31 Augustus 2016. Woensdag.
![]() |
Gemiler tot Yesilköy Limanı, Kalkan |
Ons is vroeg op. Douvoordag. Dis nog donker. Die kapteinskoffie help om my wakker te kry, want ons wil voor ligdag in die pad val na Yesilköy Limanı, Kalkan, 29 myl.
Archie maak die toue aan die land
los, ons trek anker op en weg is ons. Kalkan is die naaste veilige hawe na
Fethiye. Jy vaar verby die sewe kape, waar die Meltemi handuit kan ruk. Dit
veroorsaak dan ’n groot deurmekaar see. As jy vroeg begin vaar, is jy voor
die Meltemi daar.
Die see dein, maar die wind is lig
van voor. Dis snaakse see hierdie. Wind van voor, maar deinings van skuins
agter. Ek kan dink hoe sal die see jou rondgooi as die wind strek waai en die
waters opklits.
Seegrot |
Ons vat die kape een vir een aan. ’n Kaap is ’n berg of ’n stuk land wat spits in die see inloop. Elkeen het ’n naam. Die Turkse woord vir kaap, is Burun.
1 - Kötü Burun.
2 – Sancak Burun.
3 – Inkaklık
Burun.
4 – Kalkamak Burun.
5 – Yassıca Burun.
6 – Kılıç Burun.
7 – Ince Burun.
Kaap 1, 2 en 3 |
Kaap 3, 4 en 5 |
Kaap 5, 6 en 7 |
Na die sewe kape is dit weer die lang sand strande met sandduine wat vêr in die land en see strek. Onder die sand is die antieke stad van Patara begrawe.
En net daarna, is dit Kalkan. Na ’n lang pad is ons daar en gaan na die groot baai van Yesilköy Limanı.
Kalkan |
Ons gooi anker en maak seker dit byt, want die houkrag is nie oral so goed nie. En ons is vas. Die gulets kom en gaan in die baai. Hulle stop en braai en baljaar in die water. En dan druk die kaptein die toeter en dan is almal weer in die gulet en vaar verder.
Daar is ’n klomp gulets wat vanaand
hier oornag. Hulle is almal aan die land vasgemaak. Net ons swaai vry op ons
anker rond.
No comments:
Post a Comment