Wednesday, July 20, 2016

Xirokampos Baai. Leros Eiland.



20 Julie 2016. Woensdag.

Partheni Baai tot Xirokampos Baai
Ons bekruip vir Kalymnos so skuil-skuil. Ons moet Saterdag vir Elize en Fanie daar kry. So vandag gaan ons die beskutting van Partheni verruil vir ’n ander baai, ook op Leros Eiland. Dis aan die suidepunt van die eiland. Xirokampos, 37°06.042 N, 26°52.320 O, is 11.9 myl.

Ons vaar by die baai uit en besef hoe die wind eintlik gewaai het. Reuse deinings kom na ons toe aangerol. Sulke smeulende deinings vol kurwes wat Maja verleidelik en verraderlik laat kantel. Gus is die waaiende metgesel en ek kry vir ons lewensbaadjies. So elke nou en dan is daar ’n ekstra grote wat so raak-raak aan die kant van die dek. Dan sê ek maar net kalm: ”Archieee!” 

Maar anders as in die ou dae, sing ek nie, ek vat dit soos dit kom en plaas dit in die kategorie waarin dit val. (Ons het op skool so gesê) Dit val dan ook in die kategorie van rowwe see. Maja vaar dapper voort, darem nie vir te lank nie. Toe kom die deinings van agter en nie meer van die kant nie. Dit gaan toe beter, maar daai golwe gooi ons steeds heen en weer. Ons span die genoa en seil vir meer as ’n uur.

Ons seil

Ons seil verby ou bekende plekke wat ons verlede jaar ook besoek het. Pandeli se kasteel staan trots hoog teen die berg en word as't ware een met sy berg. Die dorpie self is nog net so pragtig.

Pandeli se kasteel
Pandeli
Op pad na êrens

Ou Gus waai ook maar in die baai. Daar lê verleidelike boeie in die water wat mens kan gryp, maar die kaptein gee die bevel dat ons moet anker. Ek glo natuurlik ’n seil moet gereef word en ’n boei moet gegryp word.

Ek gooi toe maar gehoorsaam anker en maak seker dat dit goed byt vir die blerrie Gus.

Uitsig van Kalymnos
Xirokampos Baai
Laataand
Vissersbootjie
 
Elize en Fanie vlieg vanaand.

Partheni Baai. Leros Eiland.


18 en 19 Julie 2016. Maandag en Dinsdag.

Lera Lipsi tot Partheni

Ons moet al weer skuiling soek. Gus is op pad. Ons trek anker op en vat die pad na Partheni, 37°11.495 N, 26°48.364 O, 6.4 myl op Leros Eiland. Dis ’n baie beskutte baai met reg rondom skuiling. Die bodem is modder, so ’n anker hou.

Ons sien die wolke hang oor die berge daar in Samos se omgewing. Dit beteken net een ding. Gus soek moeilikheid. Hy begin vroeg al met sy streke, maar ons het nie vêr om te gaan nie en ons is voor hom by Partheni.


Wolke oor die berge van Samos

Dis sommer ’n vissersbaai, sonder enige pretensie, so gemaak en so laat staan. Ons gooi anker en maak seker hy byt goed en net toe ons vas is, vat Gus ons ook vas. Dit waai dat die kranse antwoord gee. Toue klap, maste sing, Maja swaai en draai. En ons draai saam. Gus hardloop met brute krag oor die water.

Dit gaan die hele dag so aan en ek en Archie lees maar boek. Gelukkig verstil Gus ’n bietjie in die nag en ek kan slaap. Die kaptein slaap in elk geval, soos gewoonlik, soos ’n flippen baba.

Partheni Baai

Die volgende dag skuil ons nog steeds. Lees maar boek, doen ’n werkie hier en daar en so gaan die dag verby. Gus waai, maar die windvlae is nie so hewig soos gister nie. 

Kaptein ontspan

Ons word darem ’n goeie nagrus gegun, waarvoor ek baie dankbaar is.

Tuesday, July 19, 2016

Lera Lipsi. Lipsi Eiland. Wat 'n verligting!



17 Julie 2016. Sondag.

Lipsi tot Lera Lipsi
 
Ons gaan vandag net om die hoek, na Lera Lipsi, 37°16.902 N, 26°46.363 O, 3.5 myl. Voor ons weet, is ons daar, kry ’n goeie ankerplek en maak seker die anker byt goed. Hier is mos altyd winde.

Taverna Dilaila by Lera Lipsi
Ankerplek
 
Ons wonder of ons vriende, Deon en Ryna, van Aliwal-Noord se wêreld, veilig in Suid-Afrika is. Hulle het hier aangekom net na die bomontploffing op die lughawe in Istanbul, met Air Egypt, wat ’n vliegtuig in die Middellandse See verloor het en gaan hier weg tydens die staatsgreep in Turkye.

