26 Augustus 2016. Vrydag.
![]() |
Baba Adası tot Kısılkuyruk |
Ek is dankbaar om van die gewieg af
weg te kom. Dit het darem al minder en minder gewieg soos die nag gevorder het.
Vandag gaan ons na ’n nuwe plek,
Kısılkuyruk (“Rooi
Stert”), 36°37.050 N, 28°51.953 O, 13.5 myl. Gus
is nêrens te sien nie en ons vaar maar net.
Dis ’n pragtige baai
en ons gooi anker en Archie duik met sy tradisionele sierlike boog in die water
om die tou land toe te vat. Hy vroetel aan al wat ’n rots is om die beste een
te kry om Maja aan vas te maak. Hy vind plekke wat aan sy standaarde voldoen en
siedaar! En ons is stewig aan die land vas met twee toue.
Rotsvas |
Archie gaan kyk weer vir die anker en sowaar, ek jok nie, langs ons anker sit Skillie se tweeling boetie! Hier is heelwat skilpaaie in die waters. En ons sien gereeld vlieg visse.
Daar is ’n
vissersboot in die baai en ons sien ons bure in die gullet gaan koop vis.
Archie sê hy is lus vir vis en ons roei soontoe. Die buurman van die gullet
spring in sy dinghie en kom aangejaag. Hy is ’n Turk en hy kom verduidelik ons
van al die vissoorte, want die visserman kan nie Engels praat nie. Ons koop ’n
peperduur vis. Vanaand eet ons vis!
Vissersboot |
Ons gaan stap. Van die baai loop ’n paadjie na die antieke Lydae. Daar is oorblyfsels van die agora, 'n kolossale standbeeld en ander geboue. Die twee reuse mausoleums trek die aandag, want dit is nog in ’n redelike goeie toestand.
Kısılkuyruk Baai |
Mausoleum (Praalgraf van 'n hooggeplaaste persoon) |
Praalgraf |
Murasie |
Met tye stap ons nog
op die oorspronklike paadjie wat hulle gebou het. Ons stap tussen die bome deur
en die koelte wat die groen vriende aan ons verskaf, is salig. Onder lê die
blouste blou see. Ai, dis so lekker om hier te stap.
Oorspronklike pad |
Nog bote kom soek ’n tuiste in die baai en later is ons vol. Mense lag en gesels en swem. Dis lekker om weer mense om my te hê. Die afgelope tyd was dit net afgesonderde ankers. Dis vir my eensaam so sonder ander mense. Ek hoef nie eers met hulle te gesels nie, hulle moet net daar wees.
Dis lekker hier |
No comments:
Post a Comment