Wednesday, May 24, 2017

Çiftlik.


23 Mei 2017. Dinsdag.

Joya Del Mar Marina tot Çiftlik

Dis vanoggend Chrismari se nooiensvaart op Maja. Ons gaan vir oulaas dorp toe met die dolmus. Ons ry so gereeld op die bussie dat die bestuurder ons al ken. Na die aankope maak ons gereed vir die vetrek en verlaat Joya Del Mar. Ek het vreeslik baie van die plek gehou. Ons vaar na Netsel Marina toe waar ons diesel gaan ingooi en swartwater gaan uitpomp. Op pad na die marina keer die hawepolisie ons voor. Hulle wil die bootpapiere sien en ook weet wie aan boord is. O maggies! Till en Andree is nog op ons lys en Chrismari is nog nie op nie. Ons word aangeraai om dadelik ons sake in orde te kry.


Chrismari se nooiensvaart

Ons gooi diesel in, pomp swartwater uit en toe gaan anker ons maar in Marmaris se baai en die kaptein vat vir Dinkie en jaag land toe, kry die hawemeester gelukkig maklik en kry ons sake in orde. Toe is Chrismari nie meer ’n onwettige immigrant nie en ons vat die pad na Ciftlik, 14.9 myl.

Soos gewoonlik waai die manne op die kaai soos windmeulens en oudergewoonte gaan ons na Mehmet se plek toe. Ons maak vir Maja vas en siedaar. Dis tyd vir “cold beverages”. Chrismari is dadelik op haar pos en skink.

Die plek is vir my nog net so mooi soos altyd. Die berge is hoog, die water helder en die pier is baie verbeter, glad nie meer so wankelrig nie. Ek voel skoon tuis.

Mehmet's Place
By die kaai
Çiftlik Baai
 
Die aand gaan eet ons uit by die restaurant en Chrismari  bestel ’n groentedis en ek en Archie eet swaardvis (wat eintlik nie so lekker was nie). Die diens is uitstekend en hulle koer behoorlik rondom ons om seker te maak dat alles aan tafel seepglad verloop.

Archie, ek en Chrismari
Swaardvis
Groentekasserol
 
Ons is om een of ander rede is ons baie moeg en gaan klim in die vere en Crismari het ’n vreeslike nagmerrie. Haar kar word gesteel en nog ’n paar rampe tref haar. Sy word wakker en gelukkig is niks van die droom waar nie.

Tuesday, May 23, 2017

Rhodos.

22 Mei 2017. Maandag.

Vandag is die groot visum dag. Ons kry mos net ’n gratis Turkse visum vir 30 dae. Dan moet jy uit die land gaan en terugkom om ’n nuwe Turkse visum te kry, wat dan weer geldig is vir 30 dae. Ons kies gewoonlik ’n Griekse eiland wat naby Turkye is en vat dan die veerboot daarheen.

Vandag is dit Rhodos. In die reën klim ons die 9:15 veerboot en daar trek ons. Die see is rof en daar is ’n klomp mense wat seesiek raak. Ek kyk maar weg, voordat ek naar word. Dis is so ’n uur se vaar tot daar. Aan die oostekant van Rhodos is daar ’n donderstorm en aan die westekant skyn die son.

Welkom in Rhodos

Ons en al die toeriste van die kolossale skip, Thompson Dream, begin die stad plat te loop. Dit wemel en wriemel en krioel soos miere. Waar jy kyk, is ’n lyf. Veral ouer lywe, want dit lyk vir my of die ouer garde op die groot skip vaar. 

Woelige strate

Ons bewonder eers die Suleman Moskee. Die ronde dakke is altyd vir my mooi.  Ons loop na die kloktoring en het nog ’n mooier uitsig van die moskee, so tussen die bome deur. Die paleis is egter toe vir die dag, want daar is ’n “pease” konferensie. Al die toeriste draai teleurgesteld om as hulle die kennisgewing lees. Gelukkig was ek al vantevore daar.

Paleis
Suleman Moskee
Kloktoring

Vir my en Archie is dit natuurlik heerlik om in die Middeleeuse grag te loop. Die hoë mure troon bokant ons uit. Niemand sou die stad maklik bereik het nie. Oor hierdie mure sou hulle nie kom nie. Miskien die helde soos Superman, Batman, Spiderman! Ons betree die grag deur ‘n klein, donker tonnel naby die Hek van Johannes.

