Wednesday, June 15, 2016

Patitiri. Alonnisos Eiland.




14 Junie 2016. Dinsdag. 

Skopelos tot Patitiri, Alonnisos Eiland

Ek sou graag nog ’n dag op Skopelos wou oorgebly het, maar nou ja. Ons het ’n besige skedule. Ons maak ook gereed vir twee groot seekruisings wat Woensdag en Vrydag moet gebeur.

Kaptein bak pannekoek
Tot siens Skopelos …
… ons sien jou weer

So, vandag is ons vriende se laaste vaart op Maja. Ons gaan na Alonissos Eiland om by Patitiri, 39°08.614 N, 23°51.996 O, 8.2 myl, te gaan oornag. Dis waar Yvon en Louise hul veerboot kry vir verdere avonture.


Almal is in ligte luim. Die twee Franse Kanadese geniet die Maja avontuur ongelooflik baie en hulle poseer speels vir die kamera. Flankeer so effens op Mamma Mia styl met die lens. Gus waai liggies en ons span die seile. Na al die moeite en al die verstellings aan die seile totdat dit eksie perfeksie is, gaan lê Gus ewe aspris. Af is die seile en die laaste vaart is te gou verby.

Laaste vaart

Maja kameelperd vreeslik seksie by die hawe in en ons soek plek. Ons kry so skewerige plek en gooi anker, Archie tru en Yvon en ’n vreemdeling maak vas en Louise staan paraat met die bal fender om af te keer. Die hoek lyk nie so lekker nie en Maja word heen en weer  getrek totdat ons tevrede is. Hier is nou ’n wenresep vir gekruisde ankers.

Hawe

Ons maak klaar, want ons het een doel voor oë en dit is om die chora te gaan besoek. ’n Chora is ’n dorp op die heuwel. In die ou dae het die slim inwoners dit so gebou dat hulle die seerowers kon sien aankom.


Ons stap natuurlik soontoe. Maar nou ja, ons stap te lekker. Ons hou van stap! Dis 39° C vandag hier op die eiland en ons kry warm. Oral langs die pad is pruimbome en ons stap eet-eet, gesels-gesels en lag-lag tot by die chora.



Die ou dorpie is baie stil met baie mooi uitsigte. Daar onder lê die eilande vreedsaam in die poel blou Mediterreense water, alles perfek prentjiemooi en in harmonie. Ai, Griekeland is mooi!

Uitsig van chora
Ek en Archie

Louise en Yvon
Blommekind

Elena se winkel in die chora

Die terugtog voel baie korter en sommer gou-gou is ons terug by Maja, 7 km in totaal.



Vanaand is die aand! Yvon en Louise neem ons uit vir ete. Ons stap op na die Helios Foodbar. 'n Duitse meisie, wat ons by Chalkisbrug ontmoet het, het dit aanbeveel. Wel ek moet se, die geselskap is heerlik en die kos so smaaklik. Ons het lanklaas so heerlik uitgeëet. Ons kuier soos ou vriende saam rondom heerlike kos en yskoue wyn.  Baie dankie julle!

Uiteet by Helios Foodbar
Yvon is honger …
… en Archie ook






Skopelos.



13 Junie 2016. Maandag. 

Loutraki tot Skopelos
 
Dit was ’n heerlike ankerplek, maar dis tyd om te gaan. Skopelos, 39°07.397 N, 23°43.903 O, 14.2 myl, hier kom ons.

Ons, veral ek, is baie opgewonde. Vandag sien ons die Mamma Mia kerkie van die see se kant af. Maar kruip so ’n kerkie vir ons weg. Eers staan hy piepklein en trots hoog daar teen die berg. Terg my, vermy my. Ons moet eers op die rotse loop in die oog staar voordat ons dit sien. Die rots waarop dit gebou is, is iets besonders. Ons kan nie te naby kom nie, want daar is rotse onder die water en Maja het mos ’n lang kiel. Ek het nou nie eers soos Meryl Streep teen die trappe opgehardloop nie. Maar volgende jaar …

Louise met Mamma Mia kerkie in agtergrond
Mamma Mia kerkie (die kolletjie bo-op die rots)
 
Ons vaar by die ingang van Skopelos se hawe in. Daar is vir ons plek by die kaai en ons kry als gereed. Daar loop ’n ketting onder op die bodem, so jy moet vêr genoeg gooi om anderkant die ketting en konkreet blokke te gooi. Archie tru, gee opdrag dat ek gooi en Yvon en Louise staan gereed om af te keer. Archie kan afstand deesdae baie beter skat en ons gooi 35 m uit. Ons behoort veilig te wees.

Skopelos
Skopelos
 
Dis taamlik bewolk en Yvon en Louise gaan dadelik dorp toe. Ons publiseer gou ’n blog, anders raas Deon van Aliwal-Noord se wêreld weer met ons.

Toe is dit ons beurt om die dorp te verken en kyk na sommige van die 120 kerke in die dorp. As kerkmens geniet ek dit vreeslik. Die wolke pak saam. Die lug voel na reën. Ons begin die aftog te blaas. Ek maak altyd al Maja se vensters toe as ons haar verlaat, behalwe as dit die dag reën. Wat toe ook gebeur. Archie kies die hasepad terug om vensters te gaan toemaak. Dit reën gelukkig net liggies en dis net effe nat. 

