14 Julie 2015. Dinsdag.
 |
Livadhia tot Paloi, Nisyros Eiland |
Klaar geskuil en die wapad is ons
woning. Ons vertrek na Paloi, 36°37.186 N, 27°10.260 O, 18 myl. Dit is op die
vulkaniese eiland, Nisyros.
 |
St. Nikolaos kerk by Tilos |
Ons vaar verby die punt van Tilos
en en toe is dit Nisyros toe. Ons span ook die seile en hoop daar is plek vir
ons in die baai. Ons vaar om die vlak en
daar is oorgenoeg plek in die beskutte baai en ons gooi anker, tru in,
die buurman help met die toue en ons is vas en veilig. Ook net betyds, want
almal het uit hulle skuilplekke uitgeklim en kom hierheen. Sommer gou word al
die beskikbare plekke in die hawe vol.
 |
Totsiens Tilos |
Tot ons groot vreugde kom daar
ook ’n seiljag met ’n SA-vlag ingeseil. Dit is niemand anders as Henry en Sally
nie! Archie gaan help hulle met die toue. Ons soengroet. Hulle het ook ’n
kuiergas, John, aan boord. Ons skut blad.
 |
Paloi Hawe |
Archie besluit ons gaan ’n
bromponie huur om die eiland te besigtig. Ek probeer hom oorreed om eerder ’n
quad bike te vat, maar dis kwansuis te duur. Toe moet ek maar tevrede wees om
met die monstertjie met die klein wieletjies, wat lyk of hy omval, tevrede
wees. Ons kry die ding dadelik. Sy naam is Berty. Die uitlener beveel aan dat
ons die sonsondergang by Mandraki gaan bewonder en môre na die vulkaan gaan
kyk, voordat die baie toeriste daar uitkom. Dan kan ons die gedroggie môre-aand
teruggee. Archie sê dis reg en hy betaal sy €10 . Die man verduidelik waar sit
wat en hoe ry mens die ding en Archie voel toe hy is reg vir die rit.
Archie sê ek moet klim, maar ek wil
nie, te bang vir die ding. Ek sit my helmet op, klim op en klou aan hom vas. Ek
is seker die man is kapabel en hou van die geklou! En daar trek ons Mandraki
toe! Hemel, maar dit is nie lekker nie. Die ding klink soos ’n grassnyer. Ons
ry aan die regterkant van die pad. Die pad is smal en dit voel of dit net wil
omval. Die 6 km voel soos 60 km. Genadiglik kom ons heelhuids daar aan.
 |
Waterfront met Kerk van Maria van die Rots in die agtergrond |
 |
Mandraki |
 |
Swartklippie strand |
Mandraki is mooi in die
laatmiddagson. Ons stap daar rond tot die son amper sak, want ons wil nie in
die donker terugry nie. Kyk, tussen Gus se gewaai, die groot see en die
bromponie word ek as seilende sigeuner op my knieë gehou.
 |
Die son sak |
No comments:
Post a Comment