Wednesday, May 3, 2017

Çineviz


01 Mei 2017. Maandag.

Phaselis tot Çineviz

 Vandag is dit nie ’n vêr pad nie, dis net 10.33 myl na Çineviz. Daar hang ’n geheimsinnige mistigheid oor die môre wat die berge skaam laat skuil. Ons trek die anker op, wat behoorlik gebyt het. En weg is ons.

Berg Olympus

 
En wat ’n vreugde was dit nie toe ons speelse dolfyne sien nie! Hulle flankeer nou behoorlik met Maja. Hulle swem en draai op hul rûe by Maja se snoet.  Hulle laggende vriendelike gesigte straal liefde en aanvaarding uit. So asof Maja een van hulle is. Dan swem hulle weg, draai om en kom speel weer. Ons geniet nou behoorlik die skouspel en Till en Andree is in hulle noppies met die vertoning. Dankies Dolfies!

Dolfyne

Ons probeer seil, maar ou Gus laat ons in die steek en die seile word weer laat sak. Ten minste het Till en Andree darem ook ’n bietjie geseil. Ons kom by Cineviz Baai en dis pragtig. Die hoë reus hou wag oor die baai. Natuurlik swem Till, en Andree laat haar twee keer nooi en toe is sy ook in. Die water word as “verfrissend” beskryf. Niemand sê  dis koud nie. Tot Archie het lyf natgemaak!

Andree en Till
 
Gus begin te waai soos hy maar hier doen en Andree is nie lus vir land toe gaan nie. Ek, Archie en Till klim in Dinkie en ons sit voet aan wal. 

Ons stap na die Suid Baai en dit is pragtig. ’n Hond loop al die pad saam met ons. Nadat ons die uitsig ingedrink het, stap ons terug en Maja draai spoggerig, stadig en stadig in die baai rond. Verbeel haar dis haar baai, want sy is die enigste skoonheid in die baai, behalwe natuurlik Andree wat aan boord is en saam draai.

Suid Baai
Ekke by Suid Baai
Maja en die manne
Maja

Ons is maar die res van die tyd op Maja en die aand eet ons manti, sulke Turkse gevulde pasta, saam met tamatie pesto, eenvoudig en heerlik. En toe begin die vonke spat. In alle rigtings. Die manne begin te sing. Sulke liedjies wat in die vorige eeu ontstaan het. Hulle sing en dan drink hulle as ’n beloning omdat hulle so mooi sing. Hulle dink natuurlik hulle sing vreeslik mooi, want dis die een beloning na die ander.

Saloonkonsert

Andree val later ook in en sing saam, soms al drie op hulle eie wysies. Maar dis so mooi. Archie het ’n baie mooi stem. Ek lê op die dek en verlustig my aan die konsert in die saloon. (Ek sing nie, Archie het my mos verbied. Sing te lelik).

Andree haal uit

Die baai word gevul met harmoniese (soms nie) klanke. En dit was omtrent ’n saloonkonsert. Hoe later, hoe kwater. Hoe rooier, hoe mooier… En hulle is mos natuurliefhebbers, hoog in die takke van al daardie tiermelk.

Monday, May 1, 2017

Phaselis. Nooiensvaart.



30 April 2017. Sondag.

Kemer tot Phaselis

Dis vandag die gaste se nooiensvaart van Kemer tot Phaselis, 7.9 myl. Ons Kemer vriende kom groet eers vir ons op Maja en ons kuier vir oulaas saam. En ag sies tog. Annemarie het nog steeds nie ’n dingetjie op haar agterding nie!? Ons sê koebaai. Altyd te gou.

Prov, Annemarie, Brian, Archie, Andree en Till

Toe is dit sukke tyd. Almal kry hulle opdragte en dis tyd om te vertrek. Alles verloop seepglad en weg is ons. Till en Andree glimlag breed. Maja voel gelukkig en tevrede om weer haar mense aan boord te hê.

