Wednesday, September 14, 2016

Finike.



9 September 2016.

Gokkaya tot Finike
 
Vandag is dit Finike Marina, 15.7 myl. Dis ’n groot dorp en ons het proviand nodig. Ons vaar en vaar. Gus waai liggies en seil is nie in die vooruitsig nie.

By die marina moet ons eers diesel ingooi en daarna by ’n ander kaai swartwater laat uitpomp. Die marina manne is baie professioneel en hulle doen alles om dit vir mens maklik te maak om vas te meer. 

Maak vol
Finike Marina
 
Dis snikheet hier in die marina. As jy vinnig in Maja beweeg, dan tap die sweet jou af. Al beweeg jy stadig, tap die sweet jou af. Ons vat die warm pad dorp toe en koop die nodige kos en gaan kyk waar Gumnuts, Martin en Shiree se jag, hoog en droog op die stelte staan.

Gumnuts "on the hard"

Ons dink terug aan die heerlike tye wat ons hierdie jaar saam met hulle in Ermioni en Portocheli beleef het. Die kuier op die boot, die uiteet en die seil. Ons klink vanaand ’n glasie op julle twee.

Shiree en Martin in Ermioni
Kuier saam in Portocheli
 
Die seelewe is in oorvloed hier in die marina. Skole visse van verskillende groottes swem hier rond. Skillie swem ook ewe rustig in die water. Martin het selfs dolfyne in die marina gesien toe hulle hier was.

Ek kook vanaand lam en al die brakke van Turffontein sit voor Maja om te deel in die aandete.

Gaste vir aandete
 
Nog ’n dag snel ten einde in die 2016 seilseisoen en die einde kom nou vinnig nader.

Gökkaya Limanı.



9 September 2016. Vrydag.

Karaloz tot Gökkaya
 
Die lug verander van donker na goud-pienk-rooi. Stadig ontwaak die baai. Vissies kom loer wat bo die water aangaan, voëls vlieg rond en ons maak gereed om te vertrek na Gökkaya Limanı, 3.8 myl.

Die baai ontwaak
Groot grot
 
Sommer gou is ons daar en Larry en Lee is ook in die baai geanker. Ons gooi anker op dieselfde plek as verlede jaar. Dis heerlik rustig in die baai, maar net warm. Hierdie Turkye koel net nie hierdie jaar af nie. Dan is swem maar al genade om af te koel.

Ons vat vir Dinkie en roei na Larry en Lee toe. Ons gesels en Lee maak tee. Archie verduidelik vir haar Google Earth roetes en ek en Larry sit en gesels. Ons groet later en is warm geroei en swem is die antwoord.

Lee en Archie
Larry
 
Dit is net ’n rustige dag op anker in die pragtige Kekova Roads. Ons seildae word min. Ons is besig om stadig maar seker ons pad na Kemer te vind, waar Maja hierdie jaar gaan oorwinter.

Gökkaya Baai

Friday, September 9, 2016

Karaloz.



8 September 2016. Donderdag.

Uçagiz tot Karaloz

Archie gaan gou die oggend voor ons vertrek dorp toe. Hy roei met Dinkie soontoe, maar toe hy terugkom, is hy so bietjie haastiger en die roeiery is te stadig na sy smaak. Toe gee hy vet en die motortjie dreun.


Roei
Gee vet

Ek groet my sarkofae. Ons gaan vandag na ’n nuwe plek waar ons nog nie tevore was nie. Die ander aand toe ons so lekker geëet het saam met ons nuwe vriende, het die ander Engelse van die tafel langsaan gesê hoe mooi is Karaloz baai, by Kekova Adasi. Dis aan die suid-westelike kant van Kekova Roads en net 6 myl.

Ons vaar rustig en stadig daarheen. Die boek sê die ingang is nie baie goed sigbaar nie en jy moet uitkyk vir ’n grot. Ons kyk toe uit vir ’n grot en sien dit en siedaar! Daar is die ingang. Daar is twee inhamme waar jy kan anker en dan met ’n lang tou aan die rotse op die land vasmaak. 

Ons vaar
Grot by ingang

In die een inham is daar reeds ’n jag en ons gaan na die ander een. Daar is net plek vir een jag om daar te anker en die geluk is aan ons kant. Ons anker en Rambo swem land toe met al sy kettings en toue. Hy het die kuns om altyd die beste rotse en gate uit te snuffel om die toue aan vas te maak. En vas is ons.

Rambo
Karaloz

Daar kom ’n hele paar gulets en ekskursie bote ingevaar, maar hulle maak daar vêr vas en pla ons nie. Hulle almal ry later, ook die seiljag en ons is stoksielalleen by Kekova Adasi. Daar is geen mens naby nie. Die enigste bewys van nog lewe op die ganse aarde, is twee bokke wat daar rondloop. 

Alleen op anker

Dis doodstil. Ons hoor net hoe die water saggies teen die rotse klots. Die berge rondom ons vervaag tot dowwe donker reuse wat oor ons waak. ’n Sekelmaan hang speels in die lug en verdwyn onnutsig agter die berg. Dis net ons, die uitspansel en die donker.

Dit betower my en ek word intens bewus van die natuur. Ons word en is natuur.

Wednesday, September 7, 2016

Üçağiz Limanı.



6 en 7 September 2016. Dinsdag en Woensdag.

Pölemos bükü tot Üçağiz Limanı

Ons kuier nog steeds in Kekova Roads. Vandag gaan ons na Üçağiz Limanı vir twee dae. Dis glad nie vêr nie, net 3.4 myl. Dis nie eers vêr genoeg om te batterye behoorlik te laai nie.

Verlede jaar was in die westelike baai, maar die jaar gaan ons in die oostelike baai anker. Ons gooi in lekker vlak water anker en ons huis is waar die anker val.

Üçağiz Limanı
Sarkofae uitsig vanaf Maja

Ons besoek weer vir Kale Köy, maar die jaar met Dinkie. Die kasteel lê romanties bo-op die rotsgebergte. So asof ’n ridder op ’n wit perd enige oomblik hier aangery gaan kom. Ons stap boontoe.

Kale Köy en Simena Kasteel
Kale Köy baai

Daar is baie sarkofae rondom die kasteel. Die landskap lê rustig saam met al die dooies in hul klip doodskiste in die loomwarm dag. Daar is ’n vreedsaamheid hier wat my wil vashou, ek wil nog bietjie hier tussen van ouds se mense rondloop. Hulle lewens is verby en hul name vergete, maar ons is hier in die nou en hede.

Sarkofae en kasteel
My sarkofaag
Kekova Roads

Die dorpie is ’n deurmekaar mengsel van antieke klippe, Middeleeuse huise en lewende hawe wat veilig in ’n rots tombe aangehou word. Die res van die dorp is mengelmoes restaurante, stoeltjies en tafels is oral. Vreeslik deurmekaar.

Deurmekaar

Hier is ook ’n antieke onderwater stad en die fondasies is nog duidelik sigbaar. Van die sarkofae is ook deels onder water.

Onderwater sarkofaag

Hier is ’n ouwêreldse atmosfeer in Kale Köy wat met my hart praat. En net sarkofae waar jy kyk!