Monday, July 24, 2017

Alonissos Eiland. Patitiri.


9 Julie 2017. Sondag.

Peristera Baai tot Patitiri


Zané en Archie gaan land toe om foto’s te neem en om Zané se skulp versameling te vermeerder. Die fotosessie is weens ’n pap battery nie baie suksesvol nie, maar die skulp versameling is aansienlik aangevul.

Vroegoggend by Peristera Baai
Skulp versameling word aangevul


Ons vertrek uit die prentjie mooi baai en vaar in spieëlglad see tot Patitiri, 5.3 myl. Dis Zané en Pieter se eerste agteruit-kaai-toe anker gooi, maar alles loop seepglad en ons is vinnig en veilig by ons plek.

Ons loop ’n lang verdwaal pad na die Chora (ou dorpie) toe omdat ek nie die kortpad kon onthou nie. Ek draai om sodra ons die regte pad kry, want al die bedlinne moes in voorbereiding vir Ryna en Lourens se besoek oor 4 dae gewas word terwyl daar water is. Vind uit dat wasgoed was baie dors maak en baie bier word gedrink om dehidrasie te verhoed.

Pieter en Zané loop die ou dorp plat en kry ’n mooi yskasmagneet. Met die terugkomslag besluit hulle om gyro’s te eet, maar al die plekke is toe en hulle eet toe maar heerlik middagete op Maja. Dis bloedig warm teen die kaai en hulle besluit toe om by die strand te gaan swem. Op pad terug koop hulle darem “takeaway ”gyro’s vir aandete en sommer ook weer wors en tamaties en die mooiste sampioene vir die laaste paar aande.

Met die terugstap na Maja kom hulle agter daar is groot bedrywigheid op die kaai. Die paaie word gesluit en hier is ‘n vrolikheid aan die kom. Dis die jaarlikse groot Griekse dansfees wat vir drie aande gehou word … en ons het "front row seats" op Maja. Vanaand word hier nie ’n oog toegemaak nie!

Peristeri Eiland. Peristera Baai.


8 Julie 2017. Saterdag.

Baie geluk met jou verjaarsdag, Marietjie. Jou situasie is nie lekker nie, maar ons hoop die familie gaan jou bietjie bederf. Sterkte daar.

Planitis Baai tot Peristera Baai

Dis ’n redelike kort dag na Peristera Baai, op Peristeri Eiland, so na kapteinskoffie smul ons aan pannekoek vir ontbyt. Daar is nie noemenswaardige wind nie, maar is die see omgekrap! Ons skommel en hop die hele pad en kon net ’n skrale 17 minute seil!

Bak pannekoek

Ons gooi anker en dit byt goed, maar na vêrder ondersoek besluit Archie ons moet oorgooi. Gooi oor, toets weer, lyk goed, maar die Kaptein is nog nie heeltemal lekker nie, want die seebodem val baie steil af. Hy besluit om “line ashore” te vat. Dis ’n eerste vir die nuwe bemanning, maar Pieter bemeester die swem ding en hierdie keer is alles reg met die anker en die Kaptein is gelukkig.

Maja vas in Peristera Baai
Pieter swem tou na die land

Peristera Baai is ’n juweel. Die skoonste water, ’n pragtige sand strand, digte plantegroei tot by die water en ’n paar mooi huisies wat dit afrond.

Pieter en Zané gaan snorkel in die pragtige helder water en kry die mooiste skulpe in ’n verskeidenheid kleure en groottes. So word die res van die middag gespandeer en Zané eindig met ’n mooi versameling.

Zané soek skatte…
… asook Pieter
Pragtige skulpe
Peristera Baai is n juweel

Die aand maak Archie Turkse manti vir aandete en ons eet skoonbord! Na al die swem kruip ons vroeg in die bed in.

Kyra Panagia Eiland. Planitis Baai.


7 Julie 2017. Vrydag. 

Stafilo Baai tot Planitis Baai

Vandag pak ons die lang vaart na Planitis Baai op Kyra Panagia Eiland, 26.3 myl, aan. Die roete gaan deur die kanaal tussen Alonissos Eiland en Peristeri Eiland en dan op met die wes kus van Kyra Panagia. Wind is wisselvallig maar ons kry darem 1h07min seil in.
 
Vroegoggend
Grondstorting


Archie was saam met Marietjie tien dae gelede hier en weet presies waar om te stop. Die anker byt maklik. Die baai is baie stil maar die water is baie troebel, so snorkel was nie baie suksesvol nie! Pieter is 'n boer en is gefassineer oor die eiland se bokke want sommer water uit die see uitdrink.

Seewater drinkende bokke

Pieter en Zané is moeg gevaar en vat ’n laaaaaang siësta.

