18 Julie 2018. Woensdag.
 |
Maltezana Baai tot Poloi |
Deur die nag begin die wind erg te waai. Tot 22 knope. En ons moet
kruis! Ons kyk weer na die windvoorspelling. Het dit dan verandering? Ons
sien dat dit 'n landwind is en van die weste kom, nes Poseidon voorspel
het. Wind of te nie, ons moet kruis, want môre begin die Meltemi weer in
die seestraat te waai. Dis nou of nooit.
Dis nog
amper donker toe ons 5:20 die anker begin optrek. En ons verlaat vir
Astipalaia Eiland waar ons so lank moes skuil. Ek besef dat as Gus nie
so onaangenaam was nie, so dié eiland een van my gunsteling eilande
gewees het. Ons vertrek in 25 knope wind na Niseros, 39 myl. Ons hoop net
die see is nie meer so groot nie. As Gus vir 'n week stormsterkte gewaai
het, is daai see reusagtig. Gister het die wind begin bedaar, maar ons
het juis nie toe gekruis nie, want ons hoop die see het bietjie gaan lê.
Westewinde
beteken dat Gus van agter af waai. Ons is net 'n ent weg van die
ankerplek, toe is die wind baie stiller. En ons vat die pad. Op die oop
see is die golwe reusagtig. Dis gelukkig van agter en dit gooi ons nie
só erg rond nie. Maar dit lyk soos berge wat ons van agter inhaal. Ek
kan nie na hulle kyk nie en lê op die vloer van die dek. Wat die oog nie
sien nie, kan die hart nie ontstel nie. En daar gaan ons, met die
hoofseil vasgemaak dat hy die agterwind kan vang.
Later
waai Gus nog ligter en die golwe word kleiner. Ek kan al vir hulle kyk.
So moterseil ons golf vir golf, myl vir myl. Kwartpad, halfpad,
driekwartpad en ons nader ons eindbestemming van ons kruising. Wat 'n
genade! En dit was nie eers so erg nie. En op die halfpadmerk word ons beloon met 'n skool dolfyne wat vinnig in die rowwe see verby swem.
Ons vaar die
hawe binne. Wat 'n gesig! Wat 'n skok! 75 Seiljagte wat aan die Rhodos Cup 2018 deelneem is in die hawe. Hulle
alongside tot ses langs mekaar. Dis stampvol. Waarheen nou? Ons sien een
benoude gaatjie tussen 'n klomp alongside jagte en 'n gewone jag en ons
maak gereed. Dis die enigste plek in die hele hawe. Wat 'n geluk! En vas
is ons.
 |
Maja - tweede seiljag van links |
 |
Ses bote langs mekaaar van gemeer |
 |
Malhuis |
Ons hoor daar is 'n wedvaart en hulle het
vandag 'n afdag op Niseros. Die Rus van langsaan sê ons is uiters
gelukkig om 'n plek te kry, want die jag wat hier getaan het, het 'n ruk
gelede vertrek. Sjoe, maar toe vul dankbaarheid éérs my hart. Ons is
hier én ons het 'n plek gekry.
Ons gaan stap die aand in die dorpie en is net betyds om die prysuitdeling van die vorige dag te sien. Twee omies speel Griekse musiek en 'n klomp mense dans in die straat. Ai, maar dis lekker in Griekeland!