater word uitgepomp en toe word ons na rusplek vir die nag begelei. Die marina manne is baie bekwaam en ons is sommer gou-gou vas.
 
Finike Marina
 
Archie, Yvon en Louise stap in die hitte van die dag Migros toe vir voorrade en ek gaan was wasgoed. Mensig, maar dis warm hier in die wêreld. Ons sit blinkgesig op die boot. Dit koel verdomp nie af nie.

Ons eet heerlike koue salm met slaai. Net die regte kos vir so 'n warm aand.

Saturday, September 1, 2018

Çineviz.

31 Augustus 2018. Vrydag.

Phaselis tot Çineviz

Na ons kapteinskoffie, vertrek ons na Çineviz, 9.9 myl. Sien, ons vaar in ons spore terug, net soos ons omtrent 'n week vantevore gekom het. Vandag is dit glad nie so mistig en bewolk nie. Die dag het niks om weg te steek nie en die hoë berge en dale pronk pragtig.

Dis nog steeds midsomers-warm. Van afkoel is daar nie sprake nie. Sweet is ons voorland.

Çineviz is nog net so pragtig soos altyd. Die kaptein soek na 'n geskikte plek on ons gooi foutloos anker en soos gewoonlik is hier baie toerbote met sonsoekers wat hier baai. So ons baai maar saam.

Çineviz

Toe dit effens afkoel, roei ons al vier saam in Dinkie land toe. En die uitsig oor die suidbaai stel nie teleur nie. Dis baie mooi. Ons bekyk wat te bekyk is en stap terug na Dinkie. Archie en Louise swem terug en ek en Yvon roei.

Gaan land toe
Çineviz Baai
Sazak Limanı (Suidbaai)
Sazak Limanı (Suidbaai)

Na so 'n warm stap, is baldadige baljaar in die water die aangewese ding om te doen. Louise swem soos 'n vis in die water en ons baljaar soos kinders.

Yvon
Archie en Yvon
Louise

Archie swem later na Skillie toe en sien 'n vis wat onder aan Skillie vassuig. Hy lees op daaroor en dit is 'n remora.

Die son sak vroeg agter die berg en ons eet heerlike lam met groete-noedelrys. Smaaklik. Die nag is dit baie warm.