Monday, May 16, 2016

Ermioni. Kuiergaste.



15 Mei 2016. Sondag.

Ons stap bult-op om te sien hoe lyk Ermioni van bo. Dis verbasend wat ’n bietjie hoogte kan doen om te sien hoe lyk ’n plek regtig. Dan kan jy rond sien en alles is nie plat nie. Die son loer deur die wolke en breek Ermini oop in ’n pragtige baai. Ai, maar dis pragtig. Ons sit op die muur en tuur oor die baai. Jy kan die oorkantse baai ook sien waar ons gister gestap het. 

Ermioni
Ermioni

Ons stap weer in die bos en die reuk van dennenaalde hang in die lug. Die ruïnes van ’n ou Doric tempel van Poseidon is ook te sien. Hulle lê daar as ’n klomp ou klipblokke. Ons sien die ou windmeul wat in 1821 deur die Mitsas familie gebou is.

Mitsas windmeul

Ou Archie is altyd vreeslik nuuskierig en loer binne-in die ligtoring om te sien wat daarin is. Dis toe maar net batterye om die krag te stoor van die sonpaneel.

Doen ondersoek
 
Toe wag ons. Martin en Shiree Woolnough van Gumnuts kom vandag. Ons sien regtig uit daarna om hulle weer te sien. En uiteindelik! Daar kom Gumnuts om die hoek. Ons almal wuif soos windmeulens. Hulle gaan anker in die baai en kom kuier vir ons in hulle dinghie.

Martin en Shiree
Kuier op Maja

Ons ons kuier en lag en gesels. Ons kry mekaar weer 19:30 dan gaan ons uiteet. Intussen kom die hawemeester en kom waarsku ons teen die westewinde wat gaan kom. Blykbaar is die “holding not good in west winds”. Ekstra toue word vasgemaak en Archie is tevrede.

Touspinnerak


Gumnuts se mense kom en ons gaan uiteet. Martin en Shiree is in ’n baie vrolike stemming en trek vreeslik aandag op die kaai. Ons stap uitgelate na die restaurant. Ons kyk uit op die see. Ek en Archie eet seekat en die Woolnoughs calamari. Ons kuier heerlik en na ’n genotvolle aand keer ons terug na ons jagte. 

Ons gaan uiteet
Uitgelate
Kavos Taverna

23:40 begin ou Gus te waai. Die kaptein slaap oudergewoonte weer soos ’n flippen baba en ek lê in die saloon en hou die sake dop. As ons anker loskom, sal Gus ons teen die kaai waai en ons kan vir Maja beskadig. Maar daai anker hou. Die toue doen hulle werk en 01:50 besluit ou Gus om te gaan lê en toe gaan lê ek ook maar.

Saturday, May 14, 2016

Ermioni.



14 Mei 2016. Saterdag.

Poros tot Ermioni

Ons groet vir Poros. Dit lyk na reën. Dis bewolk. Dis koud en mislik. Gus waai liggies yskoud van voor. Hy het seker êrens sneeulug versamel waarmee hy ons nou temteer. Ons trek nog warm klere aan. 

Poros

Ons is op pad na Ermioni, 37°23.144 N, 23°14.954 O, 20.4 myl. Ons gaan om die hoek en dit raak warmer. Dit raak later windstil en ons kom nader aan Ermioni. Dit is ’n baie vlak hawe en gelukkig is daar plek vir ons by die beskutte kant van die kaai. Al piepende tru Archie in, ek gooi anker en ons huis is waar die anker val, vir die volgende twee dae. 

Ermioni

Ons gaan stap om die skiereiland in ’n dennebos. Die paadjie kronkel al langs die see. Die baai van Ermioni lê rustig langs die bos. See en aarde, water en grond, boot en mens. Anders is eenders. 

Ermioni Baai

Seiljagte seil met bollende seile buite die baai. Alles is van rustig en vreedsaam. Dis net die kaptein wat met my skoorsoek en ek sê vir hom ek is nie so grapperig as ek seil nie. Hy sê hy weet. Toe lag ons lekker.

Jag

Aan die Suidekant van die dorpie is nog ’n hawe en Archie help gou ’n jag vasmeer en toe stap ons verder. Hierdie is my suster, Elize, se tipe dorpie.  Ek hou van die plek. Hier gaan ons lekker bly. Môre ontmoet ons vir Martin en Shiree van Gumnuts hier en ons sien baie uit daarna om hulle weer te sien. 

My anker
Kreatiewe blompotte
Ermioni

Ek is lui om kos te maak en ons eet Mediterreens.

