Sunday, August 13, 2017

Metokhi Baai.



10 Augustus 2017. Donderdag.

Ermioni tot Metokhi Baai

Die oggend waai Gus vreeslik by Ermioni. Dit loei en ruk en pluk en die jagte dans volgens sy pype en die poppe dans behoorlik. Ons vertrek na Metokhi Baai, 9.9 myl. Die baai is oop vir die suidewind, maar gelukkig is dit die noordewind wat tans waai.  Ons seil net vir 40 minute, want Gus gee geen samewerking nie. En dis nie vêr soontoe nie.

Kerkie naby Metokhi Baai

Daar staan reeds twee jagte op anker en ons gooi in 6m. “Vasvat, so byt ons anker…” Dis ’n doodgewone baai, met ’n swemstrand waar sonbaaiers hul lywe verbrons en natmaak.

Dit word aand en Maja rol effens rond, want al die motorbote en veerbote se deining rol stadig maar seker na ons toe. Maar ek en die kaptein slaap soos babas.

Môre moet ons voor die son opstaan, want ons het ’n lang pad om te gaan.

Uitsig vanaf Metokhi Baai

Thursday, August 10, 2017

Ermioni.



9 Augustus 2017. Woensdag.

Tselevinia tot Ermioni

Ermioni is 13.8 myl van hier en ons vertrek. Gus is verward. Dan waai hy van die Noord-ooste, dan van die suide. Archie span die seile, dan waai Gus so sterk dat ons moet reef. Dan gaan lê die swerkater en af is die seile. Dan peper hy ons met windvlae van 30 knope, net om die volgende oomblik te gaan lê. Ons seil wel vir 30 minute, met ’n topspoed van 7.4 knope. En dit met baie klein seile. Om so te seil, is net ’n frustrasie.

Padda Eiland

Hoe nader ons aan Ermioni kom, hoe sterker waai die wind. Gelukkig bedaar Gus toe ons in die baai inkom. Ons gooi anker en ons is tuis. Dis ’n groot, vlak baai en teen die aand is 23 bote daar op anker en ’n klomp is by die kaai. 

Ermioni

Ermioni is ’n baie mooi dorp. Daar is baaie aan die suide- en noordekant. Ons gaan natuurlik dorp toe en kyk na die mooi uitsigte van bo af. Aan die oorkant staan ’n spoggerige kerk.

Suid Kaai
Ek en Archie
Noord Baai
Ek en Ermioni
Spoggerige kerk

Ons koop ook voorrade, want dit is ook markdag. Dit wemel van kopers en verkopers. Dit lyk soos ’n miernes en al die vars vrugte lyk so aanloklik. Ons swig en koop twee vars visse. Ons gaan heerlik eet. Ons stap terug na Dinkie. Sy het bietjie water in en ons wil nie al ons voorrade nat hê nie. Archie wil die water uitgooi en met dié aksie, het daar êrens water in die motor gekom en toe wil sy nie vat nie. En natuurlik het ons nie die roeispane daar nie. Archie trek amper sy arm uit lid uit om te prober dat Dinkie moet vat, maar dis puur verniet.

Groente
Perskes

Dis net toe dat ek sien ’n visserman wil met sy boot vertrek en ek wink en waai en beduie vir hom hy moet kom help. Uiteindelik snap hy en maak ons tou aan sy boot vas. Toe word Meneer en Mevrou Boon na Maja toe gesleep deur Dimitri, die visserman. Vir die res van die jagte se inwoners is dit heerlike kykgenot. Ons lag maar saam. Die wind waai baie erg en toe ons naby Maja kom, maak Dimitri die tou los en die laaste entjie roei ek en Archie vir die vale met die hande. 

Dimitri en Seun

Soveel dae, soveel dinge. Maar Ermioni bly maar steeds ’n pragtige plek. Ons eet die aand souvlakis wat ons by die slagter gekoop het wat Martin van Gumnuts aanbeveel het. Verlede jaar, by die einste Ermioni, het ons heerlike souvlakis aan boord van Gumnuts saam met Martin en Shiree geëet.

Wednesday, August 9, 2017

Tselevinia.



