Thursday, August 11, 2016

Alakisla Bükü.



9 Augustus 2016. Dinsdag.

Bodrum tot Alakisla Bükü
 
Wat ’n snaakse naam! En dis waarheen ons vandag gaan, Alakisla Buku, 36°59.877 N, 27°38.958 O, 14.5 myl. Na al die sterk winde wat ons in Griekeland gehad het, is hierdie windstilte  vir my heerlik. Gus is net ’n mak briesie.

Die boek sê mens gooi moeilik anker, want dit is harde sand. Ons gooi toe eintlik maklik anker en hy byt dat dit bars. Dis baie warm hier in Turkye en mens moet gereeld in die see spring om af te koel.

Ons roei land toe in Dinkie en stap ’n deel van ’n staproete. Hier moes ’n dorp gewees het, want oral is ou murasies. Daar is ook ou cisterns (watertenks) waarmee hulle afloop water gestoor het. 

Water opgaartenk
Alakisla Baai
Stap in die bos

Hier is 'n lekker strand waar die plaaslike inwoners kom swem en piekniek hou. Die boere van die omgewing kom sommer hier aangery in trekkers om die dag by die see te geniet.

Boere

Dis pragtig in die baai en ons geniet ons ankerplek terdeë.


Wednesday, August 10, 2016

Bodrum.



8 Augustus 2016. Maandag.

Mersinçik tot Bodrum
 
Bodrum, besige Bodrum. Ons gaan vandag soontoe - 37°01.890 N, 27°26.027 O, 18.7 myl. Nie omdat ons wil nie, maar omdat ons moet. Dis wet hier in Turkye dat jou boot ’n swartwatertenk moet hê. Dis nou waarin die ooo en aaa van die toilet hul gaan vestig. Dan moet jy dit by ’n pompstasie laat uitpomp, anders kan jy ’n groot boete kry. Bodrum het so ’n pompstasie en weg is ons wetsgehoorsame seilers.

Naby Bodrum is die Kuswag polisie se boot. Daar kom ’n groot dinghie aangejaag en ’n ry onwettige vlugtelinge uit Sirië staan in ’n ry op die polisieboot en klim in die dinghie. Hulle kyk vir ons en ons kyk vir hulle. Hulle hare is deurmekaar en die kindertjies lyk onversorg. Die groot dinghie ry met hulle Bodrum toe na wie weet waar hulle ook al gaan. Dis nogal ontstellend om vars vlugtelinge met jou eie oë te sien.

Bodrum se kasteel
 
Ons kom by die marina, maak alongside vas en die gepomp begin. Dis nogal ’n grillerige gedagte. Leeg is die tenk en ons gaan anker in die baai. Die boek sê dit kan baie lawaaierig hier wees. Disko’s in die omgewing. 

Ons anker in die baai
Bodrum in agtergrond
 
Ons gaan dorp toe, want iets is met ons internet verkeerd. Twee GB het net twee dae gehou (Turk Telekom.) Ons gaan ’n nuwe kontrak by Turkcell koop, want verlede jaar was dit uitstekend. En daar werk die internet weer.

By dieselfde visstalletjie waar ons en Gerrie en Ansu twee jaar gelede garnale gekoop het, swig ons voor die versoeking en koop weer garnale. Ek gaan dit vanaand vir ons gaarmaak. Ons koop ook rys, wat toe eintlik noedelrys is.

Ons eet die aand heerlik aan die garnale onder Bodrum se verligte kasteel.

Ons eet garnale …
… onder die verligte kasteel


Mersinçik



7 Augustus 2016. Sondag.

Knidos tot Mersinçik

Turkye ontwaak in ’n mistige wolkkombers wat alles bevog tot papnat . Alles, binne en buite Maja, is nat en klam en taai. Ons verlaat die oorvol baai en gaan na Mersinçik, 36°45.447 N, 27°28.433 O, 10.6 myl. By Knidos se hoek waai Gus, maar net om die draai, verstil hy tot net ’n briesie. Ons seil 0h40min.

Oggendskoot - Mistige wolkkombers

Vandag is weer sukke tyd. Dis een van daai ankerplekke waar jy ’n ’n tou land toe vat. Dis weer “long line ashore” tyd. Ek hou mos nie eintlik daarvan nie. Ons kry ons posisie, ek gooi anker, Archie tru tot naby die land. Dan gaan ek helm toe en Archie duik met ’n sierlike boog in die water en swem vir die vale land toe met die tou. Die tou maak vir Maja aan die land vas.


Rambo

Gus waai nie en ons doen dit sonder sukkel. En vas is ons. Dis ’n baie mooi baai waar jy net heeltyd wil swem. Oral swem mense in die water. 

Glimlag tevrede

Ek en Archie gaan land toe. Daar is net steekbosse en dis haas onbegaanbaar. Archie baan ’n weg boontoe en neem mooi foto’s van die baai.

Mersinçik Baai
Pragtige Turkye

Een ding van Turkye, dis hemelsmooi hier. Berge en dale en valleie. Turkoois water wat kristalhelder is. En sonbesies wat in ’n massakoor sing.


Monday, August 8, 2016

Knidos.



6 Augustus 2016. Saterdag.

Parmak tot Knidos
 
Al rollende het ons gaan slaap en al rollende staan ons op en al rollende vaar ons uit die baai. Rolbos tolbos waaibos.

Ons gaan vandag na Knidos, 36°41.062 N, 27°22.586 O, 14.7 myl. Ons vaar verby die klein hawe van Palamut net om te sien hoe dit daar lyk. Ons kyk na die ankerplek, maar dit lyk na rol se dinge en ons gaan maar verder. Gus begin van vooraf te waai, soos hy altyd hier om die hoek waai en ons beur wind-op voort na die antieke stad.

Knidos is een van daai plekke waar jy jouself in tyd kan verloor. Die ou stad het stadig maar seker verkrummel tot klip en rots en niks. Daar is as’t ware net fondasies oor. Dis ’n plek waar skepe toentertyd geskuil het teen die wind, nes ons ook in die hede doen.

Propylon
Knidos Baai
Teater
Ou kolomme
Die son sak