Thursday, July 16, 2015

Nisyros Eiland. Bromponie Berty



15 Julie 2015. Woensdag.

Volgens die Griekse Mitologie het Poseidon uit woede ’n rots vanuit Kos gegooi om die reus, Polyvotis, dood te maak. So is die vulkaniese eiland, Nisyros, gevorm. Die asem en die wasem en die kreune van die reus is tot vandag nog hoorbaar in die vulkaan. Dis eintlik Polyvotis wat ons hoor blaas en lawaai.

Om 8:00 saal ons die bromponie, Berty, op en daar trek ons na die vulkaan. Ons gaan vroeg voordat die busvragte vol toeriste daar kom. Hulle kom 11:00 met met verskillende ekskursie bote. Ou Berty sukkel die bult op, maar ons kom bo-uit. Hy het eintlik nogal baie krag vir sy grootte, of eintlik kleinte. Toe ry ons weer rem-rem af na die krater. Ek hou styf vas en wys Archie op al die gate en draaie en maan hom om spoed te verminder om die baie skerp draaie. So asof hy blind is! ’n Regte back seat driver!

Berty die bromponie


Die vulkaan is Nisyros se bekendse besienswaardigheid. En die krater, Stefanos is ’n argeologiese juweel. Die geel sulfur kristalle skitter in die son. Die stoom en die gasse laat Stefanos na pure krater ruik. Die ou reus, Polyvotis laat die aarde borrel en sis en stoom. Moenie aan die stoom probeer raak nie, dit brand en daarvan kan Archie getuig. Sy hand is deur ’n vulkaan gebrand. 

Uitsig oor Stefanos Krater
Aktiewe deel van vulkaan
In die krater
Stoom
Kookpot
Swael kristalle
 

Ons bekyk die juweel en verstom ons aan die idee dat ons in ’n aktiewe vulkaan ronddrentel. Dit raak warm in die krater en mens wonder altyd of die ding nie gaan uitbars terwyl jy daar is nie. Die bord sê hoeka toegang op eie risiko! Die krater klou aan ons skoene vas en toe ons op pad is, kom Henry en John daar aan. Sally het bo gebly, want die baie strek reuke maak haar effe naar. Sy was vantevore al hier.


Sally en ek
Vulkaan landskap


Ou Berty, die bromponie staan en wag vir ons. Ek sug en sit my helmet op, spring agterop en daar trek ons. Dis nou nie die tipe motorfiets waar die pop agterop die fiets sit en haar g-string loer bo haar jean uit nie. Nee, dit die tipe fiets waar jy hoop en bid hy kom die moerse opdraende uit.

Volgende op ons lys is ’n dorpie met die naam, Nikia. Dis die gewildste dorpie in Nisyros. Dit lê hoog in die berge. Die wind waai kwaai en Berty ruk soms so saam met Gus. Gelukkig bestuur Archie met ’n ferm hand en met al my raadgewings kom ons veilig bo.
                                                                                                                           
Ons loop in die straatjies en kyk na die mooi deure en vensters van die huise. Dis weer amper soos Mykonos. Hier en daar lê ’n lui kat op ’n trap, so asof daar niks verkeerd is met Griekeland se ekonomie nie.

Nikia
Ingang


Berty neem ons na die volgende dorpie met die naam Emporeios. Die dorpie is bekend vir ’n natuurlike sauna wat ’n bewys is van die intense vulkaniese aktiwiteit op die eiland. Magtig, maar dis warm daar binne. Ek verrooi en verkool amper en dadelik is ek papnat gesweet. 

Natuurlike sauna


Die dorpie is tipies van die Griekse klein dorpies. Nou straatjies, stegies en katte. Oral kry ons die reuke van die Griekse mammas wat besig is om te kook. Ons is ongelukkig nie genooi nie en ons vat toe maar weer die pad.

Die roete na Mandraki is soms vol wind en ons moet ons sit ken om bo te bly. Ons is warm en droog en gaan drink ’n lafenis by ’n straatkafee. Ons verken weer vir Mandraki, want gisteraand was ons net vir ’n kort rukkie daar. Iemand is besig om seekat uit te droog. Dis seker Griekse biltong.

Griekse biltong


Toe is dit tyd vir die laaste skof met Berty terug huis toe. Teen die tyd is ek al gewoond aan die grassnyer geraas en is ook nie meer benoud nie. Ons kom veilig tuis na ’n interessante dag van baie opwinding.

Ons het vanaand ’n ete afspraak saam met Henry, Sally en John. Hulle het ’n kar gehuur en ons gaan almal vanaand met die karretjie na ’n klein eetplekkie in die buurdorp, Loutra. Ons almal is pragtig opgetert en reg vir die aand se kuier.

Ons eet en lag en skerts Ons eet “pork in the oven” en ander mezes. Ons drink yskoue witwyn en dit word ’n aand om te onthou saam met vriende op ’n verre eiland in Griekeland.

Archie, John, Sally and Henry


Nisyros Eiland. Paloi.



14 Julie 2015. Dinsdag.

Livadhia tot Paloi, Nisyros Eiland

Klaar geskuil en die wapad is ons woning. Ons vertrek na Paloi, 36°37.186 N, 27°10.260 O, 18 myl. Dit is op die vulkaniese eiland, Nisyros. 

