Thursday, July 27, 2017

Evia Eiland. Khalkis.


21 Julie 2017. Vrydag.

Limni tot Khalkis

Ons staan vroeg op en nadat Lourens met warm, vars brood terugkom, is ons op pad na Khalkis, 22.7 myl.

Dis ’n enkelloper se wind (“kom en gaan”) en ons seil wanneer die wind dit toelaat. Uiteindelik seil ons vir 1h 20min.

Kom by Khalkis en sien ’n beknopte plek by die kaai. Daar is snaakse strome en winde en dis eers op die derde probeerslag dat Lourens op die kaai kon kom. Daarna is dit maklik en ons is vas. En ons staan so wragtig waar in die skadu van ’n palmboom.

Langs die kaai
Staan in die skadu van 'n palmboom

By Khalkis is daar 'n padbrug wat Evia Eiland aan die vasteland vebind. Daar is eienaardige sterk strome wat onder deur die brug vloei en elke 6 ure verander hulle hulle rigting. Die presiese tye hang af van die fase van die maan. Een keer per dag, saam met die dooiegety wat tussen 21:30 en 03:00 plaasvind, word die brug geopen vir bote wat wil deurvaar. Dit is ons voorland môreoggend!

Khalkisbrug

Toe is dit Hawe Administrasie toe om brug-gelde te betaal en Hawe Polisie toe vir die nodige instruksies en stempels in ons log. Lourens en Ryna stap deur die stad en Ryna kry twee rokkies en Lourens ’n geskenk vir Alicia. Hulle eet roomys en drink ’n cocktail by ’n “upper class” restaurant … dit net om die hitte op die boot te ontduik. Hulle koop ook treinkaartjies na Athene en die lughawe. Later sny Ryna vir Archie se hare.

Hare word gesny


Aandete is weer Archie se spesialiteit hoender …  smullekker met ons eie wit wyn. Die atmosfeer is onbeskryflik. Liggies weerkaats op die water en die restaurante se musiek op die agtergrond is pragtig.

Ons moet vanaf 21:30 op ons radio luister totdat Maja se naam geroep word. Daarna kan ons deurry. Dit gaan ’n lang nag wees want die kennisgewingbord by die brug reken die brug sal eers oopmaak om 02:30.

Lourens en Ryna vertrek môre na 9 dae op Maja. Dit gaan ’n lang warm dag wees en min slaap lê voor totdat hulle Suid-Afrika Sondagoggend bereik. Werklikwaar ’n onbeskryflike lekker 9 dae. Only one regret - Deon, Alicia en A.S: ons het julle baie gemis!


Evia Eiland. Limni.



20 Julie 2017. Donderdag.

Ek dink vandag spesiaal aan my vrou, Marietjie en die hele familie, want haar ma word vandag begrawe. “Baie sterkte julle”!

Amirou Baai tot Limni

Na ’n rustige nag is ons reg vir Limni, 13 myl, maar eers nadat ons kapteins pannekoek geëet het. Ons kry gunstige wind en seil vir 1 uur.

Lourens die helmsman
Ryna maak voete nat

Limni Hawe bly nog baie smal, maar ons ry in, gooi ’n 360° draai, Lourens doen die kaai werk, Ryna steek haar balfender waar nodig in en siedaar, ons is “alongside”. 

Limni Hawe. Maja is heel voor

Ons stap bult-op na die skool en later na ’n klein kerkie, daarna af dorp toe. Ryna is honger en koop twee broodrolle, maar voordat sy hulle kon eet, stop ons by ’n restaurant en eet brood met ’n rissierige roomkaas en witwyn. Lourens en Archie gaan koop gas en Ryna swem sodat sy bibber van die koue met terugkeer, koel water na verskriklike hitte is net te veel. Later die aand stort ons, trek ons “glad rags” aan en gaan eet ons afskeidsete by dieselfde restaurant. Lourens en Archie eet gebraaide bok en Ryna eet mousaka – alles natuurlik saam met ’n 500ml karaffe witwyn.

Afskeidsete

Op pad terug na Maja koop Ryna ’n blok fênsie sjokolade vir poeding. Die twee brood rolle word gebêre vir ’n ander dag.

