Monday, July 25, 2016

Pothia. Kalymnos Eiland. Familie.



23 Julie 2016. Saterdag.


Vandag kom Elize en Fanie. Ek en Archie stap 10:00 na die hawe, want ons verwag hulle 10:30. Ons wag en wag en wag. Hulle kom toe wraggies eers 11:20 hier aan. Elize sukkel-sukkel met haar rugsak op wiele by die plank af.  En af is sy. 

Doelgerig

Hulle is laaste in die ry en ons groet sommer deur die tralies. Ons is so bly om hulle heelhuids te sien. Hulle gaan deur die doeane en ons sê vir hulle dat ons op ’n Kalymnos toer wil gaan. Hulle sê dis reg en laai hulle bagasie in die toerbussie en daar trek ons.

Agter tralies
Hallo daar!

Ons sien mooi uitsigte van die baaie naby Panormos. Ons ry verder en stop vir 20 minute by Masouri. Die plek is ’n toeriste paradys en is bekend vir sy pragtige strande.

Telendos Eiland vanaf Panormos
Elize en haar vriendin in Masouri

Die hoogtepunt vir my is die St Savvas klooster. Dit pryk hoog teen die berg met sy rooi dakke. Ek stap in die groot kerk rond en daar is indrukwekkende muurskilderye en altaar. Daar is eintlik ’n klomp plekkies van aanbidding en almal is vir my mooi. Ek is mos ’n kerkmens!

St Savvas klooster
Altaar

Hier van bo af kan ons vir Pothia baie mooi sien. Daar êrens onder by die kaai lê Maja vir ons en wag. Ons drink die uitsig in en verlustig ons in die mooi. Die gaste geniet die toer so deur hulle moegheid. Toe ry ons terug en die toer is klaar.

Pothia
Ek, Elize, Archie en Fanie

Ons vat die pad na Maja. Elize was nou al twee keer op Maja, maar Fanie net een keer. Al langs die kaai loop ons en daar is Maja. Skoongeskrop en gereed vir die nuwe gaste.

Vat die pad na Maja

Maja se passarelle (plank) is maar smal en Elize stap versigtig oor en glimlag verlig toe sy veilig op Maja is sonder om in te val. Fanie vat die rugsakke gemaklik en baie gebalanseerd oor die plank en hulle is tuis, in Griekeland, op onse ou Maja.

Veilig aan boord
Pakesel

Daar word op groot skaal uitgepak en gebêre, want elke ding (en daar is baaaie dinge) moet ’n plek kry.

Ons geniet ’n ligte middagete en later gaan stap ons in die dorp. Elize gaan dadelik aan die koop en hier word ietsie gekoop en daar word nog ietsie gekoop. Ek koop niks.

Na aandete kuier ons nog so ’n ryk, maar die moeg oorval hulle en die kajuit roep.

Baie welkom julle!


Friday, July 22, 2016

Pothia. Kalymnos Eiland.



21 en 22 Julie 2016. Donderdag en Vrydag.

Xirokampos Baai tot Pothia, Kalymnos

Ek is moeg vir Gus. Ek wens hy wil ook moeg word, dan kan ons al twee gaan lê. Ons is ’n dagreis van Kalymnos af en vandag is die dag. Ons gaan na Pothia, die hoofdorp van die eiland, 36°57.058 N, 26°59.189 O, 18.7 myl.

Ons durf die see aan en die is aan die rol. Die deinings dein op en neer en ons dein heen en weer. Gelukkig nie so erg soos nou die dag nie. Natuurlik span ons ’n seil. Twee jaar terug het ek mos ’n liedjie gekomponeer. Dit is op hierdie jaar van toepassing.

Span die seile, span die seile
Eers die hoofseil en dan die genoa
Span die seile, span die seile
Eers die hoofseil en dan die genoa.

Ons seil ons seil op die Aegean See
Die rowwe rowwe Aegean See
Die golwe, die golwe sleur ons mee
Op die rowwe, rowwe Aegean See.

Ons seil

Ons en ’n klomp ander jagte seil op die Aegean See. Myl vir myl vaar ons nader aan ons bestemming. Ons seil vir 2h20min. En daar is Pothia. Die volgende vraag is of daar plek by die kaai is. 

Seil op Aegean See
Voortvarend
Eensame kerkie
Klooster kerk

Daar is plek en die kaaiman beduie waar ons moet vasmeer. Dis nou ’n nuwe ding hier in Griekeland. ’n Man help jou in en dan moet jy vir hom 3.betaal. Ek gooi anker en Archie tru in. En vas is ons. Gereed vir Elize en Fanie wat Saterdag kom.

Pothia
Hawe kerk

Nou is dit boot was en skoonmaak en "spit and polish", want Queen Elizabeth kom kuier.

Ons kry darem die nuus dat Elize en Fanie veilig in Istanbul aangekom het en later dat hulle veilig in Turgutreis is. Sonder bomme of staatsgrepe of iets dergeliks.

Wednesday, July 20, 2016

Xirokampos Baai. Leros Eiland.



20 Julie 2016. Woensdag.

Partheni Baai tot Xirokampos Baai
Ons bekruip vir Kalymnos so skuil-skuil. Ons moet Saterdag vir Elize en Fanie daar kry. So vandag gaan ons die beskutting van Partheni verruil vir ’n ander baai, ook op Leros Eiland. Dis aan die suidepunt van die eiland. Xirokampos, 37°06.042 N, 26°52.320 O, is 11.9 myl.

Ons vaar by die baai uit en besef hoe die wind eintlik gewaai het. Reuse deinings kom na ons toe aangerol. Sulke smeulende deinings vol kurwes wat Maja verleidelik en verraderlik laat kantel. Gus is die waaiende metgesel en ek kry vir ons lewensbaadjies. So elke nou en dan is daar ’n ekstra grote wat so raak-raak aan die kant van die dek. Dan sê ek maar net kalm: ”Archieee!” 

Maar anders as in die ou dae, sing ek nie, ek vat dit soos dit kom en plaas dit in die kategorie waarin dit val. (Ons het op skool so gesê) Dit val dan ook in die kategorie van rowwe see. Maja vaar dapper voort, darem nie vir te lank nie. Toe kom die deinings van agter en nie meer van die kant nie. Dit gaan toe beter, maar daai golwe gooi ons steeds heen en weer. Ons span die genoa en seil vir meer as ’n uur.

Ons seil

Ons seil verby ou bekende plekke wat ons verlede jaar ook besoek het. Pandeli se kasteel staan trots hoog teen die berg en word as't ware een met sy berg. Die dorpie self is nog net so pragtig.

Pandeli se kasteel
Pandeli
Op pad na êrens

Ou Gus waai ook maar in die baai. Daar lê verleidelike boeie in die water wat mens kan gryp, maar die kaptein gee die bevel dat ons moet anker. Ek glo natuurlik ’n seil moet gereef word en ’n boei moet gegryp word.

Ek gooi toe maar gehoorsaam anker en maak seker dat dit goed byt vir die blerrie Gus.

Uitsig van Kalymnos
Xirokampos Baai
Laataand
Vissersbootjie
 
Elize en Fanie vlieg vanaand.