Wednesday, August 31, 2016

Gemiler Adası.



30 Augustus 2016. Dinsdag.

Fethiye tot Gemiler Adası

Soos ek gesê het, Fethiye is pragtig – die môrestond het goud in die mond.

Môrestond

Ons trek anker op, maar hy het behoorlik gebyt. Archie sukkel om dit op te trek. Dit het ’n lekker klomp modder op, Archie haal dit af en weg is ons na Germiler, 14.9 myl.

Ons sien deesdae elke dag vlieg visse. Hulle kan vêr en vinnig vlieg. Hulle trek net bokant die water deur die lug en duik dan terug in die water.

 Ons vaar want die wind is skaars. Van seil is daar geen sprake nie. Om die hoek is Gemiler. Hier gooi jy in diep water (20 m) anker en maak dan jou lang landtoue aan die voete van die antieke stad van St Nicholas vas. Verlede jaar was Dirk en Leon saam met ons hier en ons het saam met Sandi en Niel hier gekuier. Dis ook hier waar ek verlede jaar so ’n aaklige anker ondervinding gehad het en toe geweier het om weer te gooi en ons is stert tussen die bene Fethiye toe, waar ek sewe keer moes anker gooi voordat hy gebyt het.

Landtou
"Alas, poor Yorick! I knew him …"
Maja vasgemaak

Gemiler is ’n besige plek. Hier is oormaat van lewe. Bote vol mense kom besoek die antieke stad van St Nicholas. Swaaiende danslywe wieg op die ekskursie bote op die maat van die klipharde doef-doef musiek.

Watersport is baie populêr. Vinnige motorbote met harde musiek trek ervarings junkies op allerhande plastiese stoele en wurms rond. ’n Boot wat roomys verkoop, ’n ander een wat pannekoek verkoop vaar oral rond. Maar dit is vir ons lekker hier. Die water is pragtig en heerlik en ons swem vir die vale. Dis nog baie warm hier in Turkye.

Ontspanne

Saam met die sonlig verdwyn die geraasmakers en ’n salige stilte daal oor die eiland. Nou kan St Nicholas weer rus vir sy siel vind en ek vir myne.

Sonsondergang

No comments:

Post a Comment