5 Julie 2017. Woensdag.
![]() |
Nea Klima tot Platanias Baai via Skiathos |
Vandag vlieg Marietjie terug na Suid-Afrika om by haar Ma te wees in dié se laaste ure. Nea Klima tot Platanias Baai via Skiathos 15.2 myl en ons seil 1 uur.
Voor ons haar afsien word Maja deeglik skoongemaak
– binne en buite. Gelukkig het ’n Goeie Samaritaan ’n klomp geld op die kaai se
waterpilaar oorgelaat en ons kan ruim water gebruik.
Daarna is die uitvaar terug na Skiathos, 8 myl.
Die wind waai reg is ons seil vir 1 uur. Onder Marietjie se valkoog word die anker in
Skiathos Baai suksesvol gegooi. Volgende keer moet Pieter en Zané dit self
doen.
Dinkie is baie klein en dit neem twee trips om
almal by die land te bring – eers Pieter en Zané en dan Marietjie. Daar is geen
busse na die lughawe nie maar ons is mos almal stappers, party van ons met
splinternuwe knieë, en ons durf die 1.6 km pad aan. Soos by Kilimanjaro word
“pule-pule” (stadig-stadig) gestap want die dag is warm en ons kan nie ons
skoon lywe natsweet nie.
Pieter en Zané gaan land toe |
Maak Dinkie vas |
Marietjie word gegroet en ons oorblywende drie stap
terug via die supermark om die nodige proviand te koop. Hoender, aartappels,
lemonade en beskuitjies is ruim ingepak.
Tot siens Marieks. Sterkte. |
Zané, Marietjie en Pieter |
Trek anker op en vaar net om die hoek na Platanias
Baai , 7.2 myl, waar ons die nag wil deurbring. Dis Pieter en Zané se eerste
alleen anker gooi en die baai besluit dit gaan ’n goeie leerskool aanbied. Na
oneindige probeerslae (wel meer as tien) is ons uiteindelik vas. Die anker word
geïnspekteer en verklaar as “bomb proof”. Almal het ’n beurt gekry om te gooi
en op te trek. Ons is nou goed geoefen! Marietjie waar is jy?
Die graduasie as ankergooiers word gevier met baie whiskey
en ons eet twee dae se kos (Turkse wors en pasta) sommer eensklaps op. Drink
koffie en gaan slaap. Dit is ’n doodstil nag.
No comments:
Post a Comment