Saturday, September 3, 2016

Yesilköy Limanı, Kalkan.



31 Augustus 2016. Woensdag.

Gemiler tot Yesilköy Limanı, Kalkan
 
Ons is vroeg op. Douvoordag. Dis nog donker. Die kapteinskoffie help om my wakker te kry, want ons wil voor ligdag in die pad val na Yesilköy Limanı, Kalkan, 29 myl.

Archie maak die toue aan die land los, ons trek anker op en weg is ons. Kalkan is die naaste veilige hawe na Fethiye. Jy vaar verby die sewe kape, waar die Meltemi handuit kan ruk. Dit veroorsaak dan ’n groot deurmekaar see. As jy vroeg begin vaar, is jy voor die Meltemi daar.

Die see dein, maar die wind is lig van voor. Dis snaakse see hierdie. Wind van voor, maar deinings van skuins agter. Ek kan dink hoe sal die see jou rondgooi as die wind strek waai en die waters opklits. 

Seegrot
 
Ons vat die kape een vir een aan. ’n Kaap is ’n berg of ’n stuk land wat spits in die see inloop. Elkeen het ’n naam. Die Turkse woord vir kaap, is Burun.

1 - Kötü Burun.                                         
2 – Sancak Burun.
3 – Inkaklık Burun.
4 – Kalkamak Burun.
5 – Yassıca Burun.
6 – Kılıç Burun.
7 – Ince Burun.

Kaap 1, 2 en 3
Kaap 3, 4 en 5
Kaap 5, 6 en 7
 
Na die sewe kape is dit weer die lang sand strande met sandduine wat vêr in die land en see strek. Onder die sand is die antieke stad van Patara begrawe. 

En net daarna, is dit Kalkan. Na ’n lang pad is ons daar en gaan na die groot baai van Yesilköy Limanı. 

Kalkan
 
Ons gooi anker en maak seker dit byt, want die houkrag is nie oral so goed nie. En ons is vas. Die gulets kom en gaan in die baai. Hulle stop en braai en baljaar in die water. En dan druk die kaptein die toeter en dan is almal weer in die gulet en vaar verder.

Daar is ’n klomp gulets wat vanaand hier oornag. Hulle is almal aan die land vasgemaak. Net ons swaai vry op ons anker rond.


Wednesday, August 31, 2016

Gemiler Adası.



30 Augustus 2016. Dinsdag.

Fethiye tot Gemiler Adası

Soos ek gesê het, Fethiye is pragtig – die môrestond het goud in die mond.

Môrestond

Ons trek anker op, maar hy het behoorlik gebyt. Archie sukkel om dit op te trek. Dit het ’n lekker klomp modder op, Archie haal dit af en weg is ons na Germiler, 14.9 myl.

Ons sien deesdae elke dag vlieg visse. Hulle kan vêr en vinnig vlieg. Hulle trek net bokant die water deur die lug en duik dan terug in die water.

 Ons vaar want die wind is skaars. Van seil is daar geen sprake nie. Om die hoek is Gemiler. Hier gooi jy in diep water (20 m) anker en maak dan jou lang landtoue aan die voete van die antieke stad van St Nicholas vas. Verlede jaar was Dirk en Leon saam met ons hier en ons het saam met Sandi en Niel hier gekuier. Dis ook hier waar ek verlede jaar so ’n aaklige anker ondervinding gehad het en toe geweier het om weer te gooi en ons is stert tussen die bene Fethiye toe, waar ek sewe keer moes anker gooi voordat hy gebyt het.

Landtou
"Alas, poor Yorick! I knew him …"
Maja vasgemaak

Gemiler is ’n besige plek. Hier is oormaat van lewe. Bote vol mense kom besoek die antieke stad van St Nicholas. Swaaiende danslywe wieg op die ekskursie bote op die maat van die klipharde doef-doef musiek.

Watersport is baie populêr. Vinnige motorbote met harde musiek trek ervarings junkies op allerhande plastiese stoele en wurms rond. ’n Boot wat roomys verkoop, ’n ander een wat pannekoek verkoop vaar oral rond. Maar dit is vir ons lekker hier. Die water is pragtig en heerlik en ons swem vir die vale. Dis nog baie warm hier in Turkye.

Ontspanne

Saam met die sonlig verdwyn die geraasmakers en ’n salige stilte daal oor die eiland. Nou kan St Nicholas weer rus vir sy siel vind en ek vir myne.

Sonsondergang

Fethiye.



29 Augustus 2016. Maandag.

Boynüs Bükü tot Fethiye

Boynüs Bükü is pragtig in die vroeë môrelig. Dis asof die baai ons wil vergoed vir die duur slegte kos wat ons die vorige aand moes eet, wil sê hy is jammer.

Ons vertrek na Fethiye, 13 myl. Ek het nat kol in my mond en ’n naar kol op my maag. Dis seker daai vrot duur garnale wat ek geëet het. Gelukkig is dit net ’n goorigheid en nie opgooi se dinge nie.