Wat ’n lekker dag.

Amirou Baai.


19 Julie 2017. Woensdag.

St Yeoryious tot Amirou Baai

Vroegoggend begin die vissersbote terugkom. Daar is baie aktiwiteit en lawaai. 'n Visser werk wragtig baie hard.

Was nette
Hard besig
Dis nat werk
Dis seker die baas!

Ryna en Lourens gaan koop brood, ons pak op en ry na Nsis Atalantis, 14.7myl. Ons is gelukkig en kry 10 to 16 knope wind van agter en ons seil met die hoofseil vir 1h17min en dan motorseil verder totdat ons amper by die ankerplek kom. Laai batterye dieselfde tyd.

Kom by Nsis Atalantis en die anker byt stewig. Eet middagete. Ons sien talle bokkies deur die verkyker, ’n hele kolonie meeue en eienaardige bruin voëls met swartkoppe en swart vlerke. Met die anker sien sien Ryna reuse-mossels, Lourens dink sy maak ’n grap, maar Archie bevestig dat dit ’n baie skaars soort skulp is. (“Reusagtig” beteken nie minder as 'n halwe meter in lengte!)

Daar is ’n kennisgewingbord op die land (alles in Grieks) en dit pla Archie. Hy neem 'n foto en skandeer dit in Google Translate (dankie Pieter vir die tegniek). "Anker gooi is hier verbode". Ons trek die anker op en seil nog 4 myl to Amirou Baai. Ons ry 18.7 myl in totaal. 

Ryna waag dit om ’n Titanic scène te doen deur op die voorpunt van die skip te ry.  Bietjie riskant, maar ’n ervaring duisend. 


Titanic

Ons ry verby ’n “space ship” in die water en leer later dit ’n Trimeran genoem word … dit is baie luuks maar ons vermoed dat slegs die bemanning tans daar is. Op ’n heuwel bo die baai is ’n reusagtige huis, dalk is dit die eienaar wat daar woon.

Daar is twee van die bote in 2016 in Latvia te water gesit. Hulle is 53 m lang en word aangedryf met twee enjins van 2452 perdekrag elk. Een is huidig te koop teen 'n skrale prys van slegs €23 000 000.

Galaxy Super Yacht

Na 'n suksesvolle anker gaan swem ons, maar ongelukkig is die sig is in die water baie swak as gevolg van die baie fyn modder in suspensie.

Ons eet weer ouzo hoender en drink wit wyn. Skemer is idillies mooi, die see om ons is seepglad. Vanaand slaap ons soos babas.

Evia Eiland. St. Yeoryios.



18 Julie 2017. Dinsdag.

Glifa tot St. Yeoryios

Vertrek vanaf Glifa na ’n rustige, kalm, reënlose aand, na Skala Adipsos, maar halfpad soontoe, besluit Archie om na die klein vissersdorpie, St Yeoryios, 14.1 myl, toe te gaan.

Mooi landskap

Hy besluit om kans te vat by die kaai en tree agteruit in, maar helaas, die anker ketting raak op. Probeer weer, dieselfde storie. Derde keer is die afstand reg geskat en ons is vas.

Maja. Uiteindelik vas teen die kaai

Ons gaan ook dorp toe en koop groente, hoender (baie) en wyn (ook baie). Ons deel die kaai met omtrent agt groot vissersbote en spandeer die res van die dag om te kyk hoe berei hulle voor vir hulle nag se visvang. Dis polistireen bokse, tonne ys, kos, klere was en selfs bid, want daar is Muslims tussen hulle.

Ons bure
Stil baai
Was klere
Op pad na die viswaters

Om 19:30 vaar hulle almal uit en die kaai word leeg en stil. Maar nie vir lank nie. Die plaaslike inwoners kom daar aan met hulle visstokke, stoele, emmers en ander parafernalia en daar word ernstig gehengel, van hulle dwars deur die nag.