St. Nikolaos kerk by Tilos


Ons vaar verby die punt van Tilos en en toe is dit Nisyros toe. Ons span ook die seile en hoop daar is plek vir ons in die baai. Ons vaar om die vlak en  daar is oorgenoeg plek in die beskutte baai en ons gooi anker, tru in, die buurman help met die toue en ons is vas en veilig. Ook net betyds, want almal het uit hulle skuilplekke uitgeklim en kom hierheen. Sommer gou word al die beskikbare plekke in die hawe vol.


Totsiens Tilos


Tot ons groot vreugde kom daar ook ’n seiljag met ’n SA-vlag ingeseil. Dit is niemand anders as Henry en Sally nie! Archie gaan help hulle met die toue. Ons soengroet. Hulle het ook ’n kuiergas, John, aan boord. Ons skut blad.

Paloi Hawe


Archie besluit ons gaan ’n bromponie huur om die eiland te besigtig. Ek probeer hom oorreed om eerder ’n quad bike te vat, maar dis kwansuis te duur. Toe moet ek maar tevrede wees om met die monstertjie met die klein wieletjies, wat lyk of hy omval, tevrede wees. Ons kry die ding dadelik. Sy naam is Berty. Die uitlener beveel aan dat ons die sonsondergang by Mandraki gaan bewonder en môre na die vulkaan gaan kyk, voordat die baie toeriste daar uitkom. Dan kan ons die gedroggie môre-aand teruggee. Archie sê dis reg en hy betaal sy €10 . Die man verduidelik waar sit wat en hoe ry mens die ding en Archie voel toe hy is reg vir die rit.

Archie sê ek moet klim, maar ek wil nie, te bang vir die ding. Ek sit my helmet op, klim op en klou aan hom vas. Ek is seker die man is kapabel en hou van die geklou! En daar trek ons Mandraki toe! Hemel, maar dit is nie lekker nie. Die ding klink soos ’n grassnyer. Ons ry aan die regterkant van die pad. Die pad is smal en dit voel of dit net wil omval. Die 6 km voel soos 60 km. Genadiglik kom ons heelhuids daar aan. 

Waterfront met Kerk van Maria van die Rots in die agtergrond
Mandraki
Swartklippie strand


Mandraki is mooi in die laatmiddagson. Ons stap daar rond tot die son amper sak, want ons wil nie in die donker terugry nie. Kyk, tussen Gus se gewaai, die groot see en die bromponie word ek as seilende sigeuner op my knieë gehou.

Die son sak

Monday, July 13, 2015

Tilos Eiland. Die twee chorios



12 Julie 2015. Sondag.

My familie by die huis het vandag ’n varkie en ’n ystervark op die spit. Ek kan net dink hoe lekker gaan hulle kuier! 

Ek en Archie gaan vandag die twee chorios besoek. ’n Chorio is klein dorpie bo-op ’n berg. Dis 9:00 en klaar warm. Gestewel en gespoor vat ons die pad. Ons stap op en op en op. En was ek vekeerd oor die eiland. Die landskappe maak voor ons oop. Daar is bome en blomme. Skoenlappers fladder rond. Dis vir my mooi. 

Op pad na Mikro Chorio


Dis ’n heerlike stap tot by Mikro Chorio. Dit is ’n gehug, ’n klein dorpie. Dit is heeltemal verlate. Van die geboue is niks meer as bouvalle nie. Dis heerlik om in die klein stegies en straatjies rond te dwaal. In die 15de eeu was Mikro Chorio die middelpunt van die eiland, maar na die Tweede Wêreldoorlog het almal die dorp verlaat. Ek weet nie eintlik hoekom nie. Sal oplees. Nou is dit net ’n herinnering van die glorieryke verlede. Die gehuggie lyk verlore en is verlate.

Mikro Chorio
Maalklip
Klein kerkie van buite ...
... en van binne
Groot kerk
Venster en pot


Ons besluit om na die Megalo Chorio, die groot dorp toe te stap. Dis vêr, so 5 km. Ons voel sterk genoeg en daar trek ons. Dis warm, dis baie warm. Ons stap die eerste ruk op ’n stapperspad en later op die teerpad. Eindelik kom ons daar aan.  


Stapperspad
Megalo Chorio in die vêrte


Ons stop by ’n restaurant en bestel bier en koeldrank. Dis heerlik koud en les ons dors.Ons het krag nodig om die plek te verken. Ons bekyk die spyskaart en besluit op baba bok met suurlemoensous. Dit was heerlik.


Baba bok


Toe pak ons die Megalo Chorio aan. Dit is geleë op die heuwel van Agios Stephanos. Op die top van die heuwel is die antieke kasteel van die ridders van die orde van Saint John. Tot die begin van die 18 de eeu het die hele bevolking van Tilos binne die mure van Megalo Chorio gebly.

Dis pragtig. Amper soos ’n klein Mykanos, amper mooier. Ons loop tussen die wit. Verby die een kerk met klippies in die binneplein en die blou deure en vensters. Ag, maar dis mooi. Ons stap weer op op op, boontoe na die volgende kerk. Daar onder lê die Aegean See met sy perdjies. Weer die wit kerk met die klippies. Ons kan nog lank in die plek ronddwaal, maar ons moet haas na die bus wat ons ook net-net haal.

Smal stegie
Kerk op die heuwel
Spoelklippies plaveisel
Trappe


Ek trek my woorde terug. Tilos is ’n juweel. Wat ’n heerlike plek om te skuil teen Gus. Ons gaan môre nog hier bly om seker te maak dat Gus homself uitwoed.