23 Mei 2017. Dinsdag.
 |
Joya Del Mar Marina tot Çiftlik |
Dis vanoggend Chrismari se nooiensvaart op Maja. Ons gaan
vir oulaas dorp toe met die dolmus. Ons ry so gereeld op die bussie dat die
bestuurder ons al ken. Na die aankope maak ons gereed vir die vetrek en verlaat Joya Del Mar. Ek
het vreeslik baie van die plek gehou. Ons vaar na Netsel Marina toe waar ons diesel
gaan ingooi en swartwater gaan uitpomp. Op pad na die marina keer die
hawepolisie ons voor. Hulle wil die bootpapiere sien en ook weet wie aan boord
is. O maggies! Till en Andree is nog op ons lys en Chrismari is nog nie op nie.
Ons word aangeraai om dadelik ons sake in orde te kry.
 |
Chrismari se nooiensvaart |
Ons gooi diesel in, pomp swartwater uit en toe gaan anker
ons maar in Marmaris se baai en die kaptein vat vir Dinkie en jaag land toe,
kry die hawemeester gelukkig maklik en kry ons sake in orde. Toe is Chrismari
nie meer ’n onwettige immigrant nie en ons vat die pad na Ciftlik, 14.9 myl.
Soos gewoonlik waai die manne op die kaai soos windmeulens
en oudergewoonte gaan ons na Mehmet se plek toe. Ons maak vir Maja vas en
siedaar. Dis tyd vir “cold beverages”. Chrismari is dadelik op haar pos en
skink.
Die plek is vir my nog net so mooi soos altyd. Die berge is
hoog, die water helder en die pier is baie verbeter, glad nie meer so wankelrig
nie. Ek voel skoon tuis.
 |
Mehmet's Place |
 |
By die kaai |
 |
Çiftlik Baai |
Die aand gaan eet ons uit by die restaurant en
Chrismari bestel ’n groentedis en ek en
Archie eet swaardvis (wat eintlik nie so lekker was nie). Die diens is
uitstekend en hulle koer behoorlik rondom ons om seker te maak dat alles aan
tafel seepglad verloop.
 |
Archie, ek en Chrismari |
 |
Swaardvis |
 |
Groentekasserol |
Ons is om een of ander rede is ons baie moeg en gaan klim in die vere
en Crismari het ’n vreeslike nagmerrie. Haar kar word gesteel en nog ’n paar
rampe tref haar. Sy word wakker en gelukkig is niks van die droom waar nie.
No comments:
Post a Comment