Wednesday, June 15, 2016

Skopelos.



13 Junie 2016. Maandag. 

Loutraki tot Skopelos
 
Dit was ’n heerlike ankerplek, maar dis tyd om te gaan. Skopelos, 39°07.397 N, 23°43.903 O, 14.2 myl, hier kom ons.

Ons, veral ek, is baie opgewonde. Vandag sien ons die Mamma Mia kerkie van die see se kant af. Maar kruip so ’n kerkie vir ons weg. Eers staan hy piepklein en trots hoog daar teen die berg. Terg my, vermy my. Ons moet eers op die rotse loop in die oog staar voordat ons dit sien. Die rots waarop dit gebou is, is iets besonders. Ons kan nie te naby kom nie, want daar is rotse onder die water en Maja het mos ’n lang kiel. Ek het nou nie eers soos Meryl Streep teen die trappe opgehardloop nie. Maar volgende jaar …

Louise met Mamma Mia kerkie in agtergrond
Mamma Mia kerkie (die kolletjie bo-op die rots)
 
Ons vaar by die ingang van Skopelos se hawe in. Daar is vir ons plek by die kaai en ons kry als gereed. Daar loop ’n ketting onder op die bodem, so jy moet vêr genoeg gooi om anderkant die ketting en konkreet blokke te gooi. Archie tru, gee opdrag dat ek gooi en Yvon en Louise staan gereed om af te keer. Archie kan afstand deesdae baie beter skat en ons gooi 35 m uit. Ons behoort veilig te wees.

Skopelos
Skopelos
 
Dis taamlik bewolk en Yvon en Louise gaan dadelik dorp toe. Ons publiseer gou ’n blog, anders raas Deon van Aliwal-Noord se wêreld weer met ons.

Toe is dit ons beurt om die dorp te verken en kyk na sommige van die 120 kerke in die dorp. As kerkmens geniet ek dit vreeslik. Die wolke pak saam. Die lug voel na reën. Ons begin die aftog te blaas. Ek maak altyd al Maja se vensters toe as ons haar verlaat, behalwe as dit die dag reën. Wat toe ook gebeur. Archie kies die hasepad terug om vensters te gaan toemaak. Dit reën gelukkig net liggies en dis net effe nat. 

Uitsig oor hawe
Kerkmens
Nog kerkies
Uitsig oor Skopelos


Die reën het almal net op hol gejaag. Net toe al die restaurante se stoelkussings ingedra is, hou dit op. Yvon en Louise besluit om te gaan swem. Hulle is nie bang vit nat word nie!

Dit word ’n heerlike aand waar die gaste in kompetisie met ’n Franse tenoor sing. Dan sing hy op sy boot, dan sing die Franse Kanadese in antwoord. Hy kom toe later kyk wie gee hom so kompetisie. Ons eet ’n heerlike aandete wat die einde aan ’n heerlike dag maak.

Yvon. Die bas.
Louise sing saam
Aandete op Maja


No comments:

Post a Comment