Donker gang
Loop in die grag
St Johannes Hek

Die Panagia tou Bourgou is ook bewonderenswaardig. Dis maar net ’n vreeslike naam vir ’n bouvallige kerk. Daar is nog ’n klomp ou goeters wat ek nie die name van ken nie. Maar Rhodos is vir my iets besonders.

Kerk

Ons stap hawe toe en die twee bokkies staan op kolomme waar die Kolosse van Rhodos in die verre verlede gestaan het. Die windmeulens staan roerloos in die wind. Vir draai is hulle nie lus nie.

Windmeulens
Bokkie

So gaan ’n dag in die besonderse toeriste dorp verby en skielik is dit weer tyd om huis toe te gaan. Ons klim die 17:00 veerboot en daar trek ons terug na Marmaris. Die keer is die see nie so rof nie en niemand word seesiek nie. Die Turkse stempel ons paspoorte en nou is ons weer wettig vir 30 dae.

Rhodos straat
Rhodos

Toe is dit die finale bed opmaak van Maja met die skoonste vars gewaste beddegoed en ons is reg vir Chrismari, ons gas van Suid-Afrika. Sy het in 1998 uit ons lewens gestap en vandag, vir die eerste keer in 17 jaar, sien ons haar weer. Ons vriend, Chris Joubert, verwys met reg na haar as die “verlore kind”.

Chrismari en Archie


En skielik is sy daar en al die verlore jare val weg en dis asof dit gister was wat ons haar gesien het. Welkom hier by ons op Maja.

Saturday, May 20, 2017

Joya Del Mar Hotel Ankerplek. Marmaris.



18-20 Mei 2017. Donderdag-Saterdag.

Aşi Bükü tot Joya Del Mar, Marmaris

Ons vertrek uit ’n vreeslike bewolkte Pirate Bay na Joya Del Mar, Marmaris, 24 myl. Die see is glad en Gus is nêrens te sien nie. Die lug is verskillende skakerings van grys, gestroop van alle kleur. En so vaar ons maar verder.

Ou Gus blaas later net genoeg dat ons die groot, kragtige genoa kan span en ons seil lekker vinnig verder. Die swanger uitspansel is swaar gelaai en dis ook nie lank nie of die eerste druppels val na benede. Sukke sagte Kaapse motreën wat net-net natmaak. Gelukkig sit ons gewapen met ons reënbaadjies droog op die dek.

'n Brokkie sonskyn tussen die buie
Koud maar sonnig

Dit reën soms elders en soms by ons. Daar waar die water onegalig is, reën dit. Net plek-plek, nie oraloor nie. Tussen die buie kry ons so nou en dan 'n brokkie son. Ons seil voort, die myle lê agter ons en ook voor ons. Dis net ons drie - ek, die kaptein en Maja.

Ons vaar by die groot baai van Marmaris in en die see en wind is stil. Dis ook nie so koud meer nie. Sodra Gus gaan lê, vat hy die koue ook saam bed toe. Ons vaar na Joya Del Mar toe waar ons gaan anker tot Sondagoggend. Die baai is sonverguld.

Joya Del Mar ankerplek

Daai anker byt behoorlik en ons is tevrede met ons nuwe blyplek. Dis nog effens bewolk wat soms oorgaan in ’n effense reënbui. Toe trou jakkals met wolf se vrou. Dit reën terwyl die son skyn en ons word beloon met ’n pragtige reënboog wat twee potte vol goud het. Hy is met al twee punte aan die aarde geanker. 

Aan die einde van die reënboog

Die laatmiddag is magies en idillies mooi en Marmaris word skielik ’n rusplek vir my siel. Ek en die kaptein sit vol genoegdoening op Maja se dek en drink die skoonheid van die natuur diep in.

Ons wag op ons nuwe gas, Chrismari Bornman, wat Maandag by ons gaan aansluit. So nou is dit wasgoed was (as die weer dit gaan toelaat) en winkels toe gaan om voorrade te koop. Sondag, as ons na Joya Del Mar se boetiek marina toe gaan, is dit boot skoonmaak, stofsuig en al daai huisvrouwerk wat nooit klaarkom nie. Ons moet ook Maandag met die veerboot na Rhodes, Griekeland, toe gaan, sodat ons ons nuwe Turkse visums vir die volgende 30 dae kan kry.

