Monday, August 29, 2016

Kısılkuyruk Köyü.



26 Augustus 2016. Vrydag.

Baba Adası tot Kısılkuyruk

Ek is dankbaar om van die gewieg af weg te kom. Dit het darem al minder en minder gewieg soos die nag gevorder het.



Vandag gaan ons na ’n nuwe plek, Kısılkuyruk (“Rooi Stert”), 36°37.050 N, 28°51.953 O, 13.5 myl. Gus is nêrens te sien nie en ons vaar maar net.



Dis ’n pragtige baai en ons gooi anker en Archie duik met sy tradisionele sierlike boog in die water om die tou land toe te vat. Hy vroetel aan al wat ’n rots is om die beste een te kry om Maja aan vas te maak. Hy vind plekke wat aan sy standaarde voldoen en siedaar! En ons is stewig aan die land vas met twee toue.

Rotsvas

Archie gaan kyk weer vir die anker en sowaar, ek jok nie, langs ons anker sit Skillie se tweeling boetie! Hier is heelwat skilpaaie in die waters. En ons sien gereeld vlieg visse.


Daar is ’n vissersboot in die baai en ons sien ons bure in die gullet gaan koop vis. Archie sê hy is lus vir vis en ons roei soontoe. Die buurman van die gullet spring in sy dinghie en kom aangejaag. Hy is ’n Turk en hy kom verduidelik ons van al die vissoorte, want die visserman kan nie Engels praat nie. Ons koop ’n peperduur vis. Vanaand eet ons vis!

Vissersboot

Ons gaan stap. Van die baai loop ’n paadjie na die antieke Lydae. Daar is oorblyfsels van die agora, 'n kolossale standbeeld en ander geboue. Die twee reuse mausoleums trek die aandag, want dit is nog in ’n redelike goeie toestand.


Kısılkuyruk Baai
Mausoleum (Praalgraf van 'n hooggeplaaste persoon)

Praalgraf
Murasie

Met tye stap ons nog op die oorspronklike paadjie wat hulle gebou het. Ons stap tussen die bome deur en die koelte wat die groen vriende aan ons verskaf, is salig. Onder lê die blouste blou see. Ai, dis so lekker om hier te stap.

Oorspronklike pad

Nog bote kom soek ’n tuiste in die baai en later is ons vol. Mense lag en gesels en swem. Dis lekker om weer mense om my te hê. Die afgelope tyd was dit net afgesonderde ankers. Dis vir my eensaam so sonder ander mense. Ek hoef nie eers met hulle te gesels nie, hulle moet net daar wees.

Dis lekker hier








Baba Adası.




25 Augustus 2016. Woensdag.

Ekinçik tot Baba Adası
 
Dis een van daai dae. Van net anker optrek en vaar. Na ’n plek waar ons al twee keer vantevore was. Dis die probleem van Turkye, daar is nie soveel nuwe plekke nie.

Ons gaan na Baba Adasi, 36°41.781 N, 28°41.859 O, 12.5 myl. Die optimistiese kaptein probeer een keer seil span, maar ou Gus verdwyn en ons trek maar weer die seile in. En ons vaar verder.

Die ankerplek is agter ’n eiland en ek gooi anker en Archie tru. Die anker byt en toe Archie later die snorkel vat om na die anker te gaan kyk, sien hy ek het die anker amper bo-op Skillie gegooi. Hy sit so ewe langs die anker en vreet. Hy wonder seker wie is die effe blink sexy skilpad wat hier langs hom sit. Skillie het daar en dan verlief geraak op ons anker.

Baba Adası
Baba Adası ankerplek
Antieke vuurtoring
 
Die see wemel van mense wat watersport beoefen. Daar is klein seil dinghies, bote wat valskerms trek, mense wat met vlieërs vlieg en bote wat wurms trek. En so tussen die geroesemoes van mense swem Skillie en sy vrinne rond. Jy sien net so nou en dan steek hulle die kop bo die water uit. Te dierbaar. As hulle sien iets pyl op hulle af, verdwyn hulle net onder die water.

Skuinslê
Seewurm
 
Ag en die hele tyd wieg ons in Maja, want die see rol met ligte deinings in. Wieg en wieg en wieg.


 

Thursday, August 25, 2016

Ekinçik.


24 Augustus 2016. Dinsdag.

Marmaris tot Ekinçik


My jongste seun, Gerrit, verjaar vandag. Baie geluk hoor!

En weg is ons na Ekinçik, 36°49.782 N, 28°33.106 O, 20.1 myl. Marmaris is stil en stemmig vanoggend. Gus lê en die see is stil. Ons vaar uit die baai.

Die Turkse kuslyn is baie mooi. Ek sien dit elke dag as ons vaar. Dis groots en mens kan dit nie op film vaslê nie. Ons vaar en vaar en vaar.

Rotse
 
Ons sien ’n reuse ou skilpad en net as ek ’n foto wil neem, duik hy ewe aspris onder die water in en verdwyn vir ’n wyle. Dan steek hy sy groot kop weer by ’n ander plek bokant die water uit. Te dierbaar! Hier is ook sulke seeplante wat in die see ronddryf. Dis seker seelelies. Ons vaar en vaar en vaar.

Waar is Skillie?
Seelelie
 
Ekinçik is die plek waar jy jou seiljag los as jy die Dalyanrivier wil gaan doen. Dan huur jy ’n rivierboot en die kaptein neem jou op die ekskursie. Ons het dit verlede jaar saam met Dirk en Leon gedoen. Dit was baie spesiaal en nogal duur. Hierdie jaar gaan ons net hier anker.

Naby Ekinçik
Ekinçik Baai
 
Die baai is oop vir die suide en ek maak my klaar vir ’n wiegelied. Al waai die wind nie sterk hier nie, hy waai in die see en ons kry die deinings. Dit is maar stil hier. Verlede jaar was hier ’n klomp bote wat die volgende dag Dalyan wou doen. Ons is nou net twee bote op anker en geen bote by die kaai nie.

Buitelandse toeriste is nie meer so volop hier in Turkye soos verlede jaar nie. Selfs Marmaris was dolleeg.

Een van die restaurante het ’n sanger wat daar sing en ons sit al wiegend op Maja en luister. Van die liedjies is baie mooi.

Dit word deesdae vroeër donker. Die slaap ontwyk my vanaand. Maja se gewieg en die harde musiek beroof my van droomland.