Nooiensvaart
Agter die helm
Seegrotte
 
Dis redelik mistig en die sig is maar swak. Die mooigeid verander in dofheid. Waar is die kristalhelder blou lug wat hier was tor ons gekom het? Ons vaar verby die grotte en die gulets is ook op pad na erens. Seker ook na Phaselis, hulle gaan altyd soontoe. Ons vaar te heerlik en sommer gou is ons daar. Die eerste anker van die seisoen word sekuur en presies gegooi en vas is ons. Andree gedra haar knap met die maak van die koue drankies om die suksesvolle anker te vier. Ons sit heerlik ontspanne op die dek.

Die Manne
Die Seilende Skones

Dis net Till wat lus is vir die water. En sowaar, hy trek sy swembroek aan en gaan swem. Dapper man! En dan geniet hy ook dáárby die swem. Koel en verfrissend. Ek kyk hom maar net so. Ek is nie lus vir daai koue water nie. Na ’n heerlike middagete voel ons lomerig en ek en Andree gaan lê ’n bietjie skuins.

Ooo! Dis lekker warm!
Nog 'n swemmer

Toe is dit tyd dat ons ons toeriste plig moet nakom en ons al vier klim in Dinkie. Ek en Archie roei en dit voel en lyk soos ’n duisend myl wat ons moet roei om by die wal te kom. Maar ons maak dit en vat die pad na die antieke stad Phaselis.

Die stad is gestig in 690 v.C. deur ’n kolonis van Rhodes en het vinnig gegroei in ’n vooruitstrewende handelstad met drie hawens. Ons kan tot vandag toe die oorblyfsels daarvan sien. Die stad was bekend vir sy vinnige, ligte seilbote,wat bekend gestaan het as Phaseli, maar ongelukkig is daar geen voorbeelde of illustrasies van die vaartuie nie. In 333 v.C. het Alexander die Grote die stad oorgeneem.

Ons loop in die ou dooie stad rond en net in jou verbeelding kan jy vir jou ’n eie weergawe van die vergange werklikheid optower. Ons bewonder al wat ’n oorblyfsel is, van die Hadrian’s Gate, badhuise en teater. Drie denkers sit diep ingedagte en peins oor die lewe terwyl hulle in die niet staar.
Besoekers wat swem en op die strand lê, gee lewe aan die antieke hawens. Oral staan en sit mense rond. Onse mense staan ook na die ou hawe en kyk en glimlag gewillig (soms onwillig) vir die kamera.

Hadrian's Gate en die hoofstraat
Ingang
Badhuis
Middel Hawe
Noord Hawe
Die Denkers
 
Ons geniet die uitstappie geweldig en Till en Andree is heel in hulle skik met die dag van vandag. Dis ’n heerlike windstil laatmiddag en Till durf sowaar weereens die water aan. So het die dag begin met die onbekende wat nou bekend en vol vreugde is. Die son sak oor die gaste se eerste dag op Maja.

Die son sak

Saturday, April 29, 2017

Kemer. Jeep Safari.



29 April 2017. Saterdag

Vandag is die dag wat ek wil luister wat daai pragtige berge van Kemer vir my wil sê, want ons gaan met ’n jeep safari soontoe. Hulle roep my al van verlede jaar af. 

09:45 laai die jeep ons op voor die marina en daar trek ons. Of nee wag, dis bietjie moeilik om op die blerrie ding te kom en met kreune en steune is ons op en daar trek ons. Die bestuurder is ’n vrolike  baldadige man. Baie voorskrywend. Ons moet maak maak soos hy sê. Hy weet waar al die beste plekke is om foto’s te neem en kan sowaar ook met al wat ’n kamera foto’s  neem. Archie is effe geïrriteerd met die man, maar die res van ons geniet hom vreeslik. Ek sit agter hom en verstom my aan sy interessante agterkop.

Ek, Shehan, Till en Andree
Agterkop en Keppie
Sukkel om uit te kom!
Mooi berge
  
In die vêrte  is die sneeubedekte hoë pieke en so elke nou en dan stop ons, sukkel ons uit die jeep en bewonder die uitsigte. Ek probeer luister en hoor wat die berg wil sê, maar puurverniet, hoor niks.

Sneeuberg
Sneeuberg

Ons drink plaaslike tuisgemaakte ayran by ’n restaurant en daarna loop ons saam met ons bestuurder, Shehun, in die dorpie rond. Oral pluk hy kruie waarmee mens tee kan maak en kook. Dis wilde tiemie, salie, origanum, blommetjies en wie weet wat nog. Die lug in die omgewing is swanger met die geur van lente. Miskien wil die Tarsusberge nie vir my iets sê nie, maar my wese vul met aromatiese geure.

