Monday, July 24, 2017

Alonissos Eiland. Patitiri.


9 Julie 2017. Sondag.

Peristera Baai tot Patitiri


Zané en Archie gaan land toe om foto’s te neem en om Zané se skulp versameling te vermeerder. Die fotosessie is weens ’n pap battery nie baie suksesvol nie, maar die skulp versameling is aansienlik aangevul.

Vroegoggend by Peristera Baai
Skulp versameling word aangevul


Ons vertrek uit die prentjie mooi baai en vaar in spieëlglad see tot Patitiri, 5.3 myl. Dis Zané en Pieter se eerste agteruit-kaai-toe anker gooi, maar alles loop seepglad en ons is vinnig en veilig by ons plek.

Ons loop ’n lang verdwaal pad na die Chora (ou dorpie) toe omdat ek nie die kortpad kon onthou nie. Ek draai om sodra ons die regte pad kry, want al die bedlinne moes in voorbereiding vir Ryna en Lourens se besoek oor 4 dae gewas word terwyl daar water is. Vind uit dat wasgoed was baie dors maak en baie bier word gedrink om dehidrasie te verhoed.

Pieter en Zané loop die ou dorp plat en kry ’n mooi yskasmagneet. Met die terugkomslag besluit hulle om gyro’s te eet, maar al die plekke is toe en hulle eet toe maar heerlik middagete op Maja. Dis bloedig warm teen die kaai en hulle besluit toe om by die strand te gaan swem. Op pad terug koop hulle darem “takeaway ”gyro’s vir aandete en sommer ook weer wors en tamaties en die mooiste sampioene vir die laaste paar aande.

Met die terugstap na Maja kom hulle agter daar is groot bedrywigheid op die kaai. Die paaie word gesluit en hier is ‘n vrolikheid aan die kom. Dis die jaarlikse groot Griekse dansfees wat vir drie aande gehou word … en ons het "front row seats" op Maja. Vanaand word hier nie ’n oog toegemaak nie!

No comments:

Post a Comment