Daar is nog oorskiet hoender met noedels van die vorige aand so kos maakgaan vinnig. Na ete sing ons tot baie laat en Zané se whiskey bottel sak vinnig. Ons kort eintlik Chris (Zané se broer en bobaas singer) se teenwoordigheid want ABBA liedjies bly nog ’n probleem.

Skopelos Eiland. Stafilo Baai.


6 Julie 2017. Donderdag.

Platanias Baai tot Stafilo Baai


Vandag is dit Platanias Baai tot Stafilos Baai, 16.2 myl. Weereens is die windrigting goed en daar word vir 2h27min geseil.

Pieter is in sy element en geniet die seil baie. Seil eintlik agter die wind aan, hou nie noodwendig die koers dop nie! Kry goeie spoed met ’n topspoed van 7.3 knope en is baie tevrede met homself. Die anker byt eerste keer tot die verligting by anker gooiers.

Zané vat die helm …
… terwyl die Kaptein ontspan
Stafilo Baai

Daar is kwaai windvlae in baai en ons moet maar in saloon wegkruip vir die wind, want dis redelik onplesierig op die dek. Ten spyte hiervan gaan Zané bietjie op die dek sonbad en brand erger as wat sy beplan het. Later bedaar die wind en dit word heel aangenaam.

Ons roei land toe om foto’s te gaan neem. Zané en Pieter swem sommer terug na Maja toe. Sit daarna almal op die dek om droog te word en geniet sommer ’n sundowner net daar in die laaste sonnetjie.

Stafilo Baai
Swemstrand
Seetoneel
Boom en rots


Kos maak raak ’n spanpoging met insette van almal. Op die spyskaart is basiliekruid hoender met pan-gebraaide aartappels. Dit was heerlik!

Skiathos Eiland. Platanias Bay.



5 Julie 2017. Woensdag. 

Nea Klima tot Platanias Baai via Skiathos

Vandag vlieg Marietjie terug na Suid-Afrika om by haar Ma te wees in dié se laaste ure. Nea Klima tot Platanias Baai via Skiathos 15.2 myl en ons seil 1 uur.

Voor ons haar afsien word Maja deeglik skoongemaak – binne en buite. Gelukkig het ’n Goeie Samaritaan ’n klomp geld op die kaai se waterpilaar oorgelaat en ons kan ruim water gebruik.

Daarna is die uitvaar terug na Skiathos, 8 myl. Die wind waai reg is ons seil vir 1 uur. Onder Marietjie se valkoog word die anker in Skiathos Baai suksesvol gegooi. Volgende keer moet Pieter en Zané dit self doen.

Dinkie is baie klein en dit neem twee trips om almal by die land te bring – eers Pieter en Zané en dan Marietjie. Daar is geen busse na die lughawe nie maar ons is mos almal stappers, party van ons met splinternuwe knieë, en ons durf die 1.6 km pad aan. Soos by Kilimanjaro word “pule-pule” (stadig-stadig) gestap want die dag is warm en ons kan nie ons skoon lywe natsweet nie.

Pieter en Zané gaan land toe
Maak Dinkie vas

Marietjie word gegroet en ons oorblywende drie stap terug via die supermark om die nodige proviand te koop. Hoender, aartappels, lemonade en beskuitjies is ruim ingepak.

Tot siens Marieks. Sterkte.
Zané, Marietjie en Pieter

Trek anker op en vaar net om die hoek na Platanias Baai , 7.2 myl, waar ons die nag wil deurbring. Dis Pieter en Zané se eerste alleen anker gooi en die baai besluit dit gaan ’n goeie leerskool aanbied. Na oneindige probeerslae (wel meer as tien) is ons uiteindelik vas. Die anker word geïnspekteer en verklaar as “bomb proof”. Almal het ’n beurt gekry om te gooi en op te trek. Ons is nou goed geoefen! Marietjie waar is jy?

Die graduasie as ankergooiers word gevier met baie whiskey en ons eet twee dae se kos (Turkse wors en pasta) sommer eensklaps op. Drink koffie en gaan slaap. Dit is ’n doodstil nag.

Tuesday, July 4, 2017

Kennisgewing

Daar sal van 5 Julie tot 23 Julie 2017 geen blog verskyn nie. My ma is baie siek en ek vlieg terug huis toe. Sal weer blog plaas as ek terug is in Griekeland. Pieter en Zané se wedervaringe sal ook dan eers geplaas word.

Dankie vir die begrip.

Seilende sigeuner.

Neo Klima. Fotosessie.



4 Julie 2017. Dinsdag.

Ons het twee topmodelle genader vir ’n fotosessie op Maja en hulle het ingestem om vir ons te kom poseer, ten spyte van hul besige program.

Hulle het gesê: ”Ons sal altyd in ons besige skedule tyd maak vir Maja. Solank ons dan net twee weke saam op haar kan seil.” En toe is dit afgespreek. Ons kry ons foto’s en hulle seil saam. Die een hand was die ander. (Solank ons net nie water mors nie, Reël 14)