Wednesday, June 15, 2016

Patitiri. Alonnisos Eiland.




14 Junie 2016. Dinsdag. 

Skopelos tot Patitiri, Alonnisos Eiland

Ek sou graag nog ’n dag op Skopelos wou oorgebly het, maar nou ja. Ons het ’n besige skedule. Ons maak ook gereed vir twee groot seekruisings wat Woensdag en Vrydag moet gebeur.

Kaptein bak pannekoek
Tot siens Skopelos …
… ons sien jou weer

So, vandag is ons vriende se laaste vaart op Maja. Ons gaan na Alonissos Eiland om by Patitiri, 39°08.614 N, 23°51.996 O, 8.2 myl, te gaan oornag. Dis waar Yvon en Louise hul veerboot kry vir verdere avonture.


Almal is in ligte luim. Die twee Franse Kanadese geniet die Maja avontuur ongelooflik baie en hulle poseer speels vir die kamera. Flankeer so effens op Mamma Mia styl met die lens. Gus waai liggies en ons span die seile. Na al die moeite en al die verstellings aan die seile totdat dit eksie perfeksie is, gaan lê Gus ewe aspris. Af is die seile en die laaste vaart is te gou verby.

Laaste vaart

Maja kameelperd vreeslik seksie by die hawe in en ons soek plek. Ons kry so skewerige plek en gooi anker, Archie tru en Yvon en ’n vreemdeling maak vas en Louise staan paraat met die bal fender om af te keer. Die hoek lyk nie so lekker nie en Maja word heen en weer  getrek totdat ons tevrede is. Hier is nou ’n wenresep vir gekruisde ankers.

Hawe

Ons maak klaar, want ons het een doel voor oë en dit is om die chora te gaan besoek. ’n Chora is ’n dorp op die heuwel. In die ou dae het die slim inwoners dit so gebou dat hulle die seerowers kon sien aankom.


Ons stap natuurlik soontoe. Maar nou ja, ons stap te lekker. Ons hou van stap! Dis 39° C vandag hier op die eiland en ons kry warm. Oral langs die pad is pruimbome en ons stap eet-eet, gesels-gesels en lag-lag tot by die chora.



Die ou dorpie is baie stil met baie mooi uitsigte. Daar onder lê die eilande vreedsaam in die poel blou Mediterreense water, alles perfek prentjiemooi en in harmonie. Ai, Griekeland is mooi!

Uitsig van chora
Ek en Archie

Louise en Yvon
Blommekind

Elena se winkel in die chora

Die terugtog voel baie korter en sommer gou-gou is ons terug by Maja, 7 km in totaal.



Vanaand is die aand! Yvon en Louise neem ons uit vir ete. Ons stap op na die Helios Foodbar. 'n Duitse meisie, wat ons by Chalkisbrug ontmoet het, het dit aanbeveel. Wel ek moet se, die geselskap is heerlik en die kos so smaaklik. Ons het lanklaas so heerlik uitgeëet. Ons kuier soos ou vriende saam rondom heerlike kos en yskoue wyn.  Baie dankie julle!

Uiteet by Helios Foodbar
Yvon is honger …
… en Archie ook






No comments:

Post a Comment