Mediterreens

Friday, May 13, 2016

Poros.



13 Mei 2016. Vrydag.
 
Ons staan op met ’n lied in die hart. Poros is pragtig, sonnig en fleurig. Net die regte weer vir stap. Ek kry al my hulpmiddels vir die stap reg en weg is ons.
 
Reg vir stap


Daar is blykbaar ook ’n mark en ons stap eers soontoe. Geen mark en ons kies koers na die koppie. Tussen huisies en stegies en die pad loop dood. Ons klim toe so klipperige koppie uit waar daar geen pad is nie. Ek kla natuurlik vreeslik, maar die geduldige Archie verleen hulp en bo is ons. Dis toe nog net die klim deur die doringdraad en ons is by die kerk. Poros lê onder in die baai.

Uitsig oor Poros
Bo-op die koppie

Ons stap verder, op dieselfde roete as wat ons verlede jaar saam met Chris en Zane gestap het en ek verlang skielik vreeslik na hulle. Ons sien twee skilpaaie wat gulsig vreet, seker honger na die lang winterslaap. Poros van bo gesien, is prentjiemooi.

Kerk hek
Terugtog
Prentjiemooi Poros

Later gaan koop ons poskaarte en toe ons terugkom, lyk iets aan Maja se posisie vreemd. Sy staan so skeef-skeef en ons Franse buurman staan nog skewer. Ons sou toe hoor dat die Fransman se buurman sy anker losgeruk en opgetrek het en toe weer windskeef terug in die see gegooi het en boon-op oor ons anker. Toe hy sy anker weer intrek, haak ay anker aan iets vas. Sy boot druk vir Maja se agterkant teen die kaai. Ons sit nog ’n fender agter, dat sy nie haar agterstewe beskadig nie. Hy bel toe ’n duiker om te kom kyk wat aangaan. 

Konsternasie
Bekommerde bure

Die duiker daag op, trek so sommer in die straat aan en klim in die water. Hy maak die bure se anker los, sit dit oor ons anker en sê tot ons verligting dat ons anker nog klopdisselboom is. Die Franse se anker het aan ’n tamaai groot sementblok vasgehaak. Hy sou dit nooit self losgekry het nie. Die Franse is toe sommer gatvol en vaar weg. Hulle gaan ander heenkome soek. 

Die duiker
Bure se anker word oor ons s'n  oorgesit

Never a dull moment en seil is nie vir sussies nie!


Poros. Deinserige Donderdag.



12 Mei 2016. Donderdag.

Korfos tot Poros

Alles is dof. Alles is dof en deinserig. Die mis wys met mistroostige dowwe vingers van die berge na die see. Die son sukkel-sukkel sonder sukses om deur die wolkkombers te breek om die mis te verslind tot niks. En ons vaar maar net, sonder sien. Vorentoe, altyd vorentoe.

Alles is dof

Die water is rimpelloos-glad. Dolfyne swem in stadige aksie in die see. Sierlik, maar net effens uit die water. Skaam en skugter. Ons is deel van ’n groter geheel van ’n inmekaar ingevlegte werklikheid. En ons vaar, met die wonder van sien. Vorentoe, altyd vorentoe.

Pragtige Poros lê doodsbleek in die baai. Die wolke maak hom grys en grou en oud, sonder kleur en fleur amper asof hy stom is, sonder sê of stem.

Poros

Ons kry ’n plek langs die kaai en na vele geredewawel, is ons reg vir ankergooi en Archie tru. Met nodige afstoothande en toue  en fenders, is ons vas en veilig.

Genade, maar ons bure raas. Ek dink hulle praat Russies, maar hulle praat dit baie hard en aanmekaar en dan skaterlag hulle en drink nog vodka en eet brood en drink weer vodka of iets. Dis net ’n klomp mans, sommige met hare, ander sonder hare, ander grys hare en party jonk. Daar is net ses van hulle op die jag, maar hulle klink na ’n skare.

Ons gaan stap toe maar om van die lawaai af weg te kom en ek verlang na Korfos. Die son maak so nou en dan sy verskyning en dan lyk alles fleurig en kleurvol.

Langs die kaai
Poros waterfront

Hulle voorspel suidewind vir middernag, maar toe ons gaan slaap, waai nie ’n briesie nie. Dit was seker maar die stilte voor die storm, want 23:40 begin daai Gus uit volle bors te waai. Maar en het gesien hoe het daai anker gebyt, ek weet ons is vas en veilig. Gus waai vir twee ure en gaan lê toe.

Die kaptein hoor niks, hy slaap soos ’n flippen baba.