8 Augustus 2017. Dinsdag.

Sounio tot Tselevinia

Vandag is ons op pad na die Saronic See. Ons verlaat die pragtige Sounio Baai, met die Tempel van Poseidon wat hoog teen die berg staan. Die bestemming is Tselevinia, 28 myl. Ons vertrek vroeg en seil vir 4h20min. Gus was wispelturig en ons verstel gedurig die seile. Dan sit ons reefs in, dan haal ons dit uit. Dan waai weer sterk, dan reef ons weer. So hou dit aan en die kaptein bly maar besig met sy seile. 

Kaptein …
… span die seile

Ons seil verby die stuk see wat volgens die groot Griek se boek groter golwe het, veral met sterk winde. Dit is bietjie groter, maar ons kry gelukkig net die stert van die deinings. Ons moet die hele tyd ook op die uitkyk wees vir skepe en veerbote, want ons seil oor die hoofpad tussen Athene en al die ander eilande. Daai skepe is baie groter as ons, so ons seil maar katvoet.

Tselevinia kom stadig maar seker nader en voor ons weet, is ons in die bekende baai. Ons was tevore hier saam met Chris en Zané en verlede jaar op ons eie. Ons gooi in 5m water anker en hy byt dat dit bars. Die water is kristalhelder en die skole visse swem rondom Maja. Hulle is seker honger, want toe Archie vir hulle brood voer, spring hulle op kompetisiebasis sierlik uit die water om die brood te hap. 

Tselevinia

Daar slaap net drie jagte in die baai. Alhoewel Gus waai, pla dit nie en die see bly plat, al klots-klots die golfies so liggies tee die rotse. Op vanaand se spyskaart is rooipeper, gevul met feta en tamaties, met n tikkie basiliekruid pesto. Heerlik!

Gevulde rooipeper

Welkom in die Saronic see. “Michelle, pak jou bikini, ons wag vir julle!”

Monday, August 7, 2017

Sounio.


7 Augustus 2017. Maandag.

Karystos tot Sounio

Vandag is die dag wat ons die Golf van Evia verlaat. Ek hoop op heerlike windstil nagte en goeie weer vir Michelle en Johan se kuier.

Ons verlaat die veilige hawe van Karystos en gaan na Sounio, 31 myl. Gus waai nie te sterk nie en later, toe ons uit die groot baai is, span ons die seile. Ons seil vir 2h10 min en die res van die tyd motorseil ons.

Ek, die treurende sigeuner, huil die hele dag oor my ma. Ek dink die spanning van al die wind was net vir my te veel. En ek huil en huil en huil. Die kaptein weet later nie meer wat om te doen nie.

Hy verlaat sy posisie agter die helm en kom troos sy vrou. Maja is onder vol seil en die autopilot stuur. Ek dink my ma se engel-asem het vir haar wille kind gefluister dat ek deur die trane vir die see moet kyk. Dit lyk vir my vlak en ek kyk op die dieptemeter, 14 m diep. Dit word al vlakker en voor ons kan ek die geel skynsel van vlak rotse sien. Ek skrik en skakel die enjin aan. Ons pyl op die vlak af. Archie haal die helm van autopilot af en ek stuur vir Maja weg van die gevaar. Ons is al twee wit geskrik.

By die noordelike kant van Makronisi Eiland is daar 'n vlak rif. Daar was altyd 'n skeepswrak wat op die rif gelê het wat bote van die gevaar gewaarsku het, maar dis nou weg. Die rif is nou nie so sigbaar nie. Dis baie vlak, as ons daaroor geseil het, sou ons die kiel teen die rotse geslaan het. Ons wil nie eers dink wat kon gebeur het nie.

Ons kom nader aan Sounio en gooi anker. Ek huil nog eenstryk  deur. Gus waai, maar darem nie te erg nie. Die baai word voller en voller. Dis ’n gewilde plek hierdie baai met die Tempel van Poseidon daar bo-op die berg. Die mense op die seiljagte gaan nie eers land toe nie, want ou Gus waai te veel.

Sounio Baai
Tempel van Poseidon

Die maan kom stukkend agter die heuwel uit, so stukkend soos my hart.

Gedeeltelike maanverduistering