28 April 2017. Vrydag.
Ons werk omtrent ons alies af om alles
reg te kry vir Till en Andree, ons eerste gaste van die seisoen, se koms. Na
die laaste skoonmaak is Maja slaggereed. Hulle kan maar kom. Archie vat Brian
se fiets en gaan vind uit hoe laat die seebus kom. Hy moet hoor die seebus is
klaar hier en daar is nie genoeg tyd om my te roep nie. En ek hou so vreeslik baie
daarvan om die gaste te ontmoet. Ek is nog doenig op Maja en hoor ’n enkele
seetoeter en ek weet die seebus is hier. So vinnig soos wat my nuwe knieë my kan
dra (en dis nie so vinnig nie), loop ek na die seebus, net betyds om die
glimlaggende Kapenaars te sien.
Archie en die glimlaggende Kaapenaaars (en Brian se fiets) |
Ons loop al geselsend na die pier waar Maja vasgemeer staan en ewe swierig en “afshowerig” op die gaste wag. En wankelend loop hulle die steil plank en is aan boord vir hulle opwindende seilvakansie.
Andree kom aan boord |
Ons eet ’n ligte middagete en daarna neem Archie die gaste dorp toe. Ek stap nie saam nie. Ek kook sommer gou vir hulle ’n groenboontjie bredie.
Ligte middagete |
Dis warm hier in Turkye en hulle kom moeg en warm terug by Maja. Ons het die aand 18:00 ’n afspraak met Prov, Brian en Annemarie om kunefe te gaan eet. Dit word spesiaal deur ’n plaaslike Turkse man gemaak en is wyd in Kemer bekend, want dit is blykbaar liplekker. Dis ’n nagereg ding met engel-haar-noedels (baie fyn noedels), met kaas, heuning en pistasioneute. Wel, ons is beïndruk, want dit is liplekker. Ons smul behoorlik aan die soetigheid om ’n gesellige tafel vol vrolike mense. Soveel Kemer-vreugde op een dag!
Andree |
Brian |
Liplekker Kunefe |
Ons stap terug na Maja om ons boontjiebredie te eet en ek moet sê, dit was net so lekker. Hierdie Turkse lamsvleis is darem topgehalte.
No comments:
Post a Comment