Uitsig oor hawe
Kerkmens
Nog kerkies
Uitsig oor Skopelos


Die reën het almal net op hol gejaag. Net toe al die restaurante se stoelkussings ingedra is, hou dit op. Yvon en Louise besluit om te gaan swem. Hulle is nie bang vit nat word nie!

Dit word ’n heerlike aand waar die gaste in kompetisie met ’n Franse tenoor sing. Dan sing hy op sy boot, dan sing die Franse Kanadese in antwoord. Hy kom toe later kyk wie gee hom so kompetisie. Ons eet ’n heerlike aandete wat die einde aan ’n heerlike dag maak.

Yvon. Die bas.
Louise sing saam
Aandete op Maja


Monday, June 13, 2016

Loutraki Baai, Skopelos Eiland.



12 Junie 2016. Sondag.

Skiathos na Loutraki

Vandag verlaat ons vir Skiathos na ’n lang kuier van vier dae. En met nuwe bloed aan boord. Ons roete neem ons na Skopelos Eiland en wel Loutraki Baai, 39°09.866 N, 23°36.963 O, 14.2 myl, waar ons gaan anker. Van anker gepraat, ons moet dit eers uit die water kry. Ons anker het mos 50 m ketting en 10 m tou. 53 m is uitgelaat en Archie moet die eerste deel optrek, want ek het nie die krag om die tou op te trek nie. Ek is agter die helm, Louise en Yvon keer af en Archie trek op. Dit gaan goed, die ankerketting rol in. Toe stop dit. Ons anker is vas

Anker sit vas

Archie trek op, met fors en die groot boot, tweede van ons af, se anker beweeg. Hy het na ons ingekom en so skeef gegooi dat sy anker oor ons s’n is. Dit beteken dat June en Paul, die Suid-Afrikaners, hulle anker oor die karnallie s’n gegooi het. Archie trek die groot boot se anker totaal uit die water. Hulle sal hulle anker weer moet gooi en in die proses Paul-hulle se anker ook versteur. Ons gooi die anker terug in die water, Paul en June wuif en groet en weg is ons.

Weg is ons

Archie vaar langs Skiathos se kuslyn op dat ons kan sien hoe lyk dit. Daar is mooi ruwe rotse en ons vaar by Kastro verby. Dit is ’n ou fort met ruïnes van ’n antieke dorp waarheen die mense toentertyd gevlug het as die seerowers gekom het. Dan het hulle die valbrug opgetrek en die seerowers kon nie in die stad gekom het nie. 

Kastro met sy valbrug
Kyk daar is Kastro

Ons draai in die rigting van Skopelos eiland en toe Gus reg waai seil ons vir omtrent 10 min. Gus gaan lê en af is die seile. Yvon en Louise, wat ook ’n baie klein seilboot in Kanada het, is beïndruk oor hoe maklik dit met Maja is.


Ons vaar die baai binne en gooi twee keer anker. Die eerste keer op seegras en die tweede keer op sand en hy byt dat dit bars.

Loutraki Baai
Louise, Yvon en ek by Loutraki Baai

Toe is dit staptyd. Ons durf die roete aan , boontoe, na die dorpie, Glossa. Dit is heetwarm en die sweet tap ons af. Bo gekom besluit ons om na die kerkie van die fliek, Mamma Mia, toe te stap. Die Griek se dis net twee km tot daar, maar Archie sê hy het uitgewerk op Google Earth, dis 6 km. Ek glo die Griek, want ek wil baaie graag soontoe gaan.

Glossa
Uitkyk oor Loutraki van Glossa

Ons begin te stap en ons stap en ons stap en ons stap. Die Griek se twee km word langer en langer en langer. Toe sien ons die kerkie in die verte. Prentjiemooi. Ek bars amper in trane uit van mooigeid. Ons almal word soos wafferse akteurs met die kerkie in die agtergrond afgeneem. 

Mamma Mia! Dis die kerkie!
Ek en Archie
Yvon en Louise

Ek en Louise


Ons stap nog ’n ent aan. Die blerrie kerkie is wraggies 6 km. Dit raak laat en dis nog 2 km tot daar. En dan nog 6 km terug en nog die 2 km af tot by die hawe. Dis mos nou heeltemal te veel gevra vir moer-toe knieë. Ons gaan donkeraand eers terug wees. Ons draai om en stap terug. Maar ons gee nie om nie. Skopelos is pragtig en die staproete nog mooier. Archie was reg oor die afstand na die kerk.

Stap te lekker
Kerkie is nog vêr!

Ons kom by Maja en toe is daai water lekker. Ons laaf ons lywe in die koel verfrissende water. Wat ’n besonders dag. Die stap saam met ons stapvriende, omtrent 10 km, van 14:00 tot 19;00 die pragtige uitsig op die kerk, die swem in die blou Meditereense See.

Hierdie gaste van ons is modelgaste. Die aand sing hulle vir ons Franse liedjies. So, Deon, Ryna, Fanie en Elize, oefen solank julle stemme! Werk aan julle Franse liedjies!