Ons verlaat die Göcek gebied met die besef dat dit darem regtig pragtig hier is. Die lug is swaar van die fog en dis vreeslik deinserig. Die berge is onduidelik.

Skopea Limanı (Göcek Baai)
Oggendskoot

Naby Fethiye is ’n groot Deniz Market boot van Migros. Wat ’n uitstekende konsep. Dit is ’n supermark op die see wat van plek tot plek vaar en dan kan jy by hom koop. Ons het dit ook in die Göcek gebied opgemerk.

Migros se "Deniz Market"

Sommer gou is ons by Fethiye en soek ankerplek. Dis hier waar ek verlede jaar omtrent sewe keer anker gegooi het voordat hy gebyt het. Ek gooi en die anker sleep. Gooi weer, sleep weer. ’n Matroos vloek in die vêrte. Die derde keer byt daai anker asof hy betaal word. En vas is ons.

Ons is eintlik hier om ons voorrade aan te vul en ons gaan dorp toe. Ons koop lamsvleis en natuurlik groenboontjies. En hope vrugte. Tevrede met al ons inkopies gaan ons terug na Maja en alles kry hulle plek. 

Fethiye arkade

Twee dolfyne swem tussen die jagte op anker rond. Hulle is seker besig met middagete, want ons sien net die vinne. Ou Skillie swem ook rustig hier rond.

Die aand is ek nie lus vir kos maak nie en ons eet sommer salm, avokado, feta en slaai. Heerlik lig, want onthou, ek is mos goor.

Aandete






Die volgende môre is Fethiye pragtig!

Fethiye ankerplek

Monday, August 29, 2016

Boynüs Bükü.



28 Augustus 2016. Sondag.

Tomb Bay tot Boynüs Bükü

Ek is opgewonde. Ons gaan vandag na Boynüs Bükü, 3.7 myl. Ons was verlede jaar saam met Dirk en Leon daar en ons het heerlik uitgeëet. En raai wat? Ons moet water kry, so ons gaan na die restaurant kaai toe en dan is ons verplig om uit te eet. Ek slyp al my tande.

Ons is sommer gou-gou daar, want dit is net ’n hanetree vêrder. Die man van die restaurant waai en swaai met die arms en ons kry ’n plek. Archie tru, ek gryp die snoettou en Maja is vasgemeer.

Restaurant
Weerkaatsings

By sekere körfezi's is daar veronderstel om bote te wees wat jou swart water kom uitpomp. Archie het hulle al keer op keer gekontak, maar sonder sukses. Wonder bo wonder daag die Goçek uitpompboot op die afgespreekte tyd by Maja op en hulle pomp ons tenk in 'n japtrap leeg. Baie goeie diens, dankie!

Uitstekende diens

Hier is storte en ek gaan ’n lang stort neem. Met baie water. Ai, dit gaan lekker wees.

Ons maak klaar en ek trek sommer ’n rok vir die geleentheid aan. Die tafeltjies is langs die see gedek onder die groot bome. Ons kry die spyskaart. Die kos word bedien met vier gratis mezes. Dis blerrie duur. Ek bestel garnale en Archie ’n “Mix grill”, teen 65 TL (R300.00) per bord. Alles op die spyskaart kos of 60 TL of 65 TL.

Aangetrek
 
Die mezes is opgekookte smaaklose broccoli, ’n paar stukkies gaar beet, tzatziki, gaar soetrissies en ’n afgeskeepte slaai. Geen moeite is met hierdie mezes gedoen nie! Ons eet maar, want dis duur kos hierdie.

My hoofmaal kom. Daar lê ses dooie garnale op my bord (dis R50.00 per garnaal) en rys. Dis glad nie lekker nie en ek sê vir Archie ek sal nie verbaas wees as die goed my gaan siek maak nie. Ek eet maar. (Ek moes dit eintlik teruggestuur het.)

Archie se kos is bietjie beter, maar glad nie verlede jaar se standaard nie. Die hele ete is onsmaaklik en ons word ontsettend uitgebuit. Toe ons die rekening kry, sien ons dat die elektrisiteit 25 TL ekstra is. Archie roep die eienaar en doen navraag daaroor en hy sê dis maar soos dit is. Archie beveel aan dat hulle ’n bord opsit waarop hulle sê die krag is ekstra. Ons het nie eintlik krag nodig gehad nie, maar ons het dit ingeprop, want ons het gedink dit is gratis. Soos by alle ander restaurant kaaie.

Smaaklose ete
 
Hy gee toe vir ons 5 TL afslag en toe ek so in die donker na ete op Maja se dek lê, kom die man met ’n flits en sit ons krag af. Die vermetelheid!

Die plek sien ons nooit weer nie en ek sal almal waarsku teen hulle. Wat ’n teleurstellende aand. Ten minste was die volgende oggend dramaties mooi!

"The morning after"