Ons bekyk en bewonder 'n groot ou plataanboom wat 2000 jaar oud is en waarvan die omtrek 18 m is. Die reus bied skadu vir 'n Turkse vrou en ons doedies maak ons sit langs haar en donkie Sarel. Die ruïnes waarop ons afkom is 1500 jaar ou is. En die stap in die berge is vir my al te heerlik. 

Reuse boom
Donkie doedies
Ruïnes

Ons val weer in die pad, op, opper,  opste. Tot by ’n restaurant waar ons middagete eet. Ons het forel bestel en Till en Andree het dit omtrent geniet.  Elke happie word sorgvuldig in die holte tussen die lippe gedruk en dan smaaklik na binne gewerk en dan word die resultaat opnuut weer geprys. Dit was ’n heerlike middagete op ’n baie besonderse plek.

Smaaklike ete

Moeder Teresa (Andree) ontferm haar oor ’n hond en steel al die oorskietbrood om die brandsiek, maer dierasie te voed. Sy was tot ou honne se waterbak. (Ek dink sy moet in haar vrye tyd by die SPCA gaan werk). 

Toe is dit die terugtog. Ek weet nie van Till nie, maar Andree knip ’n vinnige uiltjie totdat Shehan haar betrap en as’t ware ewe gemoedelik wakker skree. Ons laaste amptelike stop is die Romeinse brug. Pragtig, met die stroom wat kleurvol onder die brug vloei op pad na Kemer.

Romeinse brug
 
So kom ons Jeep safari tot ’n end en ons almal het dit geniet. Veral Till en Andree.

Kemer – Kapenaars in Kemer.


28 April 2017. Vrydag. 

Ons werk omtrent ons alies af om alles reg te kry vir Till en Andree, ons eerste gaste van die seisoen, se koms. Na die laaste skoonmaak is Maja slaggereed. Hulle kan maar kom. Archie vat Brian se fiets en gaan vind uit hoe laat die seebus kom. Hy moet hoor die seebus is klaar hier en daar is nie genoeg tyd om my te roep nie. En ek hou so vreeslik baie daarvan om die gaste te ontmoet. Ek is nog doenig op Maja en hoor ’n enkele seetoeter en ek weet die seebus is hier. So vinnig soos wat my nuwe knieë my kan dra (en dis nie so vinnig nie), loop ek na die seebus, net betyds om die glimlaggende Kapenaars te sien.

Archie en die glimlaggende Kaapenaaars (en Brian se fiets)

Ons loop al geselsend na die pier waar Maja vasgemeer staan en ewe swierig en “afshowerig” op die gaste wag. En wankelend loop hulle die steil plank en is aan boord vir hulle opwindende seilvakansie. 

Andree kom aan boord

Ons eet ’n ligte middagete en daarna neem Archie die gaste dorp toe. Ek stap nie saam nie. Ek kook sommer gou vir hulle ’n groenboontjie bredie.

Ligte middagete

Dis warm hier in Turkye en hulle kom moeg en warm terug by Maja. Ons het die aand 18:00 ’n afspraak met Prov, Brian en Annemarie om kunefe te gaan eet. Dit word spesiaal deur ’n plaaslike Turkse man gemaak en is wyd in Kemer bekend, want dit is blykbaar liplekker. Dis ’n nagereg ding met engel-haar-noedels (baie fyn noedels), met kaas, heuning en pistasioneute. Wel, ons is beïndruk, want dit is liplekker. Ons smul behoorlik aan die soetigheid om ’n gesellige tafel vol vrolike mense. Soveel Kemer-vreugde op een dag!
Tafel vol vrolike mense
Andree
Brian
Liplekker Kunefe

Ons stap terug na Maja om ons boontjiebredie te eet en ek moet sê, dit was net so lekker. Hierdie Turkse lamsvleis is darem topgehalte.

Moeg en tevrede gaan slaap die Kapenaars in hulle eenvoudige kajuit, op ’n selbootjie in ’n marina, in die pragtige Kemer. Salig.