Toe kry ons die volgende e-pos van Deon.

Haai Archie & Marietjie

Ons het julle byna 3 weke gelede ingelig hoe gelukkig ons was toe die ISIS selfmoord ou ‘n paar ure na ons deur Ataturk lughawe is, 44 toeriste en personeel gedood het.

Saterdag oggend vroeg, donkernag hoor ek ‘n geweldige ontploffing, maar toe die oggendgebede kort daarna begin, dag ek dis weer maar net ‘n groot “thunderflash” wat ons tydens Ramadan gehoor het.

Ryna slaap deur, maar word wakker van “jets” wat vlieg wat ek aan haar beduie dis net nag vegvliegtuig oefeninge.

Ons hoor ook geweerskote vêraf, maar skryf dit later af as klappers.

My broer van Skotland Whats App ons vroegoggend oor ‘n gepoogde staatsgreep, maar ons sê daar is nie moeilikheid nie. Die internet verwys net na gevegte in die hoofstad Ankara (wat ons net 2 dae vantevore deur is).

Ons verstaan nie die Turkse radioberigte wat oral hardop klink nie.

So is ons vroegoggend (soos gewoonlik) na die tremlyn en my Isanbulkaart wil nie werk nie. Die sekuriteits ou sê dis OK as ons sommer deur die oop hek loop, want vandag is alle ritte gratis a.g.v. die “political situation”.Die gewone Turk is mos nie sterk op Engels nie.

Die strate is verlate, maar die Blou Moskee, wat ek vir Ryna wil gaan wys, is gesluit en net so alle besienswaardighede.

Ons geniet onsself by al die uitkykpunte met geen toeriste of Turke nie. Ons ry die tremlyne gratis van begin tot einde en weer terug en bekyk Istanbul gratis.

Ons hotelier bel die lughawe en sê dat dat vlugte soos normaal van Ataturk lughawe af vlieg. So teen middagete begin die Turke uitkom en begin ook die gratis tremritte gebruik, terwyl ons met die Metro ondergrondse trein gratis Ataturk lughawe toe te ry.

Ons kom by die Ataturk lughawe uit en kom agter dat alle buitelandse lugrederye verdwyn het en dis net Turkish Airline wat vlugte doen. Niemand kan of wil jou help, veral van vreemde lugrederye nie en dis chaos op die lughawe. Op internet wys dit dat Egypt Air se vlug na Kaïro, wat ons om 18h35 moes neem, gekanselleer is – geen vervangende planne of raad of opsies nie.

‘n Sekuriteitswag wys my daarop dat hoewel ek en Ryna met Air Egypt vlieg, is hierdie vlug uitgekontrakteer na Turkish Airlines. Sjoe, wat ‘n gelukskoot, want Turkish Airlines reël vervangende vlugte en as dit lank neem, verskaf ook hotelverblyf. Na meer as ‘n uur in die inboek toue, sê die Turkish Airways personeellid ons dat die Turkish Airlines vlug (soos baie ander vlugte) gekanselleer is en dat ons met ‘n vervangende vlug moet vlieg. Na nog 4 ure met duisende gefrustreerde mense, was Turkish Airways se vervangende opsie om ons vroeg Sondagoggend ons nie net na Kairo te vlieg nie (waar ons ons vlug na Johannesburg sou gemis het), maar om ons gratis direk na Johannesburg toe te vlieg. Ons het net die hoogste lof vir Turkish Airways wat ook die gratis water en kos op die lughawe uitgedeel het.

Ons het wel 2 ure laat vir ons vlug van Istanbul vertrek, wat gemaak het dat ons ons vlug na Bloemfontein verpas het. As alternatief is ek seker die ander lugrederye sal eers na 3 dae jou kon akkommodeer (soos my broer uit Skotland gerapporteer het).

So kom ek en Ryna darem Sondag om 12h00 op Johannesburg se lughawe uit.

Vir R2500 en baie hardloop op Johannesburg se lughawe kon ons darem so effe meer as ‘n uur later Bloem toe vlieg en was ons teen 18h00 by Aliwal by die huis.

By Bloemfonteinse lughawe vertel ander Istanbul se reisigers ons dat hulle Saterdagoggend vroeg op Istanbul se Ataturk lughawe was en dat bom ontploffings die lughawe geruk het en hulle ‘n tenk sien verbyry het.

So karjakker ons lekker Saterdagoggend in Istanbul se strate rond, terwyl ons nie besef hoe ernstig dinge self in Istanbul was nie.

“Fortune favours the Ignorant” – Met apologie deur Deon du Plessis

Archie sê: "Vir ons goeie seil vriende reël ons altyd 'n gekruisde anker situasie, maar vir ons baie goeie vriende reël ons 'n staatsgreep!"

Bravo vir die brawe Du Plessis's