Orei en toe Glifa



17 Julie 2017. Maandag.

Pighadi Baai tot Glifa

Archie staan op, kyk vir die weervoorspelling en besluit ons moet onmiddellik ry. Koffie, met Ryna se beskuit, is haastig gedrink, die “sprayhood” word gelig en weg is ons in die reën. Gelukkig is die winde (tot 28 knope) van agter en ons maak goeie spoed om binne 2 ure by Orei (10 myl) te kom.

Ryna, gepantser teen die reën, wind en koue
Lourens ook!

Die hawe is propvol, maar iemand help ons om "alongside" teen die ou staal kaai vas te maak. Dit is ’n verskriklike aaklige plek met groot ysters wat uitsteek, die tipe wat fenders vreet. ’n Hollander sê ons moet liewers anker gooi en agteruit inkom, want die vorige nag was daar groot golwe in die hawe en baie skade is aan van die bote aangerig. Dit terwyl ons snoesig in Pigadhi Baai op anker gelê het. Al die booteienaars daar is besig om reg te maak vir  nog so 'n nag, want nog groter storms is voorspel.

Terwyl ons besig is om vasmaaktoue aan die kaai te voorberei, kom ’n omie van die Hawe Oewerheid aangestap en sê die kaai is honderd jaar oud en ons moet skuif. Die pier is blykbaar te vrot (hy het verseker nog nooit ’n restaurant kaai in Turkye gesien nie). So wat nou? Slegte weer is voorspel en daar is nie plek vir ons nie?

Archie gaan koukus met die Pilot Book terwyl Ryna en Lourens dorp toe loop. Op pad stap hulle verby 'n glas vertoonkas waar 'n groot marmer bul uitgestal word. Dié is in 1965 deur vissermanne uit die see uitgehaal. Hulle koop vleis, brood, perskes en worsies. Die slagter noem dat Suid-Afrikaners uit Kaapstad op die eiland Aryironisis woon.

Archie besluit ons ry toe vêrder na Glifa, 6 myl, en ons kry ’n goeie ankerplek voor die strand. Elke nou en dan breek die son deur. Gelukkig reën dit nie en die wind is stil.

Na ’n siësta klim ons in Dinkie en gaan verken die dorp. Lourens koop vir hom nuwe skoene, want Grietjie se ou sloffies het baie beter dae gesien. Dié word seremonieel weggegooi.

Ryna kry 'n vriend op die kaai
Interessante kennisgewingbord by die strand
Die see is stil … vir nou!

Ons eet weer vark stamppot (met die laaste oorskiet hoender en noedels) saam met ’n bottel Roodeberg. Te lekker!

Die weer is swaar met donker wolke, maar nog nie reën of wind nie. Daar word wel vir môreoggend reën voorspel, maar vanaand gaan ons droog en warm in koel weer slaap. Ons wonder hoe gaan dit in Orei?

Maja staan reg vir die storm weer

Pigadhi Baai.



16 Julie 2017. Sondag.

Pythos Baai tot Pighadi Baai

Die wind is stil, die son skyn en die water is glad toe ons uitry op pad na Pigadhi Baai, 9.8 myl. ’n Uur later rol daar donker wolke oor ons en ’n 12 knope wind kom van agter. Ons span die genoa en, terwyl Archie dringend foto’s vir Marietjie vanuit die kajuit stuur, vat Lourens die helm en ons seil vir 60 minute, tot amper by ons eindpunt. Dis ’n kleinerige baai en ons moet mooi gooi om al die permanente boeie en seilbote te mis. Die anker byt goed en ons is veilig, maar daar word reën vir die res van die dag en môre voorspel.

Pighadi dorp
Maja in Pighadi Baai

Ryna slaag daarin om alleen die "snubber" aan anker te sit is voel baie tevrede met haarself. Later roei sy en Lourens met Dinkie deur 'n stormagtige see land toe om na die kasteel bo-op die berg te kyk en foto’s te neem.

Die aand word met Roodeberg en die oorblyfsels van Archie se ouzo hoender op die dek afgesluit. Later die nag begin die wind weer waai en daarmee kom reën, groot reën - en raai wat - die toilet venster was nie toe nie. Na ’n geskarrel is alles drooggemaak en almal kon weer gaan slaap. Met Marietjie sou dit nooit gebeur het nie.

Dit reën die res van die nag.