Thursday, May 18, 2017

Aşı Bükü (“Pirate Cove”).



17 Mei 2017. Woensdag.

Kızılbuyruk Bükü tot Aşi Bükü

Ek weet nie wat noem mens die plek nou eintlik nie. Die boek sê Dişibilmez Bükü, die Duitse boek sê Aşi Bükü (Piraten-Bucht) en Archie sê Pirate Cove. Heel verwarrend vertrek ons soontoe, 16.5 myl. Al die boeke is vreeslik geheimsinnig oor die plek, daar is nie eers ’n skets van die baai nie. Praat net van allerhande gevaarlike rotse en dis net vir kalm weer. Gus stoot ook deinings in die baai as hy waai. Die weervoorspelling sê dis kalm en ons glo dit. 

Oggendskoot - Kalm?

Ons seil ook ’n bietjie terwyl Gus dit toelaat en later vaar ons maar net verder. Vorentoe, altyd vorentoe. Verby Baba Adasi, waar ons altyd al hoppende anker. Vandag soek ons ’n nuwe heenkome.

Ons kom by die groot baai en vaar in. Diep in. Ons kan later die dak van die restaurant sien en vaar versigtig nader. ’n Man op ’n dinghie kom op ons afgejaag en sê ons moet anker gooi en aan die pier vasmaak. Archie is halsstarrig, want hy wou net anker. Daar is egter nie plek vir anker nie en ons maak toe maar aan die vreeslike wankelrige, wiegende plastiese kaai vas. Ek bekyk die besigheid maar net met ’n houtoog uit. Ons is toe “veilig vas”. En op die koop toe moet ons by die restaurant gaan eet.

Wankelrige kaai
"Veilig vas"
Boom 

Ek waag my lewe net twee keer om op die plastiese kaai te loop en dis toe ons gaan eet en toe ons terugkom. Elke tree is ’n wiegelied en my balans met die nuwe knieë is nog nie wat dit moet wees nie. Die ridderlike kaptein dra ons plank saam, want volgens hom moet jy die laaste tree van die kaai tot op die sand “leap”. En vir ’n ge"leap", is ek nog nie reg nie. Ek stap ewe elegant oor die plank op die sand.

"Blommetjie gedenk aan my …"

Ons eet heerlik by die restaurant, köfta, slap tjips en drink water. Dis ’n pragtige uitsig en ek besef nou eers hoe bekoorlik is die baai. Maja is eensaam en alleen by die kaai. Gelukkig was die weervoorspelling regoor die kalmte, want hier wil ek nie wees as Gus waai nie.

Restaurant

Wat ’n genotvolle, opwindende verblyf was dit nie in die geheimsinnige baai nie. Hierheen sal ons beslis weer terugkom, eendag as ons weer hier is en die kalmte aanvoel.

Kızılkuyruk Köyü.



16 Mei 2017. Dinsdag.

Wall Bay tot Kızılkuyruk Köyü

Ons bevry Maja baie maklik van die land, want dit is windstil. En daar trek ons na Kızılkuyruk Köyü, 16.5 myl. Dis ’n baai aan die buitekant van Skopea Limanı. Hier is dit al weer sukke tyd, anker met ’n lang landlyn. 

Sonsopkoms

Dis net ons in die baai, dis windstil en ons kry alles gereed vir die aksie. Ek is nie meer so bang vir “line ashore” nie. Is nou al gewoond daaraan. Archie tru, ek gooi anker, vat die helm oor en die kaptein duik land toe met sy toue en kettings. Hy besnuffel al die klippe en kry ’n stewige een en maak die tou vas en swem terug om die ander tou te kom haal. En siedaar – veilig vas!

Veliig vas

Dis ’n mooi baai en Maja lê rustig in die baai. Later kom ’n ander jag en hou haar geselskap. Hulle gesels seker oor waar hulle al orals heen gevaar en geseil het. En vertel dan, tipies vrou, vir mekaar geheimpies oor die bemanning!

Kızılkuyruk Köyü
Helder water

Dis ’n rustige middag van lees en net wees. Later die aand begin Gus te waai, hou my bietjie wakker en ek en hy gaan lê al